AFSKEID VAN ’N KAMERAAD
Verdriet is ’n emosie wat baie diere duidelik en ondubbelsinnig wys, skryf Marc Bekoff in sy blog op psychologytoday.com. Dié Amerikaanse emeritus-professor in ekologie en evolusionêre biologie het sowat 1 000 artikels (populêr en wetenskaplik) en 30 boeke geskryf. Diere toon dikwels diep hartseer oor die verlies of afwesigheid van ’n vriend of geliefde.
Seeleeu-ma’s wat sien hoe hul kleintjies deur ’n moordwalvis gevreet word, skree hartverskeurend. Dolfyne is al waargeneem terwyl hulle worstel om ’n dooie kleintjie te red en daarna rou. Van die beste voorbeelde is die rou-rituele van
olifante in die wildernis. Jong olifantjies wat sien hoe hul ma afgemaai word, skrik dikwels later skreeuend wakker, volgens Bekoff. Maar voëls? Bekoff beskryf ’n uitsonderlike ervaring. “Jare gelede het ek ’n ekster*-begrafnis dopgehou. Só noem ek dit. Ek en ’n vriend het in die middel van die straat op ’n dooie ekster afgekom. Hier is wat ons gesien het: ’n Ekster het die dooie een genader en saggies daaraan gepik, nes ’n olifant die karkas van ’n ander een sou aanraak, en teruggestaan. Nog ’n ekster het dieselfde gedoen. Toe het een weggevlieg, met ’n grassie teruggekom en dit op die liggaam laat val. ’n Tweede een het dit ook gedoen. Die groepie het ’n paar sekondes stilgestaan en daarna weggevlieg. Agterna het ek en my vriend bespreek hoe dit gelyk het asof hulle hul koppe net so effens vorentoe knik voor hulle wegvlieg. Ek het talle stories ontvang oor dié soort rituele, hoofsaaklik by kraaie, rawe, eksters en een oor spreeus. Ons het vir seker meer data nodig oor hoe verskillende diere rou oor die verlies van vriende en familie, maar daar is oorweldigende bewyse dat individue van baie verskillende spesies dit doen.” * Eksters (magpies) is deel van die kraaifamilie, Corvidae. Dit sluit die swarten-wit Europese ekster in, wat algemeen beskou word as van die wêreld se slimste voëlspesies en een van die enigstes (buiten soogdiere) wat hulself in ’n spieël kan herken. Bron: af.wikipedia.org