KARIN SE STORIE
“Moenie vir my sê jy is ’n sucker vir punishment nie,” was my destydse ginekoloog se reaksie toe ek sê ek wil natuurlik kraam.
Ek het die hipnogeboorte-kursus in 2006 vir my hipnoterapie-praktyk gedoen. Kort daarna het ek ons eersteling verwag. Philip Axel Steyn was nie haastig om sy opwagting te maak nie en ek het op 42 weke ’n induksie gehad. Ek was effens teleurgesteld, want ek wou hê my baba moet sélf besluit wanneer hy reg is om gebore te word.
Philip is op ’n magiese reëndag gebore. Sesuur die oggend was my kontraksies (surges in hipnogeboorte-taal) so elke vyf tot tien minute uitmekaar. Ek is reeds die vorige aand in die kliniek opgeneem en ons het ontbyt bestel, ’n entjie gaan stap, na musiek geluister en tee gedrink. Kerse aangesteek en aromaterapie-olies gebrand.
Die kontraksies was nooit ongemaklik nie – ek was aanvanklik amper onbewus ek is in kraam. Ek het telkens net my oë toegemaak en op my asemhaling gefokus. Teen halftwaalf het die vroedvrou my voorberei dat my baba so teen sesuur die aand gebore sou word. Toe nie. Kort daarna het my water gebreek en ná ’n besoek aan die badkamer kon ek nie self op die bed klim nie. Ek het langsaan gekniel – die kontraksies was na aan mekaar en nogal sterk.
Dis toe dat ek ’n verandering binne myself ervaar – terwyl ek vroeër golwe gevisualiseer het, het ek nou die golf geword. Ek was nie meer in my kop nie, maar in my lyf. Ek het my lyf vertrou om net te doen, my aan haar natuurlike geboortewysheid oorgegee.
My liggaam het ritmies saam met die kontraksies beweeg. Ek moes meer fokus om ontspanne te wees. Die vroedvrou het opgemerk dit klink of ek drukgeluide maak – ek het dit nie besef nie, ek het dit eers heelwat later die dag verwag. Reeds voor twaalfuur was ek in die waterbad, besig om my baba afwaarts met behulp van my asemhaling te druk. Die kontraksies was intens (met ’n chemiese induksie is dit sterker), maar heeltemal hanteerbaar. Ek onthou ek het gedink ek is besig om instinktief op te tree – die geluide wat ek gemaak het, het soos walvisse in die oseaan geklink. Net my man, Phildo, my ma, Hannetjie, en die vroedvrou was by my. Dit was nie nodig om my oor enigiemand te bekommer, my voor hulle te skaam nie, ek het net gedoen wat natuurlik kom. My baba is agtien minute oor een gebore. Die geboortefase was bietjie meer as ’n uur, maar ek was nie daarvan bewus nie – ek het dit een kontraksie op ’n slag hanteer. Ek onthou ek het tussendeur die kontraksies my kop op my man se arms laat rus, maar my fokus was regdeur om te ontspan. Hy was ’n wonderlike geboortemaat en het op die regte tye sagte drukmassering toegepas en het kalmerend en bemoedigend gepraat. Hy het my met nat waslappe afgekoel en hope vloeistowwe gegee.
Nog twee geboortes later kan ek eerlikwaar sê Philip s’n was die moeilikste. Hipnogeboorte-tegnieke het my geleer om my lyf te vertrou. Toe ek nie in kraam wou gaan nie, het ek bekommerd geraak. Ek was onseker wat om te verwag. Met Simon (10) en Daniël (7) het ek geweet ek kán, ek is reeds deur ’n moeiliker proses. Albei is op 42 weke, net voor die induksie sou plaasvind, natuurlik gebore. My seuns was gelukkige, rustige babas wat maklik begin drink het.”
Bykomende bron: Baba & Kleuter