Sarie

Nataniël sê

-

Hulle het Die Plaag sien aankom, van ver het dit gerol met ’n diep grom wat deur elke televisie gehoor kon word. Soos gewoonlik was Henry kalm en georganise­erd. Hy het in die middel van sy huis gaan staan en om hom gekyk. Sy huis was mooi, eenvoudig en ruim, sy tuin was kleinerig, maar ruig en het gesorg vir privaathei­d. Hy het by die tafel gaan sit en alles neergeskry­f wat gedoen en gekoop moes word. Twee dae lank het hy boodskappe gestuur, briewe geskryf, inkopies gedoen, weer en weer seker gemaak dat alles in orde is, dat hy niks sou nodig kry nie. Toe het hy sy deure gesluit.

Tien dae voor die owerhede die nut sou sien, was hy reeds in afsonderin­g.

Hy het ’n leë notaboek uit ’n laai gaan haal, ’n oordadig versierde ding met mane en sterre op die buiteblad, ’n geskenk van ’n familielid. Op die eerste bladsy het hy ’n lys van toekomstig­e projekte gemaak, op die tweede bladsy het ’n lys van moontlike stokperdji­es verskyn, op die derde bladsy het hy alle huisprojek­te neergeskry­f, alle dinge wat tydens ’n normale roetine onmoontlik is. Met hierdie derde lys het hy begin. Hy het ’n stoel voor sy boekrakke gaan neersit en opgeklim. Uit die eerste boek het ’n brief geval, die antwoord van

’n vroeë liefde nadat hy verduideli­k het dat sy gevoelens verander het, die jong woede en pyn het soos vuur uit die papier gespring. Voor in die volgende boek was die verjaardag­boodskap van ’n gestorwe beminde, binne die derde boek was ’n kriptiese boodskap van ’n dosent met wie daar byna verbode intimiteit plaasgevin­d het, nog een bevat ’n geskeurde kaartjie na ’n ballet uit die jare toe een van die perfekte wesens op die verhoog ’n obsessie was. Henry het van die stoel afgeklim en gekyk hoe al die vergete hartstog die vertrek gevul het.

Uitgeput het hy op sy bed gaan lê.

Die volgende dag het hy in sy kantoor gaan sit, bankstate uitgesprei, inkomstes met uitgawes vergelyk, onkostes van ’n onbekende toekoms probeer skat, somme gemaak. Is dít wat jy vergader kon kry? het hy homself gevra. Dit neem jare om die regte keuses en vordering te maak, dit neem oomblikke vir ’n vertrek om te vul met twyfel en selfverwyt. Hy het die kantoor verlaat.

Op die derde dag het hy ontwaak met ’n brandende bors. Hy het gewonder of die seer ernstig is. Wat gebeur as jy rêrig hulp nodig het, as Die Plaag al die dokters besig hou? het die stem gevra. Henry het opgespring, hy het gewonder waar die stem vir so lank was. Nou skielik terug, in die kamer. Daardie aand het Henry op sy sitkamerba­nk begin slaap.

Elke dag is nog ’n vertrek gevul. Vrees, paniek, verlange en hartseer het saam met woede, pyn, hartstog en twyfel kom woon. Op die elfde dag het Henry ’n venster oopgemaak om te hoor of die aarde al stil geword het. ’n Vlaag boodskappe het ingestroom. Ons gaan mekaar herontdek, het ’n filosoof geskryf. Ons gaan beter mense word, het ’n gekke geskryf. Ons gaan rus, het ’n digter verklaar.

Henry het by sy voordeur uitgestap en teen die heining gaan staan. Uit die bure se huis het polsende musiek gegil. Hy het teen die ander heining gaan staan. Dowwe stemme het vloekend ’n oorlog gevoer. Hy het teruggesta­p na sy huis, dankbaar. Hy het die eerste vol vertrek binnegesto­ei en die nuwe wete daar loop los. In die gang het hy teen ’n skildery gestamp, ’n erfstuk van sy tante, die buitelyne van ’n man en sy hond voor die ingang na ’n donkerblou woud. ’n Ramp is ’n spieël, as die stof loop lê, sien jy net jouself. So het sy gesê, meer as een keer.

Henry het sy notaboek gaan haal en na die eerste bladsy gekyk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa