Vrou-alleen na 26 lande
Met ’n pasverworwe meestersgraad in landbou-ekonomie pak sy haar rugsak en besoek 26 lande binne agt maande. Carina Troost van die Paarl vertel wat sy geleer het . . .
KFOTO’S VERSKAF DEUR CARINA TROOST ersfees 2018 gee haar broer, André, vir haar ’n swart Moleskinenotaboekie. Voorin skryf hy: “Daar is ’n lig wat ons almal op hierdie planeet moet volg en ek glo vrede wag vir die wat aanhou om daardie lig te volg . . . hierdie boekie is vir jou om die lig vas te vang.” Sy het dié dagjoernaal (en ’n hele paar ander) op haar agt maande lange soloreis deur 26 lande volgeskryf . . .
Die 24-jarige Carina Troost van die Paarl glo sy het dié “lig” gevind – “in wegslaan-oomblikke” waar sy besef het hoe baie sy kan leer, hoe mense verskil, hoe ongelooflik die natuur is en hoe sy alles moet respekteer en waardeer. “Hoe verduidelik jy vir iemand die wonder van ’n lugballonrit in Kappadosië waar jy afkyk op ’n unieke Turkse landskap?” Sy is ryper en kyk holisties na die wêreld, dankbaar vir haar lewe in Suid-Afrika, want hier is baie dinge om op trots te wees.
Ná haar meestersgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (haar tesis is in 2019 deur die Landbou-ekonomievereniging van Suid-Afrika as die beste in die land aangewys) het haar pa, Pieter, ’n dokter, haar aangemoedig om die “universiteit van die lewe” in te vaar. Haar ma, Narine, wat die gastehuis op hul plaas bestuur, het die plan gesteun.
Carina se reis was ’n projek. Sy moes deeglik navorsing doen en het blogs van soloreisigers verslind en Lonely Planetgidsboeke behoorlik bestudeer. As kind het sy saam met haar ouers na ongewone bestemmings soos Suid-Amerika en Egipte gereis. In Suid-Afrika kampeer hulle graag en pak saam staptoeres aan. Die hele gesin het ook elk ’n skubaduiklisensie en is dol op vakansies in Mosambiek.
Dié slag sou sy die reis alleen aanpak, iets wat haar heeltemal uit haar gemaksone sou dwing.
Waar ons in ’n koffietuin in Kaapstad gesels, met Carina elegant in haar klassieke wit slooprokkie, pêreloorbelletjies en natuurlike grimering, kan ek my kwalik indink dat sy met ’n rugsak reis . . . Tans soek sy ywerig werk.
“’n Mens is geneig om in boksies te leef. Wanneer jy reis, moet jy jou oopstel vir ander maniere van dink en doen. Ek het geleer ek kan koelkop bly as dinge verkeerd loop. Jy hoor hoe ander gesels oor politiek, jy eet hul kos en hoor hul taal. Ek het ook al wat ’n kunsmuseum, galery, katedraal, kerk, park en monument was, besoek. Jy besef alle lande het probleme en kry meer waardering vir jou eie land.”
Sy moes vinnig aanpas met hobbels in haar pad soos taalprobleme, af en toe vuil kommunale badkamers, en “jeughostelle” met stapelbeddens waar daar, veral in Europa, ook bejaardes tuisgaan. “Party kamermaats is slordig, soms kom hulle laatnag dronk die kamers binne. Ander het nagmerries, soos die ou oom in die jeughostel in Krakow, en hou jou wakker.” >