Dieremaniere: Dit verras en verbly
Tydens die rampspoedige Australiese brande onlangs was ’n springerspanjoel wat koalas uitsnuffel, ’n onverwagte held. Ook die skaam buidelmuis wat huisvesting aan ander velddiertjies moes verskaf, het sosiale media aan die gons gehad. Diere deel die ondermaanse met ons. En is tot soveel meer in staat as waarvoor hulle erkenning kry WELKOM IN MY TONNEL
Die Australiese buidelmuis (wombat) het as onverwagte held na vore getree tydens die vernietigende Australiese bosbrande ’n paar maande gelede. Meer as ’n miljard diere is in die brande dood. Stories van die welwillende buidelmuis wat ander diere doelbewus na hul vuurbestande gate begelei het, is wyd op sosiale media gedeel. Dalk omdat ons behoefte aan goeie nuus net só groot was ná die afgryslikhede van die brande. Maar helaas nie heeltemal waar nie. Noem hulle eerder toevallige helde, omdat hul blyplekke tydens ’n bosbrand ’n veilige hawe aan ander wilde diere bied. Dis ’n netwerk van tonnels, groot en kompleks en beskut teen die bogrondse omgewing. En bekend daarvoor dat klein soogdiere tydens ’n inferno daar skuiling soek. ’n Studie het byvoorbeeld gate met sowat 90 m lange tonnels en 28 ingange gevind. Hoewel die vlugtende velddiertjies nou nie deur die skaam buidelmuis binnegenooi word nie, verduur hulle darem die vreemdelinge se teenwoordigheid in hul huis.
* Een van die hardwerkende helde van die bosbrande was Taylor, ’n Engelse springerspanjoel. Wanneer sy die opdrag gekry het: “Koala, find!” het sy die afgebrande boslandskap aangedurf en die beseerde buideldier uitgesnuffel. Sy gaan staan onder die boom waar hy is en kyk op. (Dáár’s hy.) En word dan beloon met ’n happie of tennisbal. Bronne: theconversation.com, factcheck.afp.com