Die Groot C: Ons ‘oorlog’ Die snertstories
’n Oorlog het uitgebreek: tussen ’n mikroskopies klein virus en die mensdom. Regerings is aan’t skarrel om die effek van die coronapandemie hok te slaan terwyl gesondheidstelsels wankel, markte tuimel en die sterftesyfer styg. Hoe lank voor die beker by ons verbygaan? As daar een ding is wat ons die laaste weke geleer het, is dit dat dinge in ’n oogwink kan verander
’nMikroskopies klein virus waarvan die oorsprong nog in geheimsinnigheid gehul is, het die planeet op sy kop gekeer. Selfs die Olimpiese Spele moes die knie buig. Die verlamming van wêreldekonomieë kan verwoestend en verreikend wees.
Talle lande, ook Suid-Afrika, het ’n staat van inperking ingestel. Dit sal egter nie die pandemie uitwis nie. Hoe lank ons ons tuis tussen berge toiletpapier, handwasmiddels en blikkieskos teen ons medemens sal moet verskans, weet ons nie. Wat ons wel die afgelope paar weke geleer het, is dat dinge binne ’n oogwink kan verander.
Teen druktyd het meer mense in Amerika die virus onder lede gehad as in China en Italië, wat voorheen die middelpunt was. Meer as 2 miljoen mense wêreldwyd het die virus opgedoen en die sterftesyfer het 119 000 verbygesteek. In Suid-Afrika het 27 mense al gesterf.
Die vraag is: Hoe lank? “Dit gaan nie spoedig wees nie – ’n kwessie van maande eerder as weke,” volgens viroloë in ’n artikel in The Washington Post (washingtonpost.com). Dit het China twee maande geneem – en ’n maand ná die erns van die situasie besef is – vir die siekte om sy piek te bereik. En Suid-Korea sowat ’n halwe maand. Maar so baie oor die virus en hoe dit optree, is nog onbekend. Dit hang ook af hoe lank ons die begeerte om skouer met ander mense te skuur gaan onderdruk. Brittanje het juis aanvanklik gehuiwer om ’n verbod op groot byeenkomste te plaas, uit vrees dat mense vinnig daarvoor gaan moeg raak. Uiteindelik moes ook die Britte hul deure sluit.
Daar word geskat tussen 20 miljoen en 50 miljoen mense het in die Groot Griep-pandemie van 1918-1919 gesterf. >