Volwasse, maar bly nog tuis: Kan dit werk?
Watter reëls geld as jou volwasse kind nog in die huis woon en nie kan bekostig om uit te trek nie – en wat beteken dit vir jul verhouding?
Om ’n tiener in die huis te hê is nie altyd maklik nie – soos baie ouers sal getuig. Jou kind wat eens op ’n tyd die reëls gehoorsaam het, begin sy eie voete vind en julle stamp kop in die proses. Maar sodra daardie jare verby is, het baie ouers vandag ’n nuwe uitdaging wat vorige generasies nie moes uitpluis nie: ’n jong volwassene wat steeds tuis woon.
Old Mutual se Savings and Investment Monitor-opname in 2018 het gewys in Suid-Afrika woon een uit twee jong volwassenes tussen
18 en 34 jaar vandag by hul ouers. Dis ’n wêreldwye fenomeen – in die VSA is dié syfer 33% (Pew-navorsingsentrum, 2016) en in die Verenigde Koninkryk 63% (Family Resources Survey, 2016).
Baie van dié jongmense woon nog tuis omdat hulle nie werk kry nie. Maar, sê dr. Andri Burger, ’n sielkundige van Synergy Psychological Services (met takke in Johannesburg en Pretoria), dit is nie net die swak ekonomie se skuld nie. “Die lewe is eenvoudig baie duurder vandag en dinge wat voorheen as luukshede gesien is – slimfone, rekenaars, internettoegang – is nie meer opsioneel as jy wil byhou met jou portuurgroep en ’n werk wil kry nie. Jongmense vandag ervaar baie meer druk.”
Lynette Nicholson, senior navorsingsbestuurder by Old Mutual, sê vandag se jong volwassenes het ook ander prioriteite as vorige generasies. “Die lewenskoste en eiendomspryse het oor die jare aansienlik gestyg en dit het beslis ’n invloed, maar ons opname het ook gewys dié generasie heg waarde aan ervarings, eerder as besittings. Ander het uitgetrek, maar weer na hul ouerhuis teruggetrek omdat hulle eensaam was, of omdat hulle nie meer hul eie plek kon bekostig nie.”
UITDAGINGS
Tania*, van Pretoria, se jongste dogter (22) werk gedurende die week in ’n skoonheidswinkel en bied oor naweke jogaklasse aan, maar kan steeds nie bekostig om uit die huis te trek nie. “Ek weet presies hoeveel sy verdien en om ’n woonstel te huur sal amper haar hele salaris opvreet. Sy spaar om binnekort ’n motor te koop en met daardie paaiement gaan sy dit nóg minder kan bekostig. Ek kry vandag se jongmense jammer, want die lewe is regtig baie duurder.”
Maar totdat haar dogter ’n motor koop, ry Tania haar rond – ook werk toe – en dis ’n groot oorsaak van spanning in hul verhouding. “Ek doen dit met liefde, maar sy verwag dit ook van my soos toe sy ’n tiener was. As sy oor naweke wil uitgaan, moet ek haar aanry en saans gaan oplaai. Ons sal afspreek ek kry haar ’n sekere tyd, maar dan wil sy eers almal groet wanneer ek daar aankom en ek moet in die kar wag. Dit maak my kwaad, want dis ’n opoffering om jou kind ná jou eie slaaptyd rond te ry. En sy ruk haar op, want sy wou nog kuier.”
Dis egter nie net ouers wat sukkel in só ’n huishouding nie. Johan* (24), van Johannesburg, het einde verlede jaar teruggetrek huis toe nadat hy twee jaar lank as Engels-onderwyser in China en Thailand gewerk het. “Ek het voor dit ook in die huis gebly terwyl ek filmproduksie studeer het, maar dis baie anders noudat ek daardie vryheid oorsee geproe het. Ek het my eie roetine gehad en my eie ding gedoen, maar moes weer aanpas by hoe my ouers dinge doen. En jy moet, want dis hul huis en hulle is in beheer. My ouers is nie streng met my nie, maar jou besluite is net nie meer jou eie nie. Ons moet almal byvoorbeeld soggens seweuur om die ontbyttafel wees – al is daar geen rede vir my om daardie tyd op te staan nie. En as ek later wil slaap, is daar vuil kyke.”
DIE REDES
Die probleme in Tania en Johan se huishoudings is voorbeelde van die algemeenste uitdaging wanneer jong volwassenes nog by hul ouers bly.
Dié uitdaging is die veranderende rolle in die gesin, sê Shannon
Schutte, ’n leefstylafrigter van Johannesburg. “In so ’n huishouding kan ouers nie meer soos voorheen die gesagsfiguur wees nie, terwyl kinders meer verantwoordelikheid moet begin aanvaar. En dis tydens dié rolverandering wanneer probleme opduik. As volwasse kinders aanhou om soos kinders te leef en nie in die huishouding help nie, word ouers gewoonlik gou, en met rede, siek en sat daarvoor. Maar as die kind steeds soos ’n kind hanteer word en nie vryheid gegun word nie, sal hy of sy gefrustreerd voel. Die gesinsdinamika moet verander van ’n ouer-kindverhouding na meer van ’n vennootskap in die familiestruktuur.”
Dit verg werk van almal in die gesin, sê dr. Annemarike de Beer, ook van Synergy Psychological Services. “Dis gewoonlik vir ouers én kinders moeilik om hul veranderende verhouding te bestuur omdat almal gewoond is aan die reëls en verwagtinge wat jare lank gegeld het toe die kinders jonger was.”
Finansies is nog ’n groot uitdaging, sê sy. “Kinders wat aanhoudend deur hul ouers gehelp word, leer nie belangrike lewenslesse soos om hul eie oordeel en besluite te vertrou nie. Aan die ander >