Sarie

Boekuittre­ksel: ‘Woensdagaa­nd’ uit Somtotaal deur Anchien Troskie

- UIT SOMTOTAAL DEUR ANCHIEN TROSKIE

Toe haar kinders uit die hospitaalk­amer stap, wonder Ester hoekom sy dit juis ná die droom gedoen het. Hoekom nou, so na aan haar vyftigste verjaardag? ’n Ouderdom wat sy nie geglo het sy sal haal nie. Haar familie dra ’n vloek. Dit is in haar gene, ingebed in haar DNS, om voor vyftig te sterf, hetsy aan natuurlike of onnatuurli­ke oorsake. Ja-ja, sy is goed bewus daarvan dat ’n Christen nie aan vloeke en dies meer glo nie, maar jimmel, ’n mens kan ook nie teen bewyse stry nie. Haar familie sterf deur die bank voor hulle vyftigste jaar.

Menige nag het sy langs haar bed gekniel en haar Skepper gesmeek dat sy, ter wille van haar kinders en hulle nageslagte, hierdie vloek kan verbreek. Want dit is wragtig nie die soort nalatenska­p wat sy vir hulle in gedagte het nie. Sowat ’n maand gelede het sy begin vermoed dat sy wel die een sal wees wat haar vyftigste jaar op aarde kan vier. Dat sy haar selfdoodpl­anne eers ná daardie mylpaal in werking kan stel.

Maar toe droom sy daardie droom.

Goed, in alle eerlikheid was dit darem nie haar hele familie wat voor vyftig dood is nie. Haar oupa het oud geword, dalk sewentig of so iets. Haar ouma was vyf en tagtig toe sy dood is. Dit is nou die ouma en oupa aan haar ma se kant van die familie. Haar pa se ouers is wel voor hulle vyftigste dood.

“Dis al die vetterige kos waaraan julle Marees so smul,” het haar ma haar pa ingelig wanneer hy daaroor gepraat het.

Siestog, haar ma het haar bes gedoen om hom sover te kry om net een keer ’n dag rooivleis te eet. Sonder sukses. Hy het eenvoudig oor haar kop gegaan en vir Nomsa gesê wat om te maak. Lewer en niertjies en eiers saam met poetoepap vir ontbyt. Maalvleis, wors of ’n tjoppie saam met ’n broodjie vir middagete. Kookvleis, rys, aartappels, pampoen en groente vir aandete. Tussenin beskuit en koekies. Hoender was selde op die spyskaart en ook net indien dit saam met rooivleis bedien kon word. Ester vermoed dat haar pa hoender as ’n soort groente beskou het. Vis was daar nooit. Dié feit het sy eers jare later as vreemd ervaar. Dassiepoor­t is langs die Indiese Oseaan geleë, dus was seekos volop. En haar pa was tog lief vir hengel. Hy het selfs ’n skuitjie gehad waarmee hy soms, wanneer die wind en weer dit toegelaat het, verby die agterste branders gaan lê het. Wanneer die wind sleg was, en dit is eerder die norm as

’n uitsonderi­ng in hierdie deel van die wêreld, het hy vanaf die rotse lyn natgemaak. Soms het hy teruggekom met vis – kabeljou, steenbras en so. Soms het haar ma kerrievis daarvan gemaak en dié sou haar pa wel eet. As snoepgoed op ’n dik sny gebotterde plaasbrood. Soos biltong. Die meeste van sy vangs het hy egter aan die werkers, vriende en familie uitgedeel. Kon nooit die smaak van vis leer geniet nie.

Haar ma het maar net kop geskud oor die eienaardig­heid en heerlik saam gesmul aan al die vetterige kos. Siestog, hy is dalk ’n paar dekades te vroeg gebore, hy sou nou goed kon vaar met die banting-leefstyl. Of dalk nie, al daai stysel wat hy sou moes uitsny.

Of.

Wat as dit nie haar familie is wat die vloek dra nie, maar Dassiepoor­t? Haar ma. Haar pa. Nomsa. Wouter. Almal voor hulle vyftigste jaar dood. En dit is net dié wat dit reggekry het om tot volwassenh­eid te groei.

Nee, dit verklaar nie Wouter se dood nie. Daardie tyd het hulle op Paardenkra­al gewoon.

En Wouter is nie ’n Maree nie.

Is dit sy? Is sy die draer van die vloek?

Ester skud haar kop. Die delwery maak haar net deurmekaar. Sy kan nie die oorsaak van die vroeë sterftesyf­er wees nie – daardie skuld gaan sy nie ook dra nie.

In elk geval.

Dassiepoor­t. Familiepla­as, geslagte en geslagte al in die Marees se besit. Skaapplaas. Beesplaas. Spogplaas. Aangegee van pa na oudste seun oor die geslagte heen.

Dogters het nie geërf nie.

Deur die jare was daar slegs twee uitsonderi­ngs:

1. Ester se pa, wat as tweede oudste geërf het omdat sy ouer broer reeds van ’n jong ouderdom aangedui het dat hy nie in boerdery belangstel nie. (Hy was ’n suksesvoll­e ekonoom en gereelde gas op RSG șwat destyds onder ’n ander naam uitgesaai hetț se finansiële programme voor sy ontydige afsterwe.)

2. En Ester.

Wanneer sy aan haar vroeë kinderdae terugdink, en dit gebeur meer en meer soos sy ouer word, onthou sy lig en liefde en lag in Dassiepoor­t se opstal. Sy onthou die toegeboude stoep wat haar ma omskep het in twee slaapkamer­s aan weerskante en ’n lang, nou leefvertre­k in die middel. Sy onthou die lig wat deur die vensters gestroom en die leefvertre­k in die somermaand­e byna onuithoudb­aar gemaak het. Sy onthou

bord- en kaartspele­tjies, Hansie en Sipho en Nonthando se gejil, en natuurlik hare ook. Sy onthou die suurderige reuk van rysende brooddeeg, die soet reuk van pruttende konfyt op die Aga, die reuk van varsgebakt­e koekies. Nomsa se hande het in ’n kombuis vir niks verkeerd gestaan nie. Haar ma, daarteenoo­r, kon skaars ’n eier suksesvol bak.

“Ek het in elk geval nie met jou getrou vir jou uitstekend­e kookkuns nie,” het haar pa gespot en haar ma nader getrek.

“Net vir my looks, of hoe?” sou haar ma lag. Magdaleen Maree (née Ferreira) het baie gelag daardie tyd.

Sy het ’n kunstenaar­siel gehad. ’n Fyn vrou wat nie vir die plaas gemaak is nie, maar wat haar bes gedoen het om aan te pas. Haar dae het sy in die veld of op die duine deurgebrin­g, waar sy plat op haar maag voor ’n plantjie gelê het sodat sy dit met presisie kon skets. Of onder ’n boom, haar nek lank agteroor gebuig, sodat sy ’n voëltjie op papier kon verewig.

Ester onthou die reuk van houtskool en hoe haar ma girtsgarts ’n paar strepe op ’n stuk wit papier maak sodat ’n voël daar vorm aanneem.

Sy onthou die reuk van beesmis, die skape se geblêr, die olierighei­d aan haar hande wanneer sy skeertyd aan die wol vat.

Die enigste hinderlikh­eid gedurende haar vroeë kinderjare was die alomteenwo­ordige vlieë, wat met grilpootji­es oor haar arms en bene kom loop het. Haar ma se alewige stryd teen dié pes. Smouse het opgedaag met die nuutste, dodelikste gif en haar ma het gekoop en gespuit en geverf en geplak. Vir ’n paar dae het hulle hulle dan verbeel dat die plaag ligter was. Wensdenker­y. Totdat haar ma op ’n dag haar hande in die lug gegooi en verklaar het: “Plase het vlieë, niks wat ons daaraan kan doen nie.” En maar weer die Doom en die vlieëplak nader gehark het.

Maar soos dit maar gaan, moes die lig die een of ander tyd voor die donkerte wyk en sou beide Ester en haar ma wens dat vlieë nog die enigste verpesting was.

Dit maak self vir haar nie sin wat nou gebeur het nie. Hoe is dit moontlik dat iemand God kan smeek om haar vyftig jaar oud te laat word, al is dit net ter wille van haar kinders, en dan probeer sy haar eie lewe so kort voor daardie mylpaal neem? Dalk lê die antwoord in die droom opgesluit. In die eenvoud daarvan? In die onskuld. Die verlange. Na wat was. Na wat kon wees.

Maar hoekom nou, ná al die jare? Ester draai op haar regtersy, haar blik op die donkerte anderkant die venster. Die antwoord is nie kompleks nie, klaar sy dit vir haarself uit. Die antwoord op enige vraag is selde kompleks. Die droom kon die sneller gewees het, maar sy droom tog al jare daarvan om haarself uit die sirkel van die lewe te neem.

Omdat sy moeg is om die skaduwee wat aan haar voete vas is, te probeer losmaak. Dit is die eenvoudige antwoord.

Die eenvoudige waarheid. Sy is moeg vir die lewe wat sy vir haarself geskep het. Die voorgee. Die skuld. Die gee, gee, gee om dit te probeer verminder. Sy is moeg om soveel van haarself te moet opoffer. Moeg om haarself dié dinge in die lewe wat haar werklike genot bring, te moet ontsê. Sy doen dit al vir jare: wanneer sy iets intens geniet, wanneer sy daarvan bewus word, hou sy op. Sy geniet dit om te bak, ’n liefde wat sy by

Nomsa geleer het. Maar sy doen dit al hoe lank nie meer nie, ’n selfopgele­gde straf. Sy haat dit om aan enige organisasi­e te behoort, van die VLU tot iets so eenvoudig soos ’n biduur. Daarom behoort sy aan almal.

Al daardie voorgee, en dit vir ’n skuld wat sy nooit sal kan vereffen nie. Is dit nie genoeg om enige mens gek te maak en na ’n boksie slaappille te laat gryp nie?

En nou hierdie belofte wat sy aan haar kinders gemaak het. Sy kyk af na haar hande, vryfmet die regter- oor die delikate, losserige vel van die ringlose linkerhand. Met haar wysvinger trek sy die blou are en die beentjies wat sigbaar is na.

Sy móés die belofte maak. Haar skoonseun, dokter Maritz van Rensburg, het haar nie veel van ’n keuse gegee nie.

“Dit is beleid dat ’n pasiënt wat selfdood probeer pleeg het, na ’n psych ward verskuif word, Ma.”

“Nee. Wat het geword van keuse? My vrye wil?”

“Dit is beleid, Ma,” het hy herhaal. “Omdat hier nie ’n psych ward is nie, stel ek voor dat Ma vir twee-en-sewentig uur in die hospitaal bly en dat ons Ma dan in Hunterscra­ig laat opneem.” “Nee.”

“Dit is ’n wonderlike fasiliteit, Ma.”

“Nee.”

Vir die tweede keer die dag het Ester haar tot trane gewend. ’n Stortvloed daarvan. Sy was verbaas dat dit die nodige simpatie by haar kinders en skoonseun ontlok het.

Goed, het Maritz gesê, vergeet van Hunterscra­ig, maar sy moet ’n terapeut gaan sien. Hy sal alles reël. Maar sy moet belowe dat sy wel sal gaan.

Sy het haar erewoord gegee. Vir wat dít werd is.

Sy word môre ontslaan. Sy gaan huis toe.

Enigiets om nie in Hunterscra­ig opgeneem te moet word nie. Sy was so verlig oor die alternatie­f dat sy nou eers aan die gevolge dink. Sy wil nie ’n sielkundig­e sien nie. Sy was nog nooit by een nie, maar soos sy die storie verstaan, het hulle die vermoë om jou diepste, donkerste geheime uit jou te trek. Daarvoor sien sy nie kans nie, sy hou hierdie geheim al vir ewig weggesteek.

En tog.

Hoe begin jy met ’n sielkundig­e, ’n vreemdelin­g, ’n buitestand­er praat? Oor só iets? Waar ís die begin?

Sy skuifel uit die hoë bed, stap kaalvoet badkamer toe, ledig haar blaas, draai die koue kraan oop en laat die water oor haar hande en voorarms spoel, maak bakhand en spoel ook haar gesig en agter in haar nek af. Sy laat koel water in haar brandende keel afloop.

Die verligting is net tydelik.

Sy verbeel haar sy kan onthou hoe die pyp deur haar neus in haar keel afgedruk is tot in haar maag. Sy verbeel haar dit het gevoel asof sy verwurg word. Het iemand haar aangesê om op te hou hoes? Sy weet nie. As haar brandende keel ’n aanduiding is, moes dit verskrikli­k seer gewees het.

Sy kyk op na haar beeld in die dowwe spieël bo die wasbak. En voel ’n klein bietjie jammer vir haarself.

Volgende keer sal sy haar nie aan pille oorgee nie.

Terug in die kamer is ’n jong verpleegst­er besig om op die staalbedka­ssie plek te maak vir ’n skinkbord. Daarop is ’n >

< koppie en ’n pot tee, asook melk en suiker. Ester bedank die verpleegst­er, laat toe dat sy haar in die bed help en vir haar skink.

“Dokter het gevra dat ek dit vir mevrou moet bring. Lekker sterk.”

“Dankie, ek waardeer dit.” Daar is darem voordele as jou skoonseun ’n mediese dokter op die dorp is.

Die tee ís sterk. En lekker. Sy drink dit nog altyd so, soos Nomsa haar geleer het. Darem iets waarvan sy hou en nie prysgegee het nie.

Die gedagte aan Nomsa lei, soos altyd, na Nonthando.

Sy sluk verby die brand in haar keel en vra skor: “Is suster Majolo aan diens?”

Die verpleegst­er skud haar kop en huiwer effe. “Nee, nie vanaand nie.”

Daar is iets aan die sagter klank van haar stem wat maak dat Ester die koppie tee laat sak. “Weet jy wanneer sy weer aan diens gaan wees?”

Die jong verpleegst­er hou haar hande en oë besig met ’n onnodige platstryk van die laken. “Ken mevrou haar goed?”

“Ek kén haar, ja.”

“Mevrou . . .” Sy laat staan die laken en hulle oë ontmoet. “Ek dink nie dit is my plek om . . .”

“Ag, om vadersnaam, wat is dit?”

“Suster Majolo is gisteraand, of vroeg vanoggend eerder, oorlede. Sy het ’n hartaanval gehad.”

Mila se hande bewe nog toe sy die sleutel in die slot probeer druk om die deur oop te sluit. Sy het gehoop dat die uur wat sy by antie Sofie en umalume uThemba vertoef het, en die bord kos wat antie Sofie haar gemaak eet het, die bewing sou laat bedaar.

Dit is die skokke wat sy vandag weg het. ’n Mens kan ook net soveel hanteer voordat jou liggaam daarop reageer.

Die nagmerrier­it vanaf Port Elizabeth se lughawe tot hier op Humansdorp in umalume uThemba se skorra-skorra het sy net-net deurstaan. Die bakkie wat hy as taxi en persoonlik­e voertuig gebruik, is al jare verby sy vervaldatu­m. Onder Mila se linkervoet het roes ’n oorwinning behaal en kon sy die teerpad deur die gat sien. Dit was so reg uit ’n rilfliek, die teer wat onder haar linkervoet verbywoert­s. En wanneer hy pad moes maak vir voertuie wat van agter kom – wat aanhoudend die geval was – het sy afgekyk op die geel streep.

Sy was naar van die geskud. En sy het nie geweet wat om met haar voete te maak nie. Sy wou die gat met een voet toedruk sodat sy dit nie hoef te sien nie, maar sou dit nie kon verduur om die pragtige skoen so in te span nie. Dus het sy skeef gedraai, met haar gewig op haar regterboud wat nou voel asof sy ’n harde hou daar weg het, en vir umalume uThemba gekyk.

Dit was stil in die bakkie. Umalume uThemba was nog nooit ’n groot prater nie. Mila het altyd vermoed dat antie Sofie hom nie ’n kans gun om ’n woord te sê nie, maar nou lyk dit vir haar asof dit maar sy manier is.

Of het hy so gewoond daaraan geraak om nie te praat nie, dat hy dit verleer het? Sy ken hom nie regtig nie en het hom maar nog altyd as antie Sofie se man gesien.

As kind kon sy haar verluister aan die twee se liefdesver­haal. Umalume uThemba was ’n plaasarbei­der, ongeskool, met geen vooruitsig nie.

Sy was ’n onderwyser­es met ’n voorliefde vir Afrikaans.

Oor ’n naweek het hulle mekaar by ’n taverne raakgeloop. ’n Gereelde kuierplek van hom, nie van haar nie. Antie Sofie was daar vir ’n afspraak saam met ’n ander man. Sy het nogal van hom gehou, sou sy vertel, dit is nou totdat haar blik op umalume uThemba geval het. Dit was liefde met die eerste oogopslag.

’n Raaisel vir antie Sofie se ouers dat sy op dié derm van ’n man verlief kon raak. Ja, sou sy sug wanneer sy die storie vertel, vir haar was dit ook vreemd. Sy het haar wat verbeel met haar graad en haar kennis van die Afrikaanse taal, en raak toe wrintiewaa­r lief vir iemand sonder enigiets.

Maar, sou sy sê, soms stem jou kop en hart nie saam nie. En jou kop is ook nie altyd reg nie. Hulle is ná ’n kort vryery getroud en het ’n paar jaar op die plaas gebly.

Maar die stilheid en die gebrek aan lopende water en krag het antie Sofie gevang. Sy het vir umalume uThemba ’n bakkie gekoop – darem nie die een wat hy nou nog ry nie – en hulle is dorp toe. Hy het die huis waarin hulle nou nog bly met sy eie hande en die hulp van los werkers gebou.

Later nog bakkies aangekoop en die woonstel waar Mila nou staan en sukkel om die sleutel in die slot te kry, ook aangebou, sodat hy so ’n ekstra kon verdien. Daar was ook maar nie elektrisit­eit of water in die huis nie, maar hulle was darem nader aan die kraan waar water getap moes word en sy kon ’n gasstoof en -lampies vir hulle aankoop, vertel antie Sofie graag.

Ja, sou sy vertel, sy is lief vir die derm van ’n man. Hulle stry en baklei selde, sou sy byvoeg, en as hulle wel baklei, is dit gewoonlik oor haar liefde vir die Afrikaanse taal. Iets wat die umalume glad nie kan begryp nie, sou sy sug. Toe hulle dorp toe trek, het sy begin skool hou in KwaNomzamo.

Gelukkig, sou sy byvoeg, staan die lewe nie stil nie, dit bly mos maar aan die beweeg. Vandag het umalume uThemba ’n vloot taxi’s en antie Sofie se liefde vir Afrikaans het daartoe gelei dat sy die Afrikaans onderwyser by die wit hoërskool geword het. Daar, sou sy vertel, het sy agtergekom dat baie van die wit kinders ook graag isiXhosa wou leer, al was dit nie ’n vak by die skool nie. Toe begin sy klasgee. Smiddae, een keer ’n week in haar klaskamer. En kan jy glo, sou sy met groot oë byvoeg, dat daar nou selfs al wit mans en vroue is wat by haar klasloop. Dit sou haar van lekkerte uit haar maag laat lag.

En al gaan dit so goed met hulle, wou hulle nooit na die wit woonbuurt trek nie. Dit is hulle huis, dit is hulle mense, was die algemene konsensus. En die bakkie met die gat onder die passasier se linkervoet? Jy ry hom totdat hy uitmekaar val, is umalume uThemba se motto.

Somtotaal

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa