Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

-

Dit gebeur binne ’n breukdeel van ’n sekonde. Ek ry in my motor, rustig, rustig . . . Die volgende oomblik is daar ’n motor wat uit die linkerbaan reg voor my inswaai. Onverklaar­baar, roekeloos, rég voor my in. Op geen manier kan ek dit keer nie, ek tref die motor voluit op die bestuurder se deur. In die verskrikli­ke, helder oomblik van knarsende staal en brekende glas, sien ek dat dit ’n bejaarde man agter die stuur is. Nie bejaard nie, hy is regtig baie oud. My motor skuur tot stilstand.

Die bestuurder skud sy grys kop asof hy nie glo wat pas gebeur het nie. Langs hom sit sy vrou, ewe bejaard, sien ek, en sy gil histeries. Nou is nie die tyd om kwaad te wees nie, nou is dit tyd vir deernis.

Ek makeer niks nie, maar daar ís skade aan my motor. Die ander motor is ’n wrak van verwronge staal en gebreekte glas. Die oom klim bewerig aan die passasiers­kant uit. Sy vrou gee vir hom sy kierie aan.

Is jy beseer, Meneer? vra ek toe ek uitklim. Ek sien tot my verligting dat hy op die oog af nie beserings het nie. Hy antwoord nie. Sy vrou wel. Sy begin op my skree, beskuldig my daarvan dat ek soos ’n besetene in hulle vasgejaag het, dat ek, tienuur die oggend, seker onder die invloed van drank of dwelms is, alles, alles is my skuld. Ek bied vir haar ’n bottel water aan. Sy gryp die bottel en smyt dit op die grond neer. Die woorde uit haar mond kan ek nie in goeie geselskap herhaal nie.

Ek word nie kwaad nie.

’n Ooggetuie kom nader. Hy skud sy kop in stomme verbasing. “Hy’t rég voor jou ingedraai, Mevrou! Het die omie dalk ’n stroke gekry?”

Ek sal nie weet nie.

Die manne van die gereg daag op. Hulle neem ons besonderhe­de. Die man en vrou kom van Skotland, toeriste met vakansie. Die vrou het nog nie bedaar nie: “My man bestuur al oor die sestig jaar, en hy het nog nooit ’n ongeluk gemaak nie! Dis alles dié vrou se skuld, julle moet haar toets vir alkohol!” skree sy.

Ek sê niks, die ongeluksto­neel se bewyse spreek vanself.

My hart breek. Ek is só lief vir Skotland, ek is só gaande oor die Skotte met hul warm geaardhede, hul eksentrisi­teite, die rollende aksent van hul taal. Ek is betower deur hul mooi land en hul geskiedeni­s, hul romantiese letterkund­e, die lekker cullen skink wat mens in hul pubs eet, hul musiek. Ek hou só baie van Skotland, dat ek en my man vir ons wittebrood in Skotland was. Ek wil so graag hê die Skotte moet ook gelukkig wees in mý mooi land – en nou dít ?Aldie ellende van ’n ongeluk in ’n vreemde land, en boonop veroorsaak deur ’n wilde, waansinnig­e vrou onder die invloed van iets vreesliks.

Net voor ek ry, gee ek my visitekaar­tjie vir die man. As ek hulle van hulp kan wees, laat weet my, sê ek. En ry weg met my stukkende motor, wat nie net erg beskadig is nie, maar my ook baie moeite en ongerief gaan veroorsaak voordat dit weer herstel is.

Dit is ’n dag of wat later dat ek die telefoonop­roep kry. ’n Rollende, Engelse aksent. Dis die tannie van Skotland. Haar stemtoon is baie anders as toe ek haar laas gehoor het.

“Ek is regtig baie jammer,” sê sy, “dit is nie in my aard om só te skel nie.”

Ek aanvaar graag haar verskoning. “Is julle oukei?” vra ek.

Ja, maar sy besef wel dat haar man te oud is om te bestuur, al wíl hy.

Sy los my met ’n vreemde kompliment: Sy is so bly dat dit ék was wat die ongeluk veroorsaak het, iemand anders sou dalk nie so hoflik gewees het nie.

Sy mág maar glo dis my skuld. Net ter wille van Skotland.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa