Die kuns van kophou
DIE K UN VAN S
Met tussen 120 en 150 troues per jaar het Zavion Kotze-Brereton (MIDDEL EN REGS OP DIÉ BLAD) die kuns van kophou vervolmaak. Hy was ook die beplanner van die spogtroue van ons Mej. Heelal 2017, Demi-Leigh Nel-Peters, met die Amerikaanse bofbalster Tim Tebow vroeër vanjaar op Franschhoek (FOTO LINKS BO), waar alles seepglad verloop het.
Party mense organiseer nie net uitstekend nie, maar bly ook gefokus en laat alles seepglad verloop, al stres ander om hulle. En die eindproduk slaan altyd die asem weg
DEUR SUZETTE TRUTER
Om dinge haarfyn te beplan maak haar kalm en gee haar rigting, sê Schané Venter, logistieke en bedryfsbestuurder van die Mej. SA-veldtog. LINKS BO is Schané tydens ’n fotosessie vir SARIE Voorbladgesig. Sy was verlede jaar die 11de Voorbladgesig-wenner. REGS BO Zozibini Tunzi met haar kroning verlede jaar as Mej. Heelal. MIDDEL REGS Schané saam met oud-Mej. SA en sakevrou Suzette van der Merwe.
Dis al ’n tradisie. Met ’n paartjie se eerste huweliksherdenking bel troubeplanner Zavion Kotze-Brereton altyd om hulle geluk te wens en deel ’n brokkie waarvan die bruid op haar troudag salig onbewus was. Soos dat die koek die oggend negeuur platgeval het. Of die DJ het gekanselleer. Dan is die bruid altyd verbaas, want alles was dan so perfek . . .
En alles wás, danksy Zavion. Want hy het nie net immer ’n plan B nie, maar ook ’n plan C, D en E.
“Ek raak nooit paniekerig nie. Daar is altyd ’n uitweg,” sê die man wat vanjaar met Demi-Leigh Nel-Peters en Tim Tebow se sprokiestroue selfs hul seremoniemeester, die Amerikaanse TV-aanbieder en sportkommentator Scott Hanson, verstom het – hy was nog nooit by ’n okkasie waar alles so tot op die minuut betyds was nie.
Met tussen 120 en 150 troues per jaar – Zavion se dienste is vooruit bespreek tot in September 2021 – het hy die kuns van kophou vervolmaak.
As jy goed beplan, verloop dinge 99% van die tyd seepglad, maar dis nie om dowe neute dat die werk van ’n geleentheidsbeplanner al deur Forbes as die vyfde mees stresvolle beroep aangewys is nie.
“Jy moet nie net goed wees met admin nie, maar ook kreatief, ’n verkoopspersoon, ’n sielkundige as die bruid in trane bel, ’n projekbestuurder en altyd on point,” sê Zavion.
Van sy grootste uitdagings is logistieke reëlings. Met die Tebows se troue was daar oor die vier dae vooraf sowat 200 verskaffers op die perseel op Franschhoek en almal se tye en beurte moes gekoördineer word – kore, beligtingspanne, mense wat ’n nuwe vloer lê . . .
Zavion laat dit maklik lyk. “Ek neem altyd in ag dat sekere goed langer gaan neem as verwag. Werk dit by jou beplanning in. En, natuurlik, met die regte span kan jy enigiets vermag.”
Sy span is soos familie. Kim Grimes, sy “tweede brein”, werk al sedert 2015 saam met hom, toe hy ook die blomme en dekor vir troues begin doen het. “As ek iemand aanstel, is ervaring onnodig, ek soek net bereidwilligheid, ’n passie en dryfkrag om te werk, en jy moet by ons ‘familie’ inpas,” sê hy.
Sy verskaffers dra daartoe by dat alles glad verloop. Deur die jare het Zavion ’n persoonlike verhouding met elkeen opgebou. Hy’t ’n lysie van name op wie se nommer hy enige tyd kan druk. Só kon hy al binne ’n dag ’n trourok reël waaroor die
bruid gaande was – nadat die een wat sy uit Frankryk bestel het twee nommers te klein was!
Hy het homself van beplanning geleer. By sy ouers se trouvenue het hy van loodgieter- tot teëlwerk gedoen – totdat hy die kroegman geword het. Daar het hy gesien hoe ander troubeplanners werk en gedink hy kan dit beter doen. “In 2011 was my eerste troue. Ek het ’n oog vir detail. Mettertyd het die detail net ál meer geraak,” vertel hy.
Later het hy reg oor die land troues gereël, en toe drie jaar gelede ’n trouvenue in Muldersdrift, Johannesburg, laat bou, waar hy sy eie reëls kon maak. Hy skryf ook tans aan ’n boek met wenke oor die sisteme en tydlyne waarvolgens hy troues beplan.
Reeds as tienkampatleet moes Zavion konstant vooruit dink, rég wees vir die volgende item. Maar met die coronakrisis het sy “hart gebreek”, want hy weet watter impak dit op die brood en botter van duisende mense in die troubedryf het. “Dis so belangrik dat paartjies uitstel en nie afstel nie,” sê hy.
Hy onthou altyd dat hy met mense se drome werk. Soms is die prentjie wat ’n bruid in haar kop het, ver bo haar begroting, maar daar is altyd ’n meer bekostigbare weergawe wat net so spesiaal is.
“Ek maak dit werk deur haar te lei. Soos om vas te stel wat vir haar die belangrikste is. Is kos byvoorbeeld belangriker as blomme? Dan fokus ons op kos en ‘rek’ die blomme, of plaas net kerse op die tafel.”
Die eerste gesprek is belangrik. Ná ’n telefoongesprek stuur hy ’n e-pos om alle inligting te bevestig, en met vergaderings maak hy meestal klankopnames. En hy beheer die tempo van die proses. “As ons te lank vooruit beplan, raak die bruid soms ongeduldig of wil kort-kort van plan verander. Daarom is konstante kommunikasie belangrik, al is dit net ’n e-pos om haar op hoogte te hou.”
Hy sal berge versit om wense te bewaarheid – “ek kan net my bes probeer”. Soos toe hy Demi-Leigh se gunstelingblom, pioenrose, op ’n plasie in Frankryk opgespoor het toe dit hier buite seisoen was.
Maandae ontspan Zavion en die span – sy huis is sy veilige hawe, waar hy sy “klere op die grond laat lê” en sy man, John, die gestruktureerde een is – maar Dinsdae, terug by die werk, is dinge weer georden. Dinkskrum-tyd:
Hoe kan ons nóg verbeter?
Wanneer ’n stralende Mej. SA aan die einde van die jaar op ’n glansryke gala-aand gekroon word, is daar net ’n klein groepie mense wat weet wat éintlik die geheime wapen vir die suksesvolle verloop van die pad tot daar is: Schané Venter se skootrekenaar!
“Ons spot altyd en sê daar kan nog iets met my gebeur, maar tog net nie met my skootrekenaar nie, skerts Schané, logistieke en bedryfsbestuurder van die Mej. SA-veldtog. Sy was in 2019 SARIE se Voorbladgesig-wenner.
Benewens haar voorleggings, spreadsheets en e-posse (“my beste vriende”) is daar spesifiek één dokument wat die Mej. SA-span se lewens bestuur: die “call sheet” wat Schané elke dag opstel.
“Dit bevat ’n lys van wie die dag betrokke is, wat elke minuut gebeur, die reisskedule, tye en plekke van aktiwiteite, hoe lank dit neem om daar te kom, wanneer ons eet . . . Letterlik al wat ek nie daar insit nie, is hoe laat jy moet opstaan en tande borsel, ek sê selfs wat almal moet aantrek!” vertel sy.
Wanneer sy organiseer, is Schané in haar element. Elke dag is as’t ware ’n mini-projek, deel van die groter tydlyn vir die jaar se kompetisie met al sy sleutel-aktiwiteite wat sy van A tot Z reël.
Die tydlyn word jaarliks herhaal, wat beplanning vergemaklik: soos wanneer inskrywings open, die beoordeling van semi-finaliste, oormaaksessies, fotosessies, die aankondiging van die finaliste, geleenthede saam met borge, bemagtigingswerksessies, finale beoordelings, kleedrepetisies, die kroningsaand . . . En daarna begin die wenner met haar jaar as Mej. SA en word sy bestuur en voorberei vir internasionale kompetisies.
Tussendeur is daar ook ander projekte, soos die huidige
Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, se onlangse homecoming. Of die Mej. SA Diamantjubileum-viering in 2018 wat deur sowat 45 voormalige Mejj. SA bygewoon is en waar SARIE se redakteur, Michélle van Breda, een van die finale beoordelaars was. “Dan raak reëlings baie intens en moet jy éérs op die ball wees. Die grootste uitdaging was om almal op te spoor en daar te kry.”
Midde-in dit alles bly Schané onverstoord. Om dinge haarfyn te beplan maak haar kalm en gee haar rigting, sê sy. Sy was nog altyd so – op skool was elke vak se boek ’n ander kleur. “Ek is baie netjies en georden. Mense spot altyd ek gaan eendag my kinders spierwit aantrek en nooit laat vuil word nie . . . ag, dis net grappies! Ek is ook aanpasbaar, dinge kan enige tyd verander. Krisisse skep ook geleentheid vir innovasie.”
Sy sou dit nooit op haar eie
kon vermag nie. “Elke spanlid het ’n ander rol. Daar’s ons uitvoerende hoof wat die besigheid bestuur, Werner Wessels wat as kreaktiewe direkteur die wenners oplei en voorberei vir internasionele kompetisies, ’n bestuurder wat Mej. SA se program reël, iemand wat die borge hanteer. En hul hande staan ook vir enigiets reg. Almal spring in en doen wat gedoen moet word as dit nodig is.”
Die veldtog steun op borgskappe en sy was bevoorreg om deur die jare sterk bande te bou – goeie menseverhoudings is belangrik. Sy vra dikwels hulp en maak ’n punt daarvan om altyd vir mense te sê hoe baie sy dit waardeer.
Schané wou aanvanklik ’n geoktrooieerde rekenmeester word, maar het gou besef dit pas nie by haar persoonlikheid nie. Uiteindelik het sy ’n BCom-graad in bemarkingsbestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf, en kortkursusse in basiese modeontwerp en kreatiewe onthaal gedoen.
“Ek het gewonder hoe ek alles eendag gaan toepas, en nou gebruik ek dit vir soveel aspekte, van begrotings- en projekbestuur tot om Mej. SA aanloklik te bemark vir borge en om innoverend te wees. Ook mode is ’n deel van my werk en persoonlike lewe,” vertel sy.
Haar vermoë om sin te maak van chaos, dinge te vereenvoudig en om prakties te dink in stresvolle situasies het sy egter nie in boeke geleer nie – “dis intuïsie”.
Tuis staan sy doelbewus effens terug. “Ek dink my verloofde, Marion Fouché, sou lankal weggeloop het as ek by die huis so georganiseerd was, want ek raak redelik pynlik! Hy hou ons huis georganiseerd, en ek gun hom dit, want dit sou nie gewerk het met twee control freaks nie.”
Sy het haar voorgeneem dat hul troue, wat weens die Covid19-pandemie uitgestel is, nie ’n “werk” moet wees nie, maar “iets lekkers”, vir hulle twee.
“Ag, maar voor ek my kon kry, het ek ’n stewige voorlegging gemaak wat elke detail en fase en uitrusting beskryf, pyltjies waar elke ding geplaas moet word . . . Dit het die hele ‘prentjie’ bymekaar gebring en ek kon alles maklik net so aanstuur vir almal.”
Sy het wel besluit om almal net een keer te brief oor presies hoe sy dinge wil hê, en dan terug te staan en te vertrou, sodat sy nie op hul troue stres daaroor of dinge betyds of reg gedoen is nie. “Ek wil elke oomblik kan inneem.”
Sien haar Kopie van die maand op bl. 72.
Nadat hy en sy vrou twee weke lank alleen in hul kajuit op die Diamond Princess-passasierskip
in kwarantyn moes deurbring, het een passasier aan The Wall Street Journal
vertel hoe hulle die tyd met lang gesprekke verwyl het en sy vrou haar “merkwaardige geheue” ten toon gestel het. “Sy het die vermoë om elk van my oortredings op te rakel, en ek dink nie sy is klaar nie!” het hy gesê.
Inperking weens die Covid-19pandemie – in ’n stadium was tot die helfte van die wêreld se bevolking onderhewig aan een of ander vorm van isolasie – het eise gestel aan verhoudings reg oor die wêreld.
In sommige lande is reeds berig hoe dit sy tol op huwelike begin eis. Nadat isolasiemaatreëls in Maart in China verslap is, het talle paartjies hulle tot die skeihof gewend, en familieregkenners voorspel dieselfde gaan in Amerika gebeur. In die Verenigde Koninkryk het Ayesha Vardag, Brittanje se sg. Queen of Divorce, aan die Evening Standard gesê dat Londense regsfirmas hulle staal vir ’n toename in skeisake – hulle is tydens lockdown oorval met oproepe van mense wat die situasie nie meer kon verduur nie.
Rampe is dikwels ’n katalisator in ’n verhouding, sê die Belgiese verhoudingsterapeut Esther Perel, wat onlangs ’n nuwe podsending, Where Should We Begin?: Couples Under Lockdown, bekend gestel het. “Jy word bewus van jou eie sterflikheid. Dis dan wanneer mense sê: Die lewe is kort. Ek het lank genoeg gewag. Nou vat ek die pad.” >
< Tog maan dr. Elize Morkel, kliniese en voorligtingsielkundige van Somerset-Wes, mense moenie net aanneem dat die probleme wat hulle met inperking ervaar het,’n betroubare aanduiding is van die gehalte en potensiaal van hul verhouding nie.
“Dis ’n uitsonderlike tyd waarin ons leef. Pare wat dalk andersins goed oor die weg kom en eintlik baie raakpunte het, kan vind dat die spanning wat die pandemie op soveel vlakke veroorsaak, ook hul verhouding affekteer. Mense reageer verskillend in stresvolle tye.
Dis ’n ongekende en onbekende situasie: om ontneem te wees van byna alle persoonlike vryheid terwyl jy ’n onsigbare vyand vrees. En daar is ekstra emosionele druk omdat julle moet aanpas by ’n nuwe roetine en nuwe verpligtinge, alles te midde van ’n onseker toekoms.”
Om ingeperk te wees kan verskillende uitdagings vir pare inhou, sê dr. Morkel:
Te veel tyd saam (baie verhoudings het ruimte nodig om gesond te bly);
Te min afleiding (die meeste verhoudings word verryk en gestimuleer deur ’n maat se betrokkenheid by mense en aktiwiteite buite die verhouding);
Ekstra verpligtinge en rolle (ongelukkigheid of konflik oor byvoorbeeld wie wat moet doen);
Vrese en bekommernisse oor finansies en loopbaansekuriteit (jou maat voel dalk magteloos, is buierig en so gefokus op sy kwellinge dat hy “afwesig” is, en dit lei tot ’n verwydering tussen julle);
Onsekerheid oor die toekoms (party mense reageer veral sleg op onsekerheid, wat weer druk op die verhouding plaas).
Dit alles kan spanning meebring, sê sy. Aan die ander kant kan so ’n grendeltyd ook verhoudings laat groei: Baie mense het in dié tyd hul maat in ’n ander konteks gesien, hom of haar opnuut leer ken en waardeer, en vir baie was daar selfs weer ’n nuwe spark.
’n SARIE-leser vertel sy en haar man (albei werk voldag) het “ná die eerste bonus van dae aaneen in mekaar se geselskap wees”, op mekaar se senuwees begin werk, veral oor hul gewoontetjies. “Maar later het ons grappies gemaak oor wie s’n die irriterendste is – en toe is die angel daaruit! Humor het ons hierdeur gedra – ek het al vergeet hoe lekker hy my kan laat lag.”
Dit het ’n bietjie inspanning en tyd van paartjies en gesinne geverg om ’n roetine en ritme te ontwikkel, maar dit klink asof baie daarin geslaag het, sê dr. Morkel. Mense het ruimte gemaak vir alleen- en saamweestyd. Mans het in broodbakkers en vermaaklikheidskunstenaars ontpop, ma en pa het in aflosspanne kinders opgepas én gewerk en saam projekte aangepak wat gesinsbande versterk het.
Die kwesbare pare in dié tyd was diegene wat al vooraf krake in hul verhouding gehad het. Inperking was die vergrootglas, sê dr. Morkel.
“In ons besige lewens is dit maklik vir paartjies om maar so op die oppervlak te leef, bo-oor probleme en verskille. Baie mense raak so bedrywig met beroepe, kinders, organisasies, probleme van hul uitgebreide familielede, sport- en sosiale aktiwiteite, dat hulle die emosionele intimiteit van hul verhouding afskeep en vervreemd raak van mekaar.”
Met die grendeltyd het daardie “besigwees” en “trimmings” weggeval. Daar was meer tyd vir introspeksie, oor wat werklik belangrik is. Mense het dinge ervaar en raakgesien wat hulle andersins nie sou nie, en hul keuses en leefstyl begin bevraagteken, verduidelik sy.
“Ek dink party mense het ‘geskrik’ vir die persoon met wie hulle saamleef en vir die gebrek aan ’n konneksie toe hulle hulself in dié situasie bevind waar die krake in hul verhouding so blootgelê is – krake wat hulle vroeër nie raakgesien het nie.”
Gerda de Villiers, leefstylafrigter van Somerset-Wes, sê paartjies kon in afsondering (veral in ’n beperkte ruimte) nie die kans kry om te ontvlug van onopgeloste kwessies wat dalk al lank deel was van die verhouding nie.