Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

Oia is die dorp se naam, die ikoniese dorp van duisende poskaarte en nog meer foto’s. ’n Dorpie met klein grothuisie­s wat vasklou teen die helse helling van die kaldera. Witgekalkt­e huisies teen die berghang, en onder die verblinden­de blou van die see. ’n Dorp met duisende trappies, teen die berghellin­g af na die klein restaurant­jies op die kaai. Dit is ’n dorp sonder motors, jy stap waar jy wil wees. As jy nie kans sien vir die duiselingw­ekkende trappies nie, dan ry jy met die plaaslike taxi-diens: ’n donkie.

Somertyd is Oia ’n miernes van toeriste. Want Oia, so word gesê, is die dorp met die heel, heel mooiste sonsonderg­ange. Ter wêreld. Teen skemertyd kom die mense en neem stelling in op die trappies, daar is nie plek om te beweeg nie. Hulle wag. Vir die misterie van ’n son wat verdrink in die oseaan.

Ek en my reisgenoot val nie in hierdie toeriste-strik nie. Ons is in Oia as die meeste besoekers reeds weg is, in die vroegherfs. Daar is min mense wat op die trappies sit en uitkyk oor die see. Daar is nie een luidrugtig­e, balhorige mens wat hom sleg gedra nie. Ons sit met ’n bottel Griekse wyn en twee glasies. Die aand is mild, want die somer is nog nie heeltemal verby nie.

En waarlik, dit wat voor ons gebeur, is ’n verstommen­de gesig. Nié mooier as ’n sonsonderg­ang teen onse Weskus nie, nié mooier as ’n son wat agter ’n rooiduin in die Kalahari wegsak nie, nié mooier as ’n Karoo-aand se sagte aankoms nie. Maar dit ís mooi, melancholi­es mooi, ’n son wat ’n oomblik weerloos bokant die water hang, en dan, soos die Minoïese beskawing van eeue gelede, stadig wegsink in die see. Daar onder die water, sê die mite, lê Atlantis.

Die klein seekos-restaurant waar ons die wyn gekoop het, maak hul eie wyn. Dit is heerlik, dit het die geur van grond en appels. Die geur is soos die geheim van ’n see waarvan die diepte nie bepaal kan word nie, en helder, soos ’n son wat daarin vasgevang is. Die eienaar van die restaurant het vir ons ’n kaasbord gepak met olywe, dolmades en brood. Die meeste mense het al geloop, die son se skynsel nog net ’n fantoom op die water, toe ons nog sit, doodgelukk­ig op die warmgebakt­e trappies van hierdie onwerklike mooi dorpie.

En toe, vanuit ’n huis êrens agter ons, begin ’n vrou te sing. Sy het ’n pragtige, volronde stem. Sy sing nie die gewone Griekse volksliedj­ies met hul polsende ritme wat almal ken nie. Al verstaan ek nie die woorde nie, kan ek hoor sy sing van verlies, van verlange, die weemoed van afskeid. Haar stem liefkoos die hele dorp teen hierdie verskrikli­ke berghang, sy troos almal wat luister teen die verskrikli­ke verdriet.

Ons luister asemloos, wens dat sy nooit moet ophou sing nie. En asof sy ons versugting hoor, hou sy aan met sing.

Die hele dorp luister.

“Kom ons gaan soek haar,” sê ek.

Ons staan op, begin deur die stegies loop na daar waar hierdie wondervrou is, sy wat ons so betower met haar stem en haar hartseer. Sy sal pragtig wees, dit weet ek seker, ’n vrou met swart hare en swarter oë, en smaragde vir oorbelle.

Ons loop, en elke keer as ons dink ons weet waar sy is, klink die stem vanuit ’n ander rigting op. Asof in ’n labirint loop ons, agter haar stem, haar melodie aan.

En toe hou sy op met sing.

Ons verloor haar.

En ek, ek verloor my hart. Dit sink weg saam met die son in ’n blou, blou see waar ’n verlore stad lê. Met die eerste inperking vroeër vanjaar, vroegherfs, het ek een aand op my stoep gesit en uitkyk oor ’n donker see. Alles was stil, onnatuurli­k stil.

’n Vrou het begin sing, onder in my klein dorpie.

Ek het gevoel hoe my hart van voor af breek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa