Sarie

Boekuittre­ksel: ‘1955’ uit Draairivie­r deur Engela Ovies

UIT DRAAIRIVIE­R DEUR ENGELA OVIES

-

“Sanna! Sanna!” roep Ma. Sy is besig om buite op die sandvlak tussen die houthoop en bossiesker­m in ’n groot swartpot seep te kook.

“Ja, Ma? Ek kom!”

Ek trek vinnig my rok aan en loop uit.

“Môre, Ma. En as Ma so dringend roep?”

“Ja, môre, kind. Jy moet gou vir Pa en Gert kos wegbring veld toe. Ek draai bietjie vas vanoggend, dis al amper agtuur.”

Sy hou vir ’n oomblik op met roer in die seeppot en kyk stip na my. “Hoe slaap jy dan so laat? Is als reg? Die res van ons is al voor vyf op. Pa en Gert is lankal weg veld toe.”

“Ek was net moeg, Ma. Van al die vuurmaakho­ut aandra vir Ma se seep!” Ek wys na die kaal kol waar die hoop gisteraand nog gelê het. “Ma het ook nie met die hout gespeel nie. Waar’s die kosmandjie? Ek sal sommer nou loop.”

“Dankie, Sanna.” Sy druk die rietmandji­e in my hande. “Ma moet nog gister se goedjies by die Groothuis gaan klaar stryk.”

Ek wil eers vra of dit dan nie haar af dag is nie, maar los dit. Dis nou al ’n geruime tyd dat ek agterkom Ma word gou moeg. Sy raak seker maar oud. Ek kyk na haar mooi bene en besluit twee-en-veertig is ook glad nie só oud nie. Haar blas vel lyk nog glad, met geen grys haar in sig nie. Dis net die donker oë wat afgemat lyk.

Pa is vyf jaar ouer as Ma en is al grys teen die slape, met ’n ligter vel. Ek en Gert trek al twee op hom. Maar waar hulle drie donker oë het, is myne groenbruin. Ons is nie lang mense nie, en tog ook nie kort op die been nie.

“En toe, as jy so oop-oë staan en droom?” vra Ma.

“Nee, ek wonder net wat gaan Ma nou met die seep maak?” “Ek gaan eers die vuur doodmaak, ek sal vanmiddag verder kom kook.” Sy dra die lewendige stuk hout eenkant toe en begrawe dit in die sand. “Loop jy maar. Jou pa-hulle is in die sementdam se kamp.”

“Sien Ma later!”

Ek loop na die klein hekkie in die lyndraad wat die werf van die veld skei. Hoe nader ek daaraan kom, hoe meer bruis die opwinding in my. Toe ek terugkyk, sien ek Ma is al op pad Groothuis toe. Miskien, as ek gelukkig is, loop Johannes-hulle se vee in die kamp hier agter die klipkoppie en kan ek hom weer sien . . .

Ek kry ’n warm gevoel in my hart toe ek onthou dat hy weer eergister met my gepraat het. Dis darem al die vierde keer wat hy met my gepraat het, al was dit ook net om na Gert te vra. Op sewentien sien hy my seker as ’n kind, al is hy en Gert net twee jaar ouer as ek. In Februarie word ek agttien. Ouma Bet sou sê dan raak my hakskene pienk!

Eers op die koppie val dit my by dat ek my hoed vergeet het. As Ma nie so besig was nie, sou sy gesien het en my teruggeroe­p het. Langs ’n groterige klip gaan ek staan. Ek staar oor die buurplaas se veld. Nie eers ’n stofwolkie wat iewers trek nie. Johannes en sy pa is seker baie vroeg uit met die skaap, dalk na ’n kamp verder weg.

Die lyndraad loop reg onder die koppie verby, met die dam waar hulle vee kom suip net aan die ander kant. Die draad het ’n effense duik in waar ons altyd oorklim om vir antie Poppie, Johannes se ma, te gaan kuier.

Bultfontei­n se opstal lê meer na links van waar ek staan. Nou kan ek net die dak sien. Antie Poppie se riethuisie lê versteek agter die heuwels. Van hier af lyk dit of die veld een gelyk stuk grond is, maar jy moet twee hoë bulte oor om by die opstal te kom. Of liewer, mens kry eers antie Poppie se huis en dan verder op die plaashuis. Van die grootpad se kant af kry jy natuurlik eers die plaashuis.

Toe ek omdraai om weer af te klim, kyk ek uit oor ons plaas. Ek glimlag vir die gedagte aan “ons” plaas, maar vir my is dit die mooiste plek in die Boesmanlan­d. Nie dat ek al baie ander plase gesien het nie.

“Draairivie­r,” sê ek die naam hardop en trek met my vingers die twee rye spore van die plaaspad soos dit van die grootpad af kom. Dit loop verby ons drievertre­k-riethuisie en draai skielik weg na die Groothuis. Amper nes die Oranjerivi­er, wat van iewers agter die bergreeks aan die voorkant van die opstal uitkom, dan wegdraai en al voor die berg verbyvloei. Aan die bokant van die rivier is daar ’n donga met hoë walle. Maar soos die stroom aan die onderkant wegraak, word alles kleiner, die bome ook.

Ma waarsku my en Gert altyd teen daai donga. Toe mevrou Rita se ouers nog op die plaas geboer het, was daar glo ’n wolkbreuk wat ’n hele vloed veroorsaak het. Ek was al een keer saam met Pa by die walle en dis grillerig hoog. As jy daar kan af, loop jy op droë grond tot by die rivier. Ons swem maar

altyd aan die onderkant, waar dit meer gelyk is.

Draairivie­r se werf bestaan uit die Groothuis, mevrou

Rita se stoorplek, die vleiskamer en die afdakke vir rygoed. Daaragter is die skeerhok en ’n stal waar net een wit perd staan.

Ek wonder skielik hoekom die perd nie gery word nie.

Jana en Elsie, die tweeling, is al veertien. Oud genoeg om op hulle eie te ry. Nols, hulle broer wat in die Kaap studeer, kan sekerlik perdry. Miskien is die perd al te oud.

Agter die huis, aan die kombuis- en washuiskan­t, is ’n uitgestrek­te vyeboord. Maar my gunsteling­plek is die dam met sy trop eende en die grootste ou bloekomboo­m wat ek al gesien het. Die kweek is soos ’n donskomber­s onder die boom, en die vinke bou neste in sy takke.

Aan die onderkant van die Groothuis, in die rigting van ons huis, is die windpomp en die skaapkraal . . .

O genade, dis al laat! Pa en Gert moet seker doodhonger wees. Ek draf die skuinste af.

Toe ek uitasem by die sementdam aankom, is daar geen teken van Pa-hulle nie. Die son steek nou behoorlik. Gert kon mos hier gewag het. Nou sal ek moet bly tot hulle die skape kom water gee voor ek huis toe kan gaan.

“Dis mos jou eie skuld dat hulle al weg is,” praat ek met myself. “Vir wat loop jy agter ’n mansmens aan?”

Ek voel skielik skaam toe ek dink aan wat Ouma sou gesê het. “So ’n flerrie van ’n kind! Skaars droog agter die ore en flenter al agter ’n jongetjies­mens aan.”

Ek haak die mandjie aan ’n draad teen die dam en maak solank vuurmaakho­ut bymekaar. Daarmee klaar, vat ek die mandjie en gaan sit en wag in die bome se skadu. Ná wat soos twee ure voel, hoor ek ’n geblêr. Ek staan op, my hand bokant my oë teen die son, toe die skape hier links van my uit die bosse aangestorm kom. Die stomme Gert, wat net so vaal soos die veld lyk, moet uithaal om voor te bly.

Ek sien wat aangaan en hardloop na die dam toe. Toe ek die kraan oopdraai, stort koel water met ’n boog in die krip. Ek moet my pad deur die dors, malende skaap oopdruk om by Gert te kom.

“Dankie, Sanna,” hyg hy hande op die knieë. “As die skaap by so ’n droë krip kom, kan hulle maklik nek breek.”

“Waar’s Pa dan? Ek sit al heeldag vir julle en wag.”

“Hier, meisiekind!” roep Pa waar hy met ’n stok in die hand aangestap kom. “Ons was net hier onder teen die lyndraad,” beduie hy. “Ons sou eers middag se kant kom water gee het, maar die skaap het elfuur al besluit hulle is dors en het self koers gekry.”

Ek lag en kyk na Gert, wat nog steeds uitasem is. “Seker oor dit so vrek warm is.”

Ons gaan sit onder die bome en ek gooi eers vir Pa koffie uit die fles, dan vir Gert. Die skaap wei nou rustig om die dam en party lê in die skadu.

Gert haal ’n roosterbro­odjie uit die mandjie. “En toe, was jy eers bo-op die koppie dat jy nou eers hier aankom?”

“Die koppie?” vra ek kamtig verbaas. “Wat sou ek daar gaan maak het?”

“Kyk of jy ’n sekere buurman sien?” Hy vat ’n groot hap en kou smaaklik.

Ek voel hoe my gesig warm word. “Hoekom sou ek ’n sekere buurman wou sien?”

Ek staan sommer op en maak gereed om die drag hout op my kop te lig. “Ma het die hout nodig om die seep klaar te kook.”

“Wag nou, meisiekind,” keer Pa. “Jou broer terg jou sommer.”

Ek gluur na Gert, wat sit en proes van die lag. “Ek moet regtig gaan, Pa. Ma wag vir my.”

Ek stap haastig weg, my rug regop om die swaar vrag te balanseer.

“Sien julle later!” roep Pa voor ek om die bome verdwyn. Waar sal Gert daaraan kom dat ek na die koppie toe gaan om vir Johannes te sien? So ’n gemene luis! Sê nou dit kom by Johannes uit dat ek hom dophou? My broer is simpel genoeg om vir hom te sê dat ek op hom “spioeneer”.

Gert moet dit darem waag! Ek druk sy kop in hierdie warm Boesmanlan­dse grond in.

Hoe sou hy weet? bly pla die gedagte my al die pad huis toe. Dis tog net mý geheim – of so het ek gedink.

Die soetste geheim, wat ek saans op my kussing koester en wat my elke aand met ’n glimlag aan die slaap laat raak.

* Draairivie­r deur Engela Ovies word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R250 by boekwinkel­s. Bestel hierdie boek plus twee ander as deel van ons Winter SARIE Boekbederf. Sien bl. 125.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa