‘Manswerke’ húl kos
Nie so lank gelede nie was ’n beroep soos skeepsloods, treindrywer en vurkhyserbestuurder manlike domein. Maar drie vroue bewys vandag die teendeel
Ek perk my nie in in boksies nie Sanette Robinson, skeepsloods verbonde aan die Transnet Nasionale Haweowerheid
Dié wat weet, sê dit verg heldemoed.
Om van die wêreld se imponerendste en grootste skepe die hawe in te bring. Soos die fabelagtige Queen Mary 2,
’n volle 345 m lank en 149 215 ton swaar. En vragskepe groter as geboue, langer as ’n rits rugbyvelde. Die wind en hoë golwe verg ál haar stamina. Elke oomblik moet sy skerp wees, paraat.
Sonder veel fanfare verduidelik
Sanette Robinson haar reuse-taak: “Ek navigeer skepe veilig in en uit die Kaapse hawe. Ek klim op see op die skip en hanteer dit met die hulp van sleepbote tot binne-in die hawe, totdat die skip vasgemeer is.
“Dít is die gevaarlikste deel van my werk – om met daardie wind en golwe op en af van die skepe te klim.”
Op skool wou Sanette ’n veearts word, maar vandag is sy al tien jaar lank skeepsloods in die Kaapse hawe, saam met nog ses vroue en twaalf mans.
Jou oë rek as sy meer oor haar werk vertel, maar Sanette laat dit maklik klink . . . “Dit hou my op my tone. Elke skip stel sy eie uitdagings. Wanneer die weerstoestande verander, moet jy vinnig kan reageer en besluite neem. Jy kan nooit té selfversekerd raak nie. Dit kan fataal wees.”
Boonop geniet sy dit om mense van
verskillende kulture te ontmoet. “Die kapteins van die skepe wat gereeld in die Kaapse hawe aandoen, leer jy later goed ken.” As die kaptein haar hand skud en sê sy doen goeie werk, dan besef sy net: Dít is die regte beroep vir haar.
“Goeie kommunikasie, vinnige probleemoplossing, om kalm instruksies te kan gee . . . dis als waardevol in my werk. Jy kommunikeer nie net met die kaptein van die groot skip nie, maar ook met die sleepbootkapteins en die mense op die kaai wat die toue vasmaak. Elkeen speel ’n waardevolle rol.”
In haar loopbaan was daar al heelparty hekkies. Toe fregatte vir die SuidAfrikaanse vloot in 2002 in Hamburg, Duitsland, gebou is, was sy die enigste vroulike bemanningslid wat soontoe gestuur is vir opleiding. “Om ses maande tussen die Duitsers te wees was regtig moeilik. Ek was so alleen.”
Sy dink ook met groot ontsag terug aan ’n woeste storm in Kaapstad drie jaar gelede – die ergste in dekades – toe ’n
300 m lange skip losgebreek het van die kaai. Die toue, so dik soos ’n man se been, is eenvoudig afgeruk. “Dit was een van die kere in my loopbaan wat ek hulpeloos teen die natuur se kragte gevoel het. Dit was so intens en sal my altyd bybly, maar ek moes deurdruk.” Sy was deel van ’n span wat 24 uur lank gestoei het om die skip veilig terug te bring.
Maar sy’s dankbaar dat die see haar kantoor is. “Dit is so mooi om my elke dag. My pa was eintlik die een wat voorgestel het ek gaan vloot toe, as gapjaar ná my matriek aan die Hoërskool Hercules in Pretoria. En daar word dit my loopbaan.”
Sy glo haar diploma in seevaartstudie aan die Universiteit Stellenbosch en bestuursontwikkelingskursus aan die US Sakeskool daarna is noodsaaklik vir haar beroep, “maar ’n groot deel van die werk hang van ervaring af. Hoe meer jy dóén, hoe beter verstaan jy wat om te doen.”
Sy was twaalf jaar lank in die vloot en het haar uiteindelik as hoofoffisier in oorlogvoering bekwaam. Hierna het sy gewerk as skeepskaptein in die hawe van Port Elizabeth, waar sy benoem is om opleiding as skeepsloods te kry. Dié nuwe moontlikheid het haar geprikkel.
Dit is haar droomwerk en sy hoop sy kan dit doen tot sy aftree, op 63.
“My ma, Lena Wolmarans, ’n afgetrede boekhouer, het ’n goeie voorbeeld vir my gestel deur hard te werk. Daar was nie iets soos ‘ek kan nie’. Ek is haar ewig dankbaar daarvoor.”
Sy leer ook haar jong dogter, Bailey, om haarself nooit in boksies te laat inperk nie. “Ek vertel haar gereeld as jy toegewyd is en hard werk, kan jy jou drome waar maak.”
En wat sê die manne saam met wie sy werk?
“Dis al veel beter as tien jaar gelede. Soms kyk ’n kaptein my nog skeef aan, maar besef gou dat hy my nodig het en is dan ná die tyd baie dankbaar. Die atmosfeer is baie professioneel,” lag sy.
Mense is dikwels verbaas. “Só ’n klein mensie agter só ’n groot voertuig,” sê hulle. Dan lag sy net: “Ja! Ek is mal daaroor.”
Want reeds sedert kleintyd bekoor treine haar. Sy wóú ’n treindrywer word.
Dit is presies wat die petite Lesego Sesana die afgelope sewe jaar doen. En nie sommer enige trein nie – maar die Gautrein, SA se spogtrein wat pendelaars teen tot 180 km/h tussen Pretoria en Johannesburg en die
O.R. Tambo Lughawe vervoer.
Ná matriek aan die Hoërskool Carleton Jones op haar tuisdorp Carletonville aan die Wes-Rand het sy eers ’n bemarkingsdiploma aan die Rosebank College in Johannesburg verwerf. “Maar ek het altyd gevoel ek hoef nie die stereotipe te volg nie . . . daar is mos nie werke wat net aan mans ‘behoort’ nie.” So doen sy toe aansoek by Gautrein . . .
En een ding lei tot die volgende. Aanvanklik was sy ’n kondukteur, maar toe die kans kom om te leer trein bestuur het sy gespring.
Haar jonger broers, Leago en Sizwe, spog dis hul sus dié. Haar pêlle dink sy is cool. “Jy verwag mos nie so ’n werk by ’n vrou nie.”
Maar haar ouers, Nomonde Nzimanze en Johnson Sesana, het altyd gewéét. “Hulle was glad nie verbaas toe ek hulle vertel ek ís nou ’n treinbestuurder nie. Hulle weet mos hoe vasberade ek is.”
Sy werk vier skofte per week en dek al die roetes. “Die lekkerste is om met die passasiers te gesels. Dis ’n voorreg om hulle betyds en veilig by hul bestemming af te laai. Ek kan motor bestuur, maar geniet dit meer om die trein te bestuur. Dis boonop sonder die stres van verkeer.”
Haar taak verg dissipline, diens met ’n glimlag en verantwoordelikheid. Want jy is in beheer van menselewens. “Jy moet altyd ingestel wees op ander se gerief en veiligheid en ek besef dit elke dag. Mense moet my kan vertrou.”
Sy is spesifiek trots om ’n Gautreinbestuurder te wees. “Die maatskappy is professioneel: altyd betyds, die stasies is skoon, die personeel vriendelik. Ek wil ’n verskil in Suid-Afrika maak en gehalte is belangrik.”
As mense skeef opkyk oor die vrou agter die trein se stuur, help sy hulle vinnig reg. “Vroue vaar beter onder druk as mans en kan meer as een ding op ’n slag doen. En ons kommunikeer ook doeltreffender.”
Sy het nog nooit ’n ongeluk gemaak nie. Sy eet reg en rus genoeg voor sy werk en haar reflekse is tops.
Lesego was as kind al ondernemend: “Stout, prettig en energiek. Ek het my ma darem ook met huistake gehelp.
Vir Pa sou ek help om die motor te was en die werf op te ruim. Ek geniet dit steeds.”
Sy hou niks van tyd mors nie en sê ewe prakties: “Kos moet maklik wees. Spaghetti-en-maalvleis werk lekker.
Dis wat ek graag kook.”
Dié jong vrou wil nooit ophou groei nie.
Sy bewonder Nosipho SiwisaDamasane, uitvoerende hoof van Bombela, die maatskappy wat die Gautrein bedryf. “Sy het my geleer hoe belangrik goeie opleiding is.”
Lesego glo vroue kan mekaar help om sterker te word. En hoe jy jou droomwerk kan doen as jy in jouself glo en jou deel doen.
Sy haal Madiba aan: “Iets lyk onmoontlik, totdat iemand dit gedoen kry.”
Haar man hou dalk sy hart vas, maar dis háár masjien – ’n swart-en-oranje vurkhyser wat 3 500 kg weeg en fyn fokus en voetwerk verg.
Van die eerste keer dat sy daarop geklim het, het dinge net “gekliek”, vertel Jamie Lee Cloete van Kuilsrivier in die Kaap. “Dis mý masjien daai en ek is liéf vir hom. Ek kom gou agter as iets fout is of iemand daarmee gelol het.”
Maar haar kinders, Cayden en Marschiano, en man, John Barends (sy werk onder haar nooiensvan), staan darem nog voor in die ry wanneer sy drukke uitdeel, lag sy.
Jamie Lee en John werk albei by Royal Salt in Parow wat deel is van die Donald Brown-groep (DBG). Dit is ook hier waar haar en John se liefde begin het.
Jamie Lee vertel op skool het sy eintlik gemik na die Mej. SA-kroon. “Dalk om ’n model te wees en die wêreld vol te reis.” Om haar voete te vind het sy – die naasoudste van vier – kort ná matriek aan die Hoërskool Range in Elsiesrivier as pakker van sout by die DBG begin werk.
“Maar ek wou dit nie vir ewig doen nie.” Haar ma, Shirley, wat verlede jaar oorlede is, het immers altyd gesê sy kan enigiets regkry met harde werk en gebed.
“My ma was ’n sterk vrou. Sy het in ’n kinderhuis grootgeword en baie swaar gekry toe sy jonk was, maar almal was so lief vir haar. Sy was ’n raakvatter, iemand wat haar laaste bietjie sou gee.”
En toe kom Jamie Lee se groot geleentheid in 2017 toe die maatskappy besluit om vroue die geleentheid te gee om hul vaardighede uit te brei. “Ek hou daarvan om buite te werk en geniet nuwe uitdagings.” Toe volg sy ’n kursus om ’n vurkhyser te leer bestuur.
En “kliek” dadelik met die masjien. Ná ’n vyfdagkursus by Johan van der Watt van Future Building Training Consultants (FBTC) in Brackenfell was sy gereed om die stuur te vat.
“Die ouens is soms nogal verbaas dat ek so goed vaar,” lag sy. Sy is die enigste vrou tussen vyf manne. “Ek hou van my werk. Die vurkhyser kan tot 2 500 kg op ’n slag lig – rou sout, botteltjies, sakkies. Maar jy moet weet wat jy doen, anders kan iemand seerkry. Jy moet fokus. Niks gerondkykery, geselsies of whatsapp en op jou foon praat terwyl jy werk nie.” Dis ook verpligtend om ’n beskermende oorpak en helm te dra.
Jamie Lee se gesin is trots op haar en die verantwoordelike werk wat sy doen. “Hoewel John soms bekommerd is oor my veiligheid.
“My kleintjie het ’n speelgoedvurkhyser wat geel-en-swart is, amper soos my grote. Hy wys dit vir sy maats en vertel hulle dan: ‘Dís die masjien wat my mamma ry.’”
Vrye tyd het sy min. Soggens is sy al om vyfuur uit die vere, trek die huis reg en maak skooltoebroodjies en ontbyt vir die kinders. Om halfagt begin sy en John werk.
Vanmiddag vyfuur lê die gestoei deur die verkeer voor, terug huis toe. Soms werk hulle oortyd, tot seweuur saans.
Nét Vrydae maak sy haar lippe rooi en is dit tyd vir oorbelle en dalk ’n fliek. “Deur die week gaan ek soos Moeder Natuur my gemaak het.”
Jamie Lee het reeds haar oog op ’n nuwe vaardigheid. Binnekort hoop sy om ’n kode 14-rybewys te verwerf. “Dan kan ek ook vragmotors bestuur en bevordering kry. Ek sien daarna uit om sout na die supermarkte te vervoer. Dit is al weer ’n stappie vorentoe. Ek wil altyd meer en meer leer.” Want nes haar ma, het ook pa Graham, wat op sy dag vir ’n staalmaatskappy gewerk het, haar geleer om alles wat sy doen, so goed as moontlik af te handel.
“Die sukses van my werk berus op geduld, ’n koel kop tydens stresvolle situasies, goeie menseverhoudings en vinnige besluitneming. Daar is soms mense wat jou omkrap, maar as jy jou vererg, dán gebeur die ongelukke. En nie net jý nie, maar ander kan seerkry.”
Sy het nog geen ongelukke gehad nie. Trouens, sy glo vroue is uitgeknip vir die werk. “Ons gee aandag aan detail, ons doen ’n ding tót hy reg is, en ek dink nogal ons laat ons nie sommer onderkry nie . . . Vroue is die toekoms van die wêreld.”