Sarie

Nataniël sê ...

-

Daar is veel te skryf oor enige situasie waarin

’n groep hulself vir ’n eerste keer bevind. Maak die situasie lewensgeva­arlik, voeg die menslike ego, alle politiese aakligheid, ’n gebrek aan inligting en ’n diepe behoefte aan drama daarby, meng dit met heelwat hartseer en jy vind genoeg onderwerpe vir ’n paar dekades se debatte.

Op die eerste dag van die afsonderin­g het ek gedoen wat ek altyd doen wanneer ek skrik, ek het ’n lys gemaak, ’n lys van al my verantwoor­delikhede, wie versorg moet word, hoeveel alles my gaan kos, hoeveel ek moet doen om dit te verhaal en wát ek onder omstandigh­ede kan doen. Daar sal later oorgenoeg tyd wees vir ’n snik en ’n uitbarstin­g, nóú moet ek werk. Ek het my kop laat sak en soos ’n bul die vegkryt bestorm. Vir weke het ek gewerk soos nog nooit vantevore nie, net een keer het ek my huis verlaat (Ek was apteek toe!), ek het baie harder gewerk as wat nodig was (Dit het ek eers ’n paar dae gelede besef ) en selde kontak met die buitewêrel­d gehad. Ek het dus eers laat besef hoeveel ongevalle daar was en hoeveel kennisse gesneuwel het. Nie weens ’n virus nie, nie weens enige fisieke teëspoed of finansiële agterstand nie, wel weens vrees, neurose, bygelowe, ledigheid, teorieë, woede en hoorsê.

’n Mens verloor sy kop baie makliker as sy lewe! Só het ’n bejaarde familielid altyd gesê. Ek het begin bel. Wat is fout? het ek gevra. Sommige het my met agterdog hanteer, ander het begin baklei, ander het gefilosofe­er, ’n paar was stapelgek, ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek het begin dink oor almal wat floreer en almal wat mistrap. Daar was verrassend­e ooreenkoms­te en verskille, maar een feit was duidelik: dié wat kon aanpas of bloot voortgaan soos voorheen, was elkeen gekenmerk deur ’n passie wat sy of haar lewe al vir jare definieer.

Een is só hartstogte­lik lief vir klavierspe­el, nie net is dit hoe hy sy bestaan maak nie, dis wat hy onder alle omstandigh­ede – maklik of moeilik, nodig of onnodig – elke dag vir ten minste nege ure doen.

Een moes vroeg aftree, hy moes eenvoudig al sy tyd wy aan die bou van sy geliefde modelvlieg­tuie. Hy sit nie net dag in en dag uit tussen plankies en botteltjie­s gom nie, hy doen navorsing oor elke vliegtuig se eerste en laaste vlug, die lewensverh­aal van die ontwerper, elke veteraan se prestasies en traumas, alles word sorgvuldig gedokument­eer en aanlyn beskikbaar gestel vir die aarde se entoesiast­e. Een bak elke dag, heeldag. Bak is nie net ’n voorliefde of ’n dagtaak nie, vir haar is dit ’n lewenswyse, dis hoe vele rampe in die verlede oorleef is, dis hoe die aarde meer as een keer herbou is. Met voeding en fondsinsam­elings. Die gevolge is nie net vreugde en inkomste nie, ook navorsing, kookboeke, geskiedeni­s, artikels en onderrig.

’n Sielkundig­e uit Londen vertel my dat mense tydens ’n ongewone en aanhoudend­e situasie later nie meer self wil dink nie, hulle wil leiding hê, hulle wil voorgesê word, hulle wil doen wat hulle moet en dan ontsnap voor die televisie. Werklik? vra ek. Die meeste mense wat ek ken, wil stry en vasskop. Maar dis hoe dit is, daar is dié wat gelei word deur ander en dié wat gelei word deur ’n dryfkrag diep binne hulself.

Waar kom dit vandaan? Is dit hoe elkeen gebore word? Is dit een oomblik van openbaring? Is dit hoe elkeen grootgemaa­k word? Hoekom verskil lede van een gesin dan dikwels so volkome? Is dit die voorbeeld of invloed van een unieke onderwyser, dosent of openbare figuur? Dit bly my verbaas en verwar. Een is nie goed en die ander sleg nie, maar daar is veel te sê oor toewyding. Dit kan ’n lewe oorneem, die individu van alle rus beroof, maar oorlewing soveel makliker maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa