Kos ons samesyn
Kos troos, is hoe ons liefde wys. Ons het ’n behoefte aan veiligheid en ankers, om saam te wees en te deel: geurige piesangbrood, soetkoekies en melk, kaaskoek, appeltert, brood, kilojouleryke pasta . . .
DEUR
Die coronapandemie laat ons onrustig voel. Bang en onseker. Ons smag na kos wat ons terugneem na ons kinderdae, na Ma en Ouma se kombuis, na veiligheid. Moet net nie nou vir my ’n pikante, krakerige slaaitjie, laag in kilojoules, voorsit nie.
Trooskos – dit is mos wat ons nou nodig het.
Ek stem honderd persent saam met dié woorde van Andrea Burgener, selfopgeleide sjef en kosskrywer van Johannesburg: “Trooskos is waarskynlik die doeltreffendste manier
om van stres ontslae te raak. Dit stel goedvoelhormone vry en verlaag die streshormone. En selfs al duur dit net terwyl jy kook en eet, is dit ’n goeie ding.” (BusinessLIVE)
Ingeperk. Ingegrendel. Ingegord. Dis hoe ons nou leef.
Maar dit is asof daar ’n bakontploffing in ons kombuise plaasgevind het.
Oral sien jy dit. Op sosiale media soos Instagram en Facebook wys mense hul gebak met trots. Enigiets van botterbroodjies, muffins, koek, beskuit, brood van alle soorte en groottes, skeef en krom. Dit is asof mense hul hart en siel in meel, eiers en klitsers gestort het. En die ellende uitknie.
Isabella Niehaus, voormalige SARIE-moderedakteur, kosghoeroe, blogger en bekend vir haar Langtafels op die Duin aan die Weskus, sê daar was oggende wat sy die oond reeds voor die ketel aangeskakel het. Swaarkrydae. Wanneer haar vrye gees ingegrendel was. “Wanneer daar iemand op my bors sit.”
Bella toor met kos. Haar debuutresepteboek, Duinhuis: Smake. Geure., is vroeër vanjaar bekroon as die SA wenner in die onthaalkategorie van die 2020 Gourmand-toekennings in Parys. Sy kén die sielkundige, medisinale waarde van die aroma van komyn, die euforie om ’n hand vol vars tiemie, gekneus tussen jou vingers, te ruik, die opflikkering in jou gemoed wanneer die eerste geure van ’n appelkoek in die oond deur die huis begin trek. Dís haar kos, vertel sy.
“Op dag 29 van die inperking weet ek van die vertroosting wat my kombuis bied. Of van ’n hand vol growwe sout. Van die geure van varsgemaalde witpeperkorrels. Basilie uit die tuin. Masala wat besig is om te rooster.”
Bella het g’n idee hoeveel piesangbrode of appelkoeke sy in dié dae gebak het nie. Ook nie hoeveel hoenders al uit die oond gekom het nie. “Ek kyk hoe die braaihout minder word, want daar is vertroosting en energie in die vuur.”
Jenny Morris, oftewel The Giggling Gourmet, is dit eens. Sy sê: “Kos is die primitiefste vorm van troos, ’n pasgebore babatjie se eerste kennismaking met die mamma se borsmelk.” En van daar hou ons kosreis nooit op nie. Ook die titel van haar nuwe televisieprogram, From the Heart with Jenny Morris (Food Network), spreek daarvan.
Jenny onthou hoe haar oupa haar, as vierjarige, elke middag vir tee op die stoep genooi het saam met hom en haar ouma. Daar het ’n stapel vars, vuurwarm plaatkoekies, met ’n skyf druppende botter bo-op, gewag. “Ek wou elke druppel aflek.” En tot vandag is botter haar “ding”. In kapokaartappels, op gemengde groente. Sy het aljimmers gesoute botter in die yskas. Want dít neem haar terug na Oupa en Ouma se stoep, na hul liefde en die veiligheid van kos-samesyn.
Die koshistorikus Hetta van Deventer-Terblanche, beoordelaar van kykNET se koswerklikheidsprogram Kokkedoor, sê dit maak sin dat ons nou terughunker na kos uit ons kinderdae. “Dit was die tyd van eerstes: eerste smake, eerste reuke, die eerste keer dat ons die sygladde tekstuur van ’n gereg op die tong geproe het. Dié sensoriese prikkelings is in ons geheue vasgelê. En ’n eienskap van kosnostalgie is dat dit gewoonlik met ‘teleskopiese visie’ gevorm word. Ons onthou dus baie selektief, gewoonlik net die lekker en die goeie.”
Vir Hetta gaan die vredige geselsies met haar kinders vroegoggend in háár eie plaaskombuis – terwyl hulle stukkies karringmelkbeskuit in koffie doop uit ’n baksel volgens haar ma se resep – nie bloot oor ’n verlange na die “goeie ou dae” nie. “Ek wil nuwe herinneringe skep met my kinders, terwyl hulle ook by my, in veiligheid, Ouma se beskuit leer ken, dit proe en eendag, as hulle groot is, kan onthou dat kos ’n taal van liefde is, trouens, een van die kragtigste kommunikasiemiddele.”
Jenny, wat al jare deur kosmaak en bak haar liefde aan haar gesin wys, meen ons het nou die tyd om die reuke van toentertyd op te rakel en weer te skep. Of sy nou lekker piesangbrood bak, of haar seun Darin bederf met ’n tuisgekookte hoendersop. Of vir Warin, haar seun wat in Londen bly, sy geliefde soetsuursous maak.
Ook by SARIE.com is daar in dié coronatye ywerig geklik op veral soet resepte wat gedeel is. Annemie Lombard, webredakteur, vertel groot gunstelinge was gebakte kaaskoek met karamelsous, sagte koekies met karamelvulsel en maklike sewe-minuutsjokoladekoek.
In dié tyd het Bella en haar jare lange vriend, die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren, ’n spesiale Facebookblad, Koesterkos, begin. “Ons wou resepte en kos-inspirasie deel in ’n tyd wat ons gedwing is om stil te wees en troos te vind in ons huis, kombuis en tuin. Ons het mede-kosmaters, nie noodwendig uithalerkokke nie, gevra om resepte te e-pos. Van pasta tot lekker souse, sop, koek, muffins en piesangbrood. Letterlik enigiets wat maklik en lekker is om te maak. Dit het ons elke dag ’n paar uur besig gehou en het inspirasie vir mense gegee.” En, sê Bella, sy het nuwe respek vir die nederige aartappel, wat jy in bykans enigiets kan omtower.
Daar is twee resepte wat sy in hierdie dae oor en oor gemaak het. Koesterend, hartskos, wat troos tot in jou siel se murg.
“Een is ’n puttanesca-sous, ryk en vol met tamaties, knoffel, kappertjiesade, swart olywe en – wag hiervoor: ’n blik Lucky Star-sardientjies pleks van ansjovis. En my klein geheim: ’n teelepel appelkooskonfyt!”
Piesangbrood, die ander resep, was nog altyd een van haar gunstelinge. “Maar, soos met wortelkoek, moet dit klam en geurig wees. Dekadent. En ’n smaak wat luier in die mond. Dit is klam tot die graad van tameletjie! ’n Resep van my kos-ikoon Donna Hay wat ek so hier en daar verander het. Vir my sal dit altyd die troosdis van Covid-19 wees.”
Hippokrates, die Griekse fisikus en vader van die medisyne, het glo gesê: “Laat kos jul medisyne en medisyne jul kos wees.”
Wie wil dáármee stry?