Zozi My storie kan almal s’n wees
Die grasie van ’n grashalm
Zozibini Tunzi is ’n anderste Mej. Heelal. In ’n anderste tyd, want 2020 het ook haar gróót jaar op sy kop gedraai. Maar daarvoor het haar grootwordjare in die Oos-Kaap haar voorberei. Om nie teen verandering te veg nie, maar ritmies saam te beweeg. En ja, dat daar ’n tyd vir alles is. Ook om te wen
DDie Oos-Kaap met sy tydlose, golwende heuwels het al groot name opgelewer wat die geskiedenis binne en buite SuidAfrika se grense help herskryf het. Nelson Mandela, die vader van ons nasie. Siya Kolisi, die eerste swart Springbokkaptein, wie se span verlede jaar die Rugby-wêreldbeker verower en ons harte sáám laat klop het.
Voeg nog ’n naam by: Zozibini Tunzi, ’n anderste soort
Mej. Heelal in ’n anderste tyd. By dié kompetisie einde verlede jaar het sy uitgestaan met haar kort, natuurlike hare (haar mini-afro gedoop) en lang wilgerlatlyf. Waar is die lang haarverlengings, kurwes wat ons met ’n skoonheidskoningin assosieer? Daai hare reflekteer haar woorde tydens die geleentheid: “We should be teaching young girls to take up space.” Nes jy is, want jy is goed genoeg.
Madiba, Siya, Zozi, hul grootwordjare was nederig. Mos nie met die silwerlepel in die mond gebore nie. Maar haar kinderjare was oukei, verduidelik sy vinnig, die sangerige ritme van Afrika in haar stem. Daar was altyd kos, klere. Nooit het sy met ’n honger maag gaan slaap nie. Sy is maar alte bewus dat dit vir baie ander mense na weelde kan klink. Háár ouers het ’n inkomste gehad. ’n Liefdevolle ma en pa wat hard gewerk het sodat sy en haar drie susters skool toe kon gaan, daarna verder kon studeer. Tans is ma Philiswa Nadapu skoolhoof by die Bangweni Junior Sekondêre Skool op Bolotwa in die Oos-Kaap; pa Lungisa Tunzi werk by die departement van hoër onderwys en opleiding in Pretoria. Destyds, egter, het hy nie tersiêre opleiding gehad nie. Dit sou later kom.
Ons zoom, maar kan mekaar net hoor, nie sien nie. Dis ’n “nie-kamera-dag” vir Zozi, het haar agent, Esther Swan, verduidelik. Die paar sekondes wat sy wel sigbaar is voor sy die video-funksie afskakel, lyk sy van kop tot toon na die koningin wat sy is. Dis ook grendeltyd in New York en sy is in haar luukse woonstel, haar blyplek tot sy die Mej. Heelal-septer aan haar opvolger oorhandig. Hierheen het sy twee maande tevore (tydens ons gesprek) uit Indonesië teruggekeer, haar tasse neergesit en dit nog net weer verlaat om lewensbehoeftes aan te vul. Dan mik sy soms deur die bekende Central Park, wat sy vanuit haar leef- en eetkamer kan sien.
Die coronavirus het haar jaar as Mej. Heelal op die kop gekeer. In Mei en Junie sou sy drie, vier oorsese lande besoek het en verskillende projekte is ook op die lange baan geskuif. Sy het nietemin min vrye tyd, “digitale goed” hou haar besig. Onderhoude en sosiale media . . . Verandering, onsekerheid slaat haar nie vir ’n ses nie, verduidelik sy rustig. “Ek het geleer niks is ooit soos jy dit voorsien het nie. Dis goed om te beplan, ’n visie, doelwitte te hê. Maar jy moet altyd ruimte laat vir verandering, buigsaam wees, kan improviseer.”
Ons Afrika-koningin, so onbedorwe soos die Transkeise vlaktes. Dáár lê haar kinderspore tussen twee dorpies. Op Dutywa, waar haar ouers gewerk en sy en haar sussies skoolgegaan het. Destyds het dit uit so drie strate en ’n verkeerslig bestaan. Maar groter, die skool ’n trappie hoër as Sidwadweni s’n, piepklein en die holte van haar paternale familie se voet. Daar waar ook haar inkaba, naelstring, begrawe is. En waarnatoe hulle vakansies en elke tweede naweek teruggekeer het.
Sy lag as ek vra of sy op Sidwadweni werklik water met ’n kruiwa op ’n buurdorpie moes gaan haal, soos ’n koerant berig het. “Kom jy van so ’n plekkie af, is daar ’n kruiwa in jou lewe. Maar op ’n buurdorp, nee.” Die dorpie het ’n kommunale kraan, verduidelik sy. Sommige huishoudings, hulle s’n ook, het tenks wat reënwater opvang. Haar pa het eers so twee jaar gelede ’n kraan na hul erf toe laat aanlê. En verlede jaar ’n spoeltoilet in die huis laat sit. Dutywa het egter al die moderne geriewe gehad.
Haar gogo, Cynthia, het graag gelees met klein Zozi op die skoot. Sy was vol vrae en op sewe het Gogo vir haar haar eerste “groot” boek gegee, Nelson Mandela se Long Walk to Freedom. Madiba, wat op ’n buurdorpie, Mvezo, gebore is. >
REGS Zozi, afgeneem in haar nuwe tuiste, bruisende New York, toe sy in September 2019 daar aan die Modeweek deelgeneem het.
Op daardie oomblik het ek besef ek gaan wéér inskryf Zozi
< “Ek het dit gelees, soos ’n sewejarige sal, sonder om veel te verstaan. Maar op twaalf, dertien, wéér. Dié keer met meer begrip. Dit het my geleer van ons geskiedenis, klein glimpse gegee van die toekoms. Maar belangriker, Madiba was een van daardie mense wat my laat besef het ek wil soveel meer in die lewe doen, iets wat groter as ek is. Ek het egter nie ’n idee gehad wat dit was nie.”
Sién haar as sewejarige meisiekind. Pligsgetrou, maar so inkennig dat haar ma haar vir ’n skoonheidskompetisie ingeskryf het, nogal by die plaaslike kerk. In die hoop dat dit haar uit haar dop sou laat kruip. En as sy destyds bra senuweeagtig was om haar ding voor mense te doen, het die vriendskapsbande wat sy daardeur gesmee het, daarvoor opgemaak.
Zozi het die Oos-Kaap verlaat om in Kaapstad verder te gaan studeer. Op ’n vliegtuig geklim, ’n eerste keer, ’n bederfie van haar ouers. Aanvanklik was dit effens van ’n kultuurskok, ja. “Ek het almal gegroet en hulle het my aangekyk of ek gek is! Dis wat ons doen op ons dorpie. Nog ’n ding: My suster het nie haar bure geken nie. [Sy het saam met Yanga, wat reeds daar studeer het, gewoon.] Vreemd! Op ons dorpie lewe ons sáám. As jy nie suiker, koffie, het nie, weet jy waar om aan te klop.”
Toe maak die lewe ’n draai. In 2016, ná die #FeesMustFallprotesaksie, kon sy nie haar studies aan die Kaapse
Skiereiland Universiteit van Tegnologie voortsit nie. Sy het te veel geld geskuld en moes oppak. Haar ouers het in daardie stadium drie dogters gehad wat studeer het en het swaar getrek. Maar Zozi sit nie stil nie. In 2017 neem sy deel aan die Mej. SA-kompetisie en dring tot die halfeindronde toe deur. Hoewel sy nie onder die eerste twaalf uitverkorenes is nie, gebruik sy dié prestasie om ’n beurs te beding – en voltooi haar studies in die skakelwese.
Toe, in 2019, mik sy weer na die Mej. SA-kroon. Nou het sy haar pad duideliker uitgestippel gesien. En Sidwadweni was deels die inspirasie daarvoor. “Nadat ek die eerste keer tot die halfeindronde deurgedring het, was dit asof my tuisdorpie ’n nuwe aura gekry het. Sjoe, dat een van húlle dit kon regkry. Ek onthou ek het ’n ou oom raakgeloop wat sy beeste oppas. ‘Is jy die meisie in die koerante?’ En: ‘Ek is net ’n ou man op ’n klein plekkie en ek weet nie wat jy doen nie. Maar wat dit ook al is, dis ongelooflik. Want dit het ons jongmense weer opgewonde oor die toekoms gemaak.’ Ek dink dit was op daardie oomblik wat ek besef het ek gaan wéér inskryf. As die jongmense, selfs die oumense op my dorpie nou só voel, wat gaan gebeur as ek wen?”
Dié keer het sy deelgeneem sonder die haarverlengings wat jare lank deel van haar voorkoms was. Met haar natuurlike hare, kort geknip, het sy die wêreld gewys wie sy regtig is. ’n Briljante skuif wat haar die titel besorg het, sê baie. Maar dis nie ’n verandering wat sy spesifiek vir die skoonheidskompetisie gemaak het nie. “Wanneer het ek dit gesny? In 2017, ja, ’n paar maande nadat ek in die Mej. SA-kompetisie uitgeskakel is. Net vir myself, ek was lus vir ’n verandering.” Minder as R100 gekos, dié lewensveranderende haarstyl. En sommer deur ’n Oos-Londense barbier gedoen. Haar ma en susters, Yanga, Sibabalwe en die kleintjie, Ayakha, het vir ondersteuning saamgegaan. Gaan ek goed lyk, gaan ek móói wees? Só het sy vooraf geweifel.
“Ek onthou ek het agterna in die spieël gekyk. Gedink: Ek het nog nooit so goed gelyk nie. Ek het mooi gevoel, gemaklik. Hoekom moes ek dit vir die Mej. SA-kompetisie verander? Natuurlik het ek besef dis nie die mees konvensionele voorkoms vir ’n skoonheidskompetisie nie. Maar ek het besluit om ’n kans te waag. En dit het gewerk!”
As Mej. Suid-Afrika en nou, as Mej. Heelal, het sy gou bekend geraak met die Dr. Jekyll en Mr. Hyde-gesig van die sosiale media. Sy is opgehemel, maar daar was ook stemme dat sy die titel “afgradeer”, ’n teleurstelling, oftewel underwhelming, is. Net gister weer: “Jy’s swart en nie mooi nie.” Van iemand, so lyk dit, in Indonesië.
Vir die eerste keer in haar lewe word soveel negatiwiteit teen haar gerig. Het haar ouers hulle nie altyd vertel hulle is pragtig, slim, maak saak, behoort nie? Tog besef sy, pragmaties, die wêreld daar buite skuld haar niks.
Syself het ook in die sosiale media se moeras getrap, met opmerkings ’n paar jaar gelede waarop sy nie trots is nie. Toe ’n storm losbars om die kop van twee Mej. SA-aspirante, het Zozi na van haar twiets gaan kyk – en self besluit sy wil verskoning vra. “Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat ons sê, selfs al dink ons dis ’n onbelangrike grappie.”
Sy dra nie verniet die Mej. Heelal-kroon nie. Dit verg deesdae meer as ’n mooi gesiggie, jy moet kan gedy “in die aangesig van konstante intellektuele en emosionele uitdagings”. En negatiwiteit kry nie lêplek in haar kop nie. “Dit wat my ‘anders’ maak, verbind my juis aan die mense tot wie ek wil spreek. Swart meisies, ja. Maar óók enigeen wat van die norm verskil, vertel word hulle ‘hoort’ nie, kan met my storie vereenselwig.”
Een wat ’n kragtige boodskap uitstuur aan mense in uitdagende omstandighede: armoede, geweld . . . Ook uit jóú lewe kan iets positiefs spruit. Vra haar maar, vir Zozibini. Sy wat sê: “Wat ek ook al doen, dit moenie net oor my gaan nie. Maar ’n impak op ander se lewe hê.”
Sibamba ngazo zozibini. Die Xhosa-frase waaruit haar naam afgelei is. En beteken om met albei hande iets te aanvaar, respekvol en met waardering. Maar sy wil met daai twee hande ook teruggéé.
Lees ook Ons Wêreld op bl. 11 oor Mej. SA 2020 wat vandeesmaand aangewys word.
Wat ek ook al doen, moet ’n impak op ander lewens hê
Zozi