Sarie

Adè van Heerden: Perfek is ’n robot; ‘dis nie ek’

Sy’s slim en suksesvol. ’n Voormalige Mej. SA en nou ’n luitenant-dokter in die weermag. Maar, sê Adè van Heerden, dit was ’n lang pad se stap voor sy besef het sy hoef nie perfek te wees nie. Sy is genóég, foute en al

- DEUR LIANI JANSEN VAN RENSBURG FOTO KEVIN MARK PASS

Die Mej. SA-titel en die mediese beroep het die laaste jare byna sinoniem geword: Rolene Strauss, Tamaryn Green, jy. Nou het Covid-19 SA tot stilstand geruk en jy as dokter is midde-in die krisis. Hoe ervaar jy dit en hoe bly jy gefokus?

Aan die een kant gaan dit regtig goed, aan die ander kant . . . ek is moeg [lag], ek werk al onophoudel­ik sedert 2 Januarie. Nou met Covid-19 is daar geen manier dat ons met verlof kan gaan nie. Die kliniek [by die 21 SA Infanterie-bataljon se basis in Doornkop, Johannesbu­rg] se ure was altyd agt tot vier, maar nou is dit 24/7. Die weermag wat in Gauteng ontplooi is, is hier gevestig. Ons is net twee dokters en sien ons gewone pasiënte, maar ook moontlike Covid-19-gevalle. Streng regulasies word gevolg en jy moet permanent gefokus wees. En as jy moeg is, wil jy net jou mense sien sodat hulle jou kan optel, opbeur, vashou en beter laat voel. Gelukkig sien ek elke dag my kêrel [Alex Forsyth-Thompson]. Hy ondersteun my en is so goed vir my. Ek kan elke dag net teenoor hom oopmaak, al verstaan hy nie en het geen konteks nie. Dís wat my deurtrek.

Jou Skoonheid met ’n doel-projek het op geestesges­ondheid gefokus en in 2017 by die Mej. Heelal-kompetisie gewen. Hoe dink jy gaan druk weens Covid-19 dokters se psige affekteer?

Ek dink die pandemie gaan bydra tot algehele uitbrandin­g. Dokters, veral intern-dokters, se ure is nou nóg langer. Hulle ervaar reeds uitbrandin­g, maar nou is die druk dubbel soveel. Wat ek hoop, is dat dokters vorentoe meer ondersteun­ing op ’n geestesvla­k sal kry. Niemand sê ooit vir jou hier is ’n sielkundig­e nie, gaan praat. Of kom ons ontlaai en wees een keer ’n week ’n klankbord vir wat jy als ervaar nie. Ek is gelukkig om ’n suster te hê wat ’n ginekoloog is, en ons is mekaar se klankbord. Maar baie dokters het nie so iemand nie. Dis ’n groot probleem wat aandag kort, veral in die openbare sektor.

Sal jy graag wil spesialise­er?

Nee. Toe ek jonger was, wou ek ’n pediater word. Dit was ’n groot droom. Maar mettertyd het ek besef dis nie die pad wat ek moet loop nie. Ek het baie ander passies wat ek ook graag wil uitleef. ’n GP is eintlik broodnodig. Jy moet vir soveel goed uitkyk. As jy dit nie raaksien nie, sal jy nie die pasiënt na ’n spesialis kan verwys nie. In hierdie opsig hou ek daarvan om net ’n GP te wees. Maar daar is ook hierdie saadjie in my hart om my eie besigheid te begin sodat ek meer mense kan bereik. Ek werk reeds hard daaraan.

Vertel meer?

In ’n neutedop: Dit is steeds gemik op vrouegeson­dheid, spesifiek vroulike higiëne. ’n Koop-een-gee-een-konsep. As jy deur hierdie besigheid produkte [doekies en tampons] aanskaf, sal ’n ander meisie wat dit nie kan kry nie, outomaties ook kry. Ek is baie passievol hieroor. Daar is meisies wat as gevolg van hul maandstond­e tot 60 dae skool mis, net omdat hulle nie

sanitêre produkte kan bekostig nie. Só maak hulle nie skool klaar nie en kry dikwels nie werk nie. Om ons vroue op te hef en te bemagtig moet hierdie probleem opgelos word.

#JyIsGenoeg is SARIE se 2020-leuse. Voel jy enige druk om perfek te wees?

Ja, dit is iets waarmee ek baie gesukkel het, veral in die aanloop tot Mej. Suid-Afrika. Ek het gevoel ek moet 100% perfek wees. Ek moet 24/7 alles wees, dat almal om my my moet nodig hê. Ek moet die perfekte lyf hê. Ek moet 100% slim wees. Ek moet altyd perfek aangetrek wees. Ek moet die beste maniere hê. Ek moet altyd empatie hê. En dit álles het my tot ’n punt gedryf waar ek amper soos ’n robot begin word het. Dís wat perfek is; perfek is ’n robot, dis nie ’n mens nie. Toe ek nie as Mej. Suid-Afrika aangewys is nie, was dit een van die beste dinge wat nog met my gebeur het. Dít het my bewus gemaak van hoe ek geword het. En ek kon toe al daai goed laat gaan, myself uit al daai bokse haal en outentiek ek wees.

Maar toe word Demi-Leigh Nel-Peters as Mej. Heelal 2017 aangewys en jy kry die Mej. SA-kroon.

Ja, maar toe was dit vir my belangrik dat mense my onperfekte weergawe ook moes sien. Wat nie die norm vir ’n Mej. SuidAfrika was nie, want sy was altyd as perfek voorgehou. Maar ek wou daardie idee afbreek, ek wou die grense verskuif. Ek wou hê mense moes die hele prentjie sien . . . hoe ek lyk sonder grimering en dat ek ook moeilike dae het. Ek is ’n introvert, ek kan nie permanent sprankel voor mense nie, dit maak my baie ongelukkig. Ek is baie lief vir oefen, maar ek is ook baie lief vir eet. Ek wil nie stokkiemae­r wees nie. Ek is oukei, net soos ek gemaak is. Ek is sagter op myself. En dis die beeld wat ek ook op my sosialemed­iaplatform wil wys. Ek is nie perfek nie, ek het nie alles onder beheer nie, ek is nie foutloos nie.

Jy is vanjaar ’n Mej. SA-beoordelaa­r. Dink jy skoonheids­wedstryde is nog relevant?

Ek voel die Mej. Suid-Afrika-organisasi­e beweeg in die regte rigting. Dit verander nou in iets wat nie net fokus op skoonheid en die uiterlike nie, hulle celebrate vroue uit alle hoeke en groepe van Suid-Afrika. Yes, beauty will always have power. Maar Mej. SA is meer as dit. Sy is ’n kampioen, ’n leier, sy verskuif grense.

Wat het jy by die weermag oor jouself geleer?

Ek het geleer om te persist. My werksomsta­ndighede is nie maanskyn en rose nie. Ek werk op ’n plek waar daar geen mikrogolfo­ond, ketel of verwarmer is nie. Dis letterlik net ek en my stetoskoop. Ek het geleer om net vas te byt, nie van die skip af te spring nie, deur te druk. Om elke dag vir myself te sê: Ek is hier, ek kan dit doen en ek gaan veg vir my pasiënte. Om die foon op te tel en te smeek dat ’n spesialis my pasiënte sal sien.

Het jy ’n lewensleus­e?

Ja, Spreuke 31 vers 30: Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa