Sarie

Boekuittre­ksel

- DEUR ANITA DU PREEZ

“Hoor hier, girl, ek is nou nie snaaks nie, maar jy begin lyk asof jy gedress word uit die charity shop hier onder,” meen Thuli toe ek Maandagogg­end by die werk instap. Jy sal sweer sy en Moira is bloedsuste­rs as jy so na haar luister. Ek is bietjie laat en dis koud en die outfit wat ek saamgeflan­s het uit wat gedurende die naweek op die stoel in my kamer beland het, is duidelik nie haar idee van shabby chic nie. Eintlik ook nie myne nie, maar . . .

“Of dalk uit jou washing basket?” voeg sy by en kyk my op en af.

“Miskien as jy jou hare doen soos daardie dag toe dit so oulik kort was, kan dit werk?” stel Dricus voor en kyk my aan soos een wat dit goed bedoel. Ek wonder of ek hulle kan vertel dat dit my buurman minus die baard, die jas en die helfte van sý hare is wat hier kom hulp soek het met sy tatoe, sodat ek die aandag van my eie hare kan aflei, maar Thuli is klaar op ’n roll.

“Exactly my gedagte!” sê sy en pluk haar foon uit haar gatsakkie, paraat in haar selfopgele­gde rol as Fashion Police van Vishoek. “Ek check gou of Mona ’n opening het.”

Dricus is van geen hulp toe Mona my blykbaar dadelik kan inpas omdat dit in Thuli se woorde “’n emergency” is nie. My protestasi­es oor koffie en agterstall­ige werkies val op dowe ore.

“Nee wat, dis fine. Ek het niks bespreking­s voor elf nie,” sê hy sonder ontsag vir my gevoelens. “En jy het dit nodig. Gaan. Gaan gerus.” ***

So bevind ek my in Mona se stoel.

Nou kyk, as enigiemand dalk al gedink het Dricus se tatoeplek is bietjie dodgy, het hy nog nie Mona se plek beleef nie. Ek bedoel, die waarskuwin­gsklokkies het al in my kop gelui die eerste maal toe ek hier verbygeloo­p en die pampoenen-swart dekor met gifgroen aksente opgemerk het. Toe al het ek myself belowe ek sit nooit my voet hier nie, nee. Al hang my hare op my voete. Daar is perke aan hoe laag mens mag daal.

Buitendien, enige haarkapper wat jou op sulke kort kennisgewi­ng kan inpas, moet sekerlik vermy word? As Eric my nou moes sien. Of Moira. Bid jou aan. Want hier sit ek. Die een wat tot ses maande vooruit sou bespreek om my dos ten duurste uitsluitli­k by die befaamde Avril van Hair By Graham in daardie super-minimalist­iese salon in Cavendish te laat tem – nou uitgelewer aan Mona van Vishoek se skêr.

Dis toe ek my nek in die juk van die wasbak agter my laat sak, dat ek onthou dis hier wat Dricus se horribale mohawk geskep is. Wel . . . kom ek om, so kom ek om, besluit ek bewerig en knyp my oë toe teen die afgryslike string spotlights teen die plafon. ***

Terug by die studio het ek net een ding in my gedagtes. Koffie. Na die donker brousel wat Mona vir haar kliënte skink, sal ’n beker flou Frisco salig wees. Dricus sê niks toe ek verbystryk kombuis toe nie. Draai net sy stoel in die rondte om my agterna te kyk.

Ek bekyk myself vir die eerste maal in die blinkheid van die ketel, want toe Mona die spieël agter my gehou het vir my goedkeurin­g, was ek nog stomblind. Dis korter. Met ligstrepe hier en daar. Ek vryf oor my nek. Onseker. Voel soos ’n skaap seker moet voel ná skeertyd. Kaal en koud op plekke.

Dis gelukkig darem nie heeltemal soos Thuli se pruik nie, maar . . . ek lyk vreemd.

Ek besluit om my nie te verknies nie. Ek sal by die huis kyk. Toemaar wat. Dis net hare. Dit groei weer en . . .

“I like it, I like it!” gil Thuli onverwags agter my. Ek stort warm koffie oor my trui se mou. Sy steur haar min daaraan, gryp my aan die arm en rem my vorentoe.

“And?” wil sy hand op die heup van Dricus weet.

“Yes,” sê hy met nadruk. “Beslis tien jaar beter.”

Ek sou nou nie so ver gaan nie, dink ek toe ek myself later die middag by die huis in die kollerige badkamersp­ieël bekyk. Maar dis nie so aardig soos ek gedink het nie. Mona is nie toetentaal sonder talent nie. Ek lyk half . . . anders. Nuut. Skerper. Asof daar meer as net flertse van my hare op die salon se vloer weggevee is. ***

“Agge nee, allamagtag, man!” roep Naas my die volgende oggend wakker. Ek onthou van die kat, storm benoud kombuis toe en pluk die kombersie af.

“Offsides, offsides! Is daai donnerse ref blind!” snou hy my toe en wip ergerlik op en af. Daar is egter geen teken van Meneer Kat nie. My hart klop nog wild en ek laat my asem stadig uit. Iets het Naas wakker gemaak, dan nie? Nee kyk, met daai terroriska­t sal daar ’n plan gemaak moet word. Want met so ’n benoudheid kan mens nie elke dag wakker word nie.

Ek skakel die ketel aan en meet met die oog die afstand na die klein venstertji­e waar die ding al twee keer ingekom het. Sodat my siel kan rus kry. Dis flippen hoog en ek is nog bietjie wasig dié tyd van die oggend, maar ek trek ’n stoel nader en klim op.

Met my een kniekop pynlik op die yskas gestut en die tone van my ander voet klouend om ’n kasknop, kom ek die venstertji­e by. En ek rem. Rem weer. Hard. Nee kyk, die simpel ding gaan mý nie baasraak nie. A nee a. Ek gee een allemintig­e pluk aan die skuiwertji­e en toe die venstertji­e meegee en verkeerde kant toe oopflap, verloor ek my balans en beland hard op my sitvlak op die kombuisvlo­er. Ek bly sit verdwaas en in pyn terwyl die spul outydse blikke nog klangelend om my val.

Kyk, nóú is ek reg vir daai Rus. Ek vee fyn stukkies roes van die blikke uit my oë, strompel hinkepink in die gang af en klap my skootreken­aar oop. Ek tik verwoed. Baie onbevredig­end, want eintlik wil ek die man eye-to-eye vertel wat ek dink. Maar nou ja. Ek tik.

Mnr Oborin

Hierdie saak is nou besig om kritiese proporsies aan te neem en ek soek ONMIDDELLI­KE reaksie. Ek is seker u kan e-posse ontvang daar waar u is, en verwag dus vandag nog

Daar is onverwags ’n geklop aan my voordeur. Ek kan nie nou stop nie, dink ek, ek is op ’n roll hier. Wie dit ook al is, kan wag. Ek tik voort.

Aangesien die gesondheid van my en my papegaai nou

Iemand roep iets by my voordeur. Vaderland. Wat is dit met die mens? Ek hink deur toe, draai die sleutel en pluk dit heeltemal onverantwo­ordelik oop.

En daar staan hy. Soos die een of ander alien in swart rubber. Die Rus. Die wetsuit is by die een skouer afgerol tot byna by sy middellyf. Ek het nie woorde nie.

“Kuier jy al wéér hier?” Die hand wat besig was om met ’n handdoek oor sy nat hare te vryf, haak vas toe hy sien dis ek.

“O. So jy is terug,” sê ek.

Hy lig twee klam wenkbroue. “Dit wil my so voorkom?” Ek vies my vir myself. “Waarmee kan ek help?”

“Ek? Nee,” hy beduie met een hand, “daar was ’n geweldige slag. Net toe ek verbyloop. Toe draai ek maar om. Ek wou net . . . ek dog, dalk . . .”

“Wat? Dat daardie blessit rondloperk­at al weer hier kom amok maak?”

Hy gooi die handdoek driftig oor sy skouer. Net toe ek dog ek kry die tatoe te siene.

“Dit is ’n saak tussen my en die persoon wat hier woon,” sê hy, met sy uitdrukkin­g dié van een wat bloot saamspeel met idiote. “Ene mejuffrou Beekman.”

“Maar ek −”

“Jammer ek het gepla. Dit is nie in my aard om in te meng nie.”

Hy draai om en stap weg.

Eers toe die voordeur aan die ander kant van die huis toegaan, kliek ek. Ai, ek is soms darem maar stadig van begrip. Met die nuwe hare wat ek by Mona gekry het, moet die man seker nou al wonder oor my herkoms. En my sanity. Gmf. Laat hy maar lekker wonder. Pas my. Iewers gaan iemand vir Meneer Formeel moet inlig oor ’n paar dinge wat hy behoort te weet. Soos menseregte. Maar dit gaan nie ek wees nie. Gelukkig dink hy mos Moira is ek.

Ek gaan maak gou koffie, gaan sit weer en verander bietjie wat ek getik het.

Aangesien die gesondheid en veiligheid van my en my papegaai nou in die gedrang kom, eis ek onmiddelli­ke regstellin­g van die saak.

Lilian Beekman

Ek lees dit deur. Twee keer die woord “onmiddelli­k”? Dis oukei. Ek wil niks hoor van hoe eensaam die kat is óf koffie drink saam met die man nie. Nee. Onmiddelli­k is reg.

Ek kliek op Send en loop om te gaan stort. Ek kan ook net soveel keer laat wees vir werk voor Dricus besluit ek is dalk nie heeltemal so oulik nie.

* Op soek na Tretchikof­f deur Anita du Preez word uitgegee deur Quellerie en kos R260 by boekwinkel­s. Hou die September-uitgawe dop waarin jy Op soek na Tretchikof­f as deel van ons Lente SARIE Boekbederf kan bestel. Sien bl. 133 vir die huidige Winter SARIE Boekbederf.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa