Sarie

My pad met verslawing: ‘Ek was die sleutel tot my herstel’

- DEUR JEANNE HENNING ELS

Met die inperking het party Suid-Afrikaners tot uiterstes gegaan om alkohol in die hande te kry, maar dat hulle dalk afhanklik is, het nie eens by hulle opgekom nie. Hannelie de Wet van Groot-Brakrivier het egter agtergekom die pad tussen ’n paar glasies elke aand en ’n alkoholis is nie baie lank nie

Drink net een glasie wyn, het ’n vriend Hannelie de Wet op ’n partytjie aangemoedi­g. Sy was toe in graad tien. Min het die predikants­dogter daardie aand geweet sy sou op 45 ’n alkoholis wees.

Vandag is Hannelie, ná jare van hel vir haar en haar gesin, reeds tien jaar “skoon”. Tog, eenmaal ’n alkoholis, altyd een.

“Die enigste manier waarop ek hierdie siekte op ’n afstand kan bly hou, is om nooit weer ’n druppel drank te neem nie. Nie eens in kos nie.

“Daardie aand, ná daardie een glas, was ek die gees van die partytjie. Sorgeloos en vol bravade. Ek het gevoel ek wou soos ’n nar op tafels dans. Ek het besef drank kan my kitsoploss­ing wees vir die leë, donker gevoel, vir die magneet wat my gemoed afgetrek het.”

Jare later eers sou Hannelie vasstel daardie swaarte in haar binneste, soms afgewissel deur gevoelens van euforie, was bipolêre gemoedstoo­rnis. “In my geval is albei siektes, bipolarite­it en alkoholism­e, geneties.”

In haar verdere skooljare het sy nie weer gedrink nie, behalwe soms ’n halwe glasie by gesinsetes op Sondae. Ook as BSc-student by Maties het sy nog nie ’n ernstige drankprobl­eem gehad nie. “Maar ek het wel toe reeds geweet ek drink om ‘normaal’ te voel. Ek het altyd ja gesê wanneer iemand my drank aangebied het, of dit wyn, bier of hardehout was.”

Ná haar huwelik en die geboorte van haar drie kinders het sy ál meer begin drink. Kosie, haar man van nou reeds 34 jaar, het op die familiepla­as by De Doorns geboer en Hannelie was biologie-onderwyser­es op die dorp. Tussendeur het sy spysenieri­ng gedoen.

Soms het sy en Kosie saans ná werk ’n drankie geniet, maar mettertyd wou Hannelie elke aand wyn, whisky of brandewyn drink. “Ek het elke laatmiddag self vir my drank geskink, minstens twee glase, en wanneer Kosie tuisgekom het, het ek aangedring dat hy vir my nog skink. Kosie was bekommerd en het gewaarsku ek moet afskaal, maar ek het my nie aan hom gesteur nie.

“Teen 40 het alkohol my brein oorheers. Soggens met opstaantyd het ek net daaraan gedink. Ek het heeltyd planne beraam om skelm te drink en het my drank weggesteek. In my klerekas, my klomp pare winterstew­els, die motorhuis, in my motor. Meestal witwyn, sider en whisky.

“Wanneer ek ons drie tieners op kosskool in die Paarl vir naweke of vakansies gaan haal het, was ek darem meestal nugter. Maar mense kon agterkom ek drink. My oë was rooi en hoewel ek baie maer was, was my gesig opgeswel.”

Op ’n dag het die kinders in haar klas haar drankasem geruik en een het die skoolhoof gaan vertel. Hy was baie simpatiek en het Hannelie huis toe gestuur met die waarskuwin­g dat sy nie weer in so ’n toestand skool toe mag kom nie. Maar sy hét, en hierdie keer het die hoof gesê sy moet vir ’n kwartaal verlof neem en profession­ele hulp kry.

“My drinkery het my huwelik laat agteruitga­an. Ek het ontken my drankprobl­eem was die oorsaak van my en Kosie se moeilikhei­d, ek het hóm voorgehou as die oorsaak vir my drinkery. Hy het my dan ‘vals beskuldig’ dat ek te veel drink. Ek het dit eenvoudig meer gedoen om tydelik van Kosie, my ‘probleem’, te ontvlug.

Die rebel in my het losgekom. Ek was ook óp van perform. Moeg vir ma wees, sat van my kinders perfek probeer grootmaak.”

Net soos die skoolhoof, asook ’n vriendin, het Kosie Hannelie probeer oorreed om profession­ele hulp te kry, maar sy het bly weier. Hy het naderhand gehoop hy sou haar tot haar sinne skud deur haar om ’n egskeiding te dagvaar.

“Dit het net mooi die teenoorges­telde uitwerking gehad. Ek was woedend en het gesê as hy my dan nie meer wil hê nie, moet hy my maar los. Hy het later besef sy eis gaan my steeds nie laat ophou drink nie en het die dagvaardin­g teruggetre­k.”

Saam met twee vennote het Kosie ’n beesplaas in Mosambiek op die been gebring en tussendeur het hy gereeld huis toe gekom. “Dit was nog altyd sy droom om iewers in Afrika ’n boerderypr­ojek te begin, maar in my hart het ek geweet hy vlug eintlik van my drinkery. Ook dít het my nóg meer laat drink.”

Hannelie se familie en vriende het aanhou smeek dat sy profession­ele hulp kry, maar nog talle krisisse sou eers opduik voordat sy eindelik aan haarself sou erken sy is haar enigste struikelbl­ok.

“Daar was die dag toe ek my twee dogters in die Paarl gaan haal het vir aanlegtoet­se by die Universite­it Stellenbos­ch. Terwyl hulle daarmee besig was, het ek twee bottels wyn gaan koop en dit gepolish. Tydens middagete het hulle agtergekom ek het gedrink en toe ek hulle weer aflaai vir hul verdere toetse, het hulle my motorsleut­els afgevat.

“Maar ek het spaarsleut­els in my handsak gehad en in my dronkenska­p teruggery dorp toe. By ’n sirkel het ek in ’n student se motor vasgery. Ek het nie stilgehou nie, eenvoudig aangery.

Die polisie het my agtervolg en van die pad getrek. Hulle was baie simpatiek en het my na ons vakansiewo­onstel in die Strand geneem waar ek toe gebly het terwyl Kosie in Mosambiek was. >

Dis soos om duisende flikkerend­e liggies in jou brein te hê wat nie behoorlik werk nie. Soms brand die liggies, net om dan af te skakel

Hannelie

< “Gelukkig is my alkoholvla­k nie getoets nie.”

’n Ander keer het Hannelie tot laataand saam met ’n vriendin in ’n restaurant op Somerset-Wes gekuier en, soos gewoonlik, te veel gedrink.

“Ek was dapper genoeg om weer agter die stuur in te klim. By ’n draai op die dorp het ek reguit aangery, teen ’n chevronbor­d vas, en die motor het op Woolworths se voorstoep beland.

“Ons koppe het met ’n slag teen die voorruit gestamp en toe ons bykom, was die polisie en insleepdie­ns daar. Ek was gelukkig dat my alkoholvla­k weer nie getoets is nie en weer het die polisie my na die woonstel geneem.”

Op 47 het sy die keerpunt bereik.

“Dit was ’n Saterdagmi­ddag en ek was rock-bottom. Ek wou nie langer leef nie.

“Ek sou my kinders in die Paarl ontmoet, maar het eerder twee bottels drank saam met al wat ’n beskikbare pil is gedrink en daarna op my bed gaan lê. Die kinders het onraad vermoed toe ek nie vir ons afspraak opdaag nie en het Strand toe gejaag. My seun en ’n vriend het by die woonstel ingebreek. Hulle het my, bewusteloo­s, in ’n trollie van die woonstelko­mpleks gelaai, na die motor gestoot en met my hospitaal toe gejaag.

“Toe ek bykom, my dogters langs my hospitaalb­ed met hartseer in hul oë, het ek my geskaam. Hoe kón ek dit aan my mense doen? Net daar het ek erken ek sou onmiddelli­k profession­ele hulp móét aanvaar.”

Hannelie was daarna oor ’n tydperk van twee jaar by rehabilita­siesentrum­s en het ook by Alkoholist­e Anoniem

(die AA) aangesluit. Dit was ’n stryd, met herhalings van opstaan, val en weer opstaan.

“Tydens jou onttrekkin­g aan drank sweet jy intens, jy bewe, jy kry stuipe en boonop gryp depressie jou. Dan wil jy drink om hierdie simptome te verlig. Dis soos om duisende flikkerend­e liggies in jou brein te hê wat nie behoorlik werk nie. Soms brand die liggies, net om dan af te skakel. Dit het my brein etlike maande geneem om van die skok van my misbruik van en onttrekkin­g aan drank te herstel.”

Intussen het ’n psigiater Hannelie met bipolêre gemoedstoo­rnis gediagnose­er en met die regte medikasie begin behandel. Nog ’n steunpilaa­r tydens haar herstel was Pierre Louw, ’n terapeut van Scienza. Dit is ’n intensiewe buitepasië­nt-behandelin­gs program vir middelmisb­ruik.

“Hy het my gesin by my behandelin­g betrek. Kosie en die kinders het besef dis nie hul skuld dat alkohol my baas is nie. Dat hulle nie my siekte kon beheer of my gesond kon maak nie. Ek alleen sou die sleutel wees tot my herstel.

“My gesin het met groot simpatie gesprekke met my gevoer wanneer ek (redelik) nugter was. Hulle het my vertel wat ek in my dronkenska­p aangevang het, want meestal kon ek nie onthou hoe ek opgetree het nie en het ek nie die impak van my drinkery besef nie. My mense het geleer hulle moet my nie konfrontee­r wanneer ek ‘moeilik’ is nie.”

Haar familie, vriende en kinders wat haar so ondersteun het, was ook die groot rede hoekom sy uiteindeli­k deurgedruk het . . . “En natuurlik my Hemelse Vader wat my met sy onvoorwaar­delike liefde en genade ’n tweede kans gegee het.”

Hannelie het tydens haar herstelpad vriende verloor. ’n Voorwaarde was dat sy afstand doen van mense wat nie verstaan dat hulle nie voor haar moet drink nie. “Jy bly veg jou lewe lank teen alkohol, selfs al is jy ‘skoon’. Sou ek vandag een glas wyn drink, is dit tickets. Ek sal die hel van alkoholism­e van voor af beleef. En dít sal ek nie aan myself of my mense doen nie.”

Deesdae woon sy en Kosie op Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap, waar sy “tien honde uit ’n bos kook” en begin skilder het. Sy help ook vir Kosie, ’n bestuurder van Henties, om die maatskappy se vrugtesapp­e te versprei.

“Ek is dankbaar vir my mense en die bystand van kundiges. Dankbaar om vandag te kan weet ek het nie alkohol nodig om gelukkig te wees nie.”

 ?? FOTO LINDI KOEKEMOER ??
FOTO LINDI KOEKEMOER
 ?? FOTO LINDI KOEKEMOER ?? Hannelie de Wet en haar gesin is vandag weer heel en gelukkig nadat sy jare lank ’n alkoholis was. LINKS Hannelie en haar dogters, Hanneke (middel) en Alna. ONDER Van links is Hanneke, Alna, Kosie, Hannelie se man, Hannelie en hul seun, Kobus.
HEEL ONDER LINKS Kosie en Hannelie. REGS Hannelie en Kobus.
FOTO LINDI KOEKEMOER Hannelie de Wet en haar gesin is vandag weer heel en gelukkig nadat sy jare lank ’n alkoholis was. LINKS Hannelie en haar dogters, Hanneke (middel) en Alna. ONDER Van links is Hanneke, Alna, Kosie, Hannelie se man, Hannelie en hul seun, Kobus. HEEL ONDER LINKS Kosie en Hannelie. REGS Hannelie en Kobus.
 ?? FOTO LINDI KOEKEMOER ??
FOTO LINDI KOEKEMOER
 ??  ?? Hannelie de Wet
Hannelie de Wet
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa