Sarie

Redakteurs­brief

-

Op televisie is dit die nuus wat my trek; radio luister ek vir sake van die dag en die slimmighed­e en sêgoed van kenners en gewone mense soos ek en jy. Koerante – wel, dis my groot liefde. Van jongs af was dít my ding; eintlik was dit ’n familie-ding. Weeksdae, naweke, Sondae. Om nie te weet wat in die wêreld aangaan nie was ondenkbaar.

Toe dit by ’n loopbaan kom, het nuus loshande gewen. Eers as joernalis by Die Burger, toe Beeld. Nog lank voor my tydskrifda­e en ’n ander inspireren­de wêreld my verwelkom het.

Maar steeds is daar min dinge wat my hart so laat klop soos ’n groot nuusgebeur­tenis. Die storie agter die storie. Hoe dinge inmekaar pas en wat uiteindeli­k die ware toedrag van sake is.

Byna geen storie is groter as die een waarin die wêreld hom tans bevind nie. Covid-19. Die pandemie wat sy skemergesi­g stuk vir stuk wys en ons aanhou verbyster. Ons dwing om na ons wêreld en onsself met ander oë te kyk.

Vanoggend, soos elke vroegoggen­d, klik ek op aanlyn nuusplatfo­rms om op te vang op die jongste. Môre, Suid-Afrika, hoe lyk jy vandag? Wat het oornag in die wêreld gebeur waarvan ek moet weet?

’n Beeld van die coronaviru­s groet my, wéér. ’n Half verspotte dingetjie, dink ek, maar só dreigend. En onnodig helder, want kenners sê die virus is kleurloos. Ek rol af, en af, al met die nuuslys en lees vinnig die opskrifte. Ek wil positief bly, want ons móét. Maar selfs vir ’n nuusmens soos ek word elke dag se lees moeiliker. Woorde slaan soos ’n koue hand om my hart. Die waarheid maak seerder as wat ek ooit kan onthou.

Die werklikhei­d van Covid-19 en waarskuwin­gs dat die ergste SA nog gaan tref, geldmarkte wat val, besighede wat snak na asem om te oorleef of reeds hul laaste asem uitgeblaas het, mense wat hul werk verloor, politieke gekkigheid en die skokkende geweld teen vroue en kinders vervul my met doodgewone angs. Ek bly soek, net iets om te lees wat hoop bring.

Dan sien ek Herman Lategan se Rapport-storie op Netwerk24 raak:

“’n Lewe: Dame Vera Lynn was ’n simbool van optimisme.” Hoe dikwels het ek nie saam met my ouma haar bekende “We’ll Meet Again” en “The

White Cliffs of Dover” gehalf-sing nie. Hoewel ek toe nie die konteks en impak verstaan het nie, kon ek klein-klein die verlange in haar musiek herken. Uit dankbaarhe­id vir iets meer positiefs lees ek oor dié merkwaardi­ge Britse sangeres wat wêreldwyd bekend geword het toe sy tydens die Tweede Wêreldoorl­og vir die troepe gesing het. In donker tye hoop gebring het.

Sy is ’n paar weke gelede op 103 aan natuurlike oorsake oorlede, maar, sê die berig, sy was tot aan die einde van haar lewe relevant. In ’n onlangse YouTubevid­eo het sy saam met ’n groep verhoogste­rre die einste “We’ll Meet Again” gesing met dié boodskap: Ons sál weer ons voete vind, ons sal weer floreer.

Ek sluit my oë vir ’n oomblik. Dís die storie waaraan ek vashou. Ek klou vas aan die een met die liggie.

Tot ons weer gesels wanneer ons September-uitgawe vanaf 21 Augustus op die rak is. Net weer ’n herinnerin­g, ná elke winter ís daar ’n lente.

* Lees ook op bl. 48 ons artikel oor relevante vroue met gravitas: dame Judi Dench, Elsabé Daneel, Sandra Prinsloo en Sonja Herholdt.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa