Sarie

Nataniël sê

Dis weer ’n halwe dag, al die gewone ure, maar ’n beperkte belewenis.

-

Het ek tee gedrink? Ek kan nie onthou nie, ek het niks geproe nie. Ek weet Diane het gebel, ons het gelag, sy’t iets gesê oor haar nuwe hondjie, maar ek kan nie regtig onthou nie. Ek weet daar was middagete, die res het my snaaks aangekyk toe ek die bord voor my weggestoot en gaan roomys inskep het. Ek was lus vir die koue, dit maak my minder benoud.

Daar is boodskappe op my foon, ’n klomp, bel asseblief terug, so gou as moontlik. En gewoonlik doen ek dit, ek is mal oor ’n foongespre­k, ek rek dit uit so lank as moontlik en stap terselfder­tyd ’n kilometer of twee. Maar nie op halwe dae nie, ek raak uitasem. En ek moet myself herinner om te reageer, ek bly vergeet.

Die dag ná ’n halwe dag is ek doodmoeg, ek voel beter, maar vroegmidda­g moet ek gaan lê, soos in die ou dae wanneer ek tot laatnag gekuier het, die een glas ná die ander in my hand.

Uiteindeli­k is daar weer ’n volledige dag, ek is opgewonde oor ’n projek, ons skarrel om alles gereed te kry, daar is nuwe lap, nuwe ontwerpe, nuwe musiek, nuwe stories, nuwe resepte, nuwe asems wat deelneem. Ná so ’n dag is daar skaars moegheid, slaap is simpel en onnodig, daar is soveel om na uit te sien.

Dan wonder ek weer. Wat is verkeerd met my, hoekom laat ek so gereeld die tyd ontsnap, verloor my gereedskap, my gehoor, smaak, belangstel­ling en energie?

Die antwoord kom vinnig en altyd dieselfde: kommer. My bekommerni­s is ’n roofdier wat my kan stroop van rede, intelligen­sie, postuur, goedheid of geduld.

Sien niks, hoor niks, loop gebukkend, klou aan mure, hyg na asem, wys geen goedheid, herken geen vriende. Soos ’n plathand kom sit dit laag agter op my rug, soos ’n minnaar streel die hand op en op, hoër en hoër tot by my nek en agter teen my skedel. So ook kom die spierpyn, die stramheid, stywe nek, kopseer, prikkels in die hand, oë wat swaar voel, die droë mond.

Kommer het simptome, later só bekend dat sommige instinktie­f gryp na medikasie, ander weet die dag is verby, daar is nie onmiddelli­ke gevaar nie, net ’n nagmerrie wat nie onderskei tussen lig of donker, sit of staan nie. En die kwellinge is oorvloedig: ouers, kinders, veiligheid, finansies, spertye, politiek; nou meer as ooit lê onsekerhei­d, die opinies van elke doemprofee­t, elke opstandige en elke selfgekroo­nde wyse man, ook ontstellen­de nuus en teenstrydi­ge inligting.

Met die hulp van slimmes het ek ontdek dat ek kommer eerstens moet beveg met fisiese aktiwiteit­e. Genadiglik is dit so dat die lyf hier meer help as die kop, nóg slimmighed­e sou enigeen gek hê. Oefen, stap, strek, asemhaal, die tuin beleef, die maan bekyk, klavier speel, nog koeke bak, die skottelgoe­d was, hierdie aktiwiteit­e bring geen oplossing nie, dit is wel ’n pouse, trek die aandag af, forseer die fokus terug na ’n enkele taak. Dit bring logika, oomblikke van emosionele rus, hopelik die besef dat ander ook vrees het, dat elkeen smag na sekuriteit, dat daar wel hulp of ’n gewillige oor is, dat kommer net glamorous in dramas is, nie van jóú ’n held maak nie.

Langdurige kwellinge word ’n leefstyl, die tradisie van swaarkry word tweede natuur, jy vergeet hoe ’n ligter daaglikse bestaan voel en uiteindeli­k manifestee­r dit in meer kwale as wat ek hier kan opnoem.

Kommer is ’n leeu in die agterplaas, oulik as dit klein is en iets om oor te gesels. Maar dit groei en bly vasgevang en is op die verkeerde plek en gaan jou beslis verskeur as jy dit nie vrylaat nie. Nou, hier, moet ons mekaar herinner aan die dae voor die leeu. Ons moet mooi praat, ook lag, mekaar dophou en dwing na verligting.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa