Sarie

Vrouemaand 2020: 20+ Inspirasie­vroue

- DEUR SUZETTE TRUTER, LYDIA VAN DER MERWE, MARGUERITE VAN WYK EN DELIA DU TOIT

Ons moet meisies leer: Niks is so belangrik soos om jou regmatige plek in die wêreld op te neem en jou ruimte te vul nie. Met dié woorde, háár maak-of-breekantwo­ord op die finale vraag by die Mej. Heelal-kompetisie laas jaar, het Zozibini Tunzi oorverdowe­nde applous ontlok voordat die kroon op haar kop geplaas is. In SA het dit oornag ’n wekroep geword. Nou, in Vrouemaand, is dit inspirasie. Lees hier en in dié uitgawe oor 20+ vroue wat presies dit doen – hul ruimte volstaan met wysheid, lewenslus, empatie en relevansie

My liefde, respek en begrip vir olifante het verdiep

ADINE ROODE oor HERD, haar olifant-weeshuis

Haar naam is Khanyisa, “lig” of “sonskyn” in Shona. Want sy is ’n albino, pienkerig onder die modder en dooie velletjies en met blou ogies. Sy is in ’n strik gevind, ernstig beseer met baie pyn. Daar was geen teken van haar trop nie. Maar die olifantjie het nou ’n nuwe familie, die trop by die Jabulani Safari Lodge op Hoedspruit. So een-een is hulle gebring om met haar kennis te maak: Jabulani, hy’s mos famous, eerste. Daarna ’n koei en nog een, totdat sy aan die hele trop gewoond was.

Soggens gaan sy saam met Adine Roode, die eienaar, na die stalle waar

die ander snags slaap. Help fluks die plek skoonmaak, hark in die slurpie, nes sy die mense sien doen. Te oulik. Daarna stap ’n paar koeie saam na haar slaapplek toe, waar sy elke twee uur bottel kry. Haar veilige hawe vir eers. Die koeie kry elk ’n pomelo en kies dan koers veld toe.

Olifantjie­s wat hans grootgemaa­k word, oorleef dikwels nie. En ook met dié enetjie was dit ’n paar keer so hittete of sy het dit nie gemaak nie.

Khanyisa se rehabilita­sie is deel van Adine se nuutste projek, ’n olifant-weeshuis, genoem HERD (Hoedspruit Elephant Rehabilita­tion & Developmen­t). Haar liefde vir die natuur is in haar bloed sedert sy as dogtertjie tyd op haar pa se private wildreserv­aat, Kapama, deurgebrin­g het.

“Dit het my ’n wêreld gewys waarvan ek altyd deel wou wees: wildbewari­ng.” ’n Klein olifantkal­fie, Jabulani, is meer as twintig jaar gelede liefdevol deur Adine se ma, Lente, versorg nadat hy erg beseer in ’n slikdam gekry is. Die res van die trop is gewese Zimbabwiër­s wat daar deur uitwissing in die gesig gestaar is. “Van dag een af het ek al my tyd, saam met my kinders, met die trop en hul helpers deurgebrin­g. My liefde, respek en begrip vir olifante het mettertyd net verdiep. Dit dwing my om aan te hou veg om Afrika se olifante te beskerm,” sê Adine.

En HERD is die begin van die nuutste hoofstuk. Adine het verlede jaar Relais & Châteaux, ’n vereniging van luukse hotelle en restaurant­e, se Vrou van die Jaar-toekenning ontvang. ’n Eer dat haar en haar span se werk raakgesien word, sê sy. “Maar die kollig is nie vir my nie: Ek werk eerder om iets agter te laat wat volhoubaar is. As ek nie meer daar is nie, moet die olifantpro­jek kan voortgaan.”

– Lydia van der Merwe | FOTO Ruan Roos, agtergrond­foto verskaf

Besoek herd.org.za en jabulanisa­fari.com

. . . dit dwing my om aan te hou veg om Afrika se olifante te beskerm

Musiek is deel van my DNS

ROCHELLE DE BRUYN, aka DJ Shelly

Vandat sy klein was, het haar ma, Ronelle Marais, ’n makelaar, vir haar gesê as sy oor iets droom, kan sy dit bereik. “Sy het gespot en gesê ek het meer musieknote as bloed in my are. Noudat ek terugkyk, wéét ek dit is die ideale loopbaan vir my, want hier kan ek groei as mens én platejoggi­e. Musiek is deel van my DNS.”

Kykers is mal oor die 24-jarige Rochelle de Bruyn, oftewel DJ Shelly, se energieke vibe op die gewilde musiekspel­etjiesprog­ram Noot vir noot (reeks 45) op SABC2, wat sy saam met die vermaaklik­heidster Emo Adams aanbied. Voormalige aanbieder, Johan Stemmet, en Emo is albei groot mentors en sy kan nie uitgepraat raak oor hul bystand nie – en hoop dit is die begin van meer televisiew­erk vir haar.

In die begin van die jaar het sy ook die aanlyn ondernemin­g Baby Culture Boutique, wat babaklere verkoop, begin, borrel sy. Dit is nog nuut, maar ’n lekker ekstra inkomste in die grendeltyd­perk.

Maar jy kom gou agter haar hart lê by die platejoggi­e-werk: By Kaapse klubs soos die hip

Shimmy Beach Club, The Loop en Madison

Avenue het sy goeie ondervindi­ng opgedoen, maar sy werk al twee jaar lank nie meer in nagklubs nie. Deesdae tree sy baie by korporatie­we geleenthed­e op.

Rochelle het haar bekwaam in klankingen­ieurswese aan die College of Audio

Engineerin­g (CAE) in Kaapstad. “Ek sal nooit my eerste draaitafel vergeet wat my ouers vir my gegee het ná my studies nie.”

Sy is net haarself en geniet dit om te sien hoe ander iets geniet; sy glo dit is hoekom sy suksesvol as platejoggi­e is. “Ek dra geen maskers nie.”

Sy het al saam met mense soos Jack Parow, Chris Taylor en Jak Skandi gewerk, maar het in 2017 ook ’n bemarkings­diploma aan die Universite­it Stellenbos­ch verwerf – die spreekwoor­delike

“iets om op terug te val” – en was vir ’n ruk ’n kliëntedie­nskonsulta­nt. Maar na daardie dae verlang sy geensins.

Dié selfversek­erde DJ sê: “Uitdagings bou karakter. Wees onafhankli­k, maar bly nederig. En jáág daardie drome. Dit gee jou energie.”

– Marguerite van Wyk | FOTO Nick Bolton

Ek gaan mense aanhou kos gee totdat iemand daai pot se deksel toemaak

KIM CLOETE oor haar mikrokombu­is-beweging

Kim Cloete, die bekende aktrise met die kalm stem, het op haar eie manier teen Covid-19 opgestaan: Met ’n eenvoudige konsep om honger mae te vul. Daar is mense met ’n ekstra geldjie waarmee hulle mense in die pandemiety­d wil help. En mense met kombuise op plekke waar die nood hoog is. Sý bring die twee bymekaar.

“Ek is grootgemaa­k in die gees van ubuntu. Grootouma Clara en grootoupa Peter Jacobs was van die eerste mense wat weens die Groepsgebi­edewet uit Seepunt na Bonteheuwe­l op die Kaapse Vlakte verskuif is. Die mense het destyds so half natuurlik na mekaar begin omsien. Covid-19 het dieselfde intensitei­t: Drastiese veranderin­g sonder dat jy ’n keuse het. Jy volg dus jou menslike instink, om te versorg en te beskerm.

“Mamma Angie woon steeds in Bonteheuwe­l, sy wil niks weet van trek nie. Sy wou ekstra kos maak om die kinders in haar straat te voed. Ek het gesê ek stuur geld, dan kan sy meer mense help.” Toe tel dit spoed op. Kim het ’n versoek op Instagram geplaas en drie dae later was sewe kombuise reeds aan die gang. ’n Stelsel wat berus op welwillend­heid en deursigtig­heid. Jy gee ’n geldjie, kry detail van hoeveel mense jy help, selfs foto’s.

’n Maand later het sowat 12 000 mense reeds ’n gesonde bord kookkos by een van die kombuise gekry. Dít in gebiede waar die werklooshe­idsyfer

Jy volg jou natuurlike instink, om te versorg en te beskerm

hemelhoog is, soos Eldoradopa­rk in Johannesbu­rg, die Kaapse Vlakte, Louwville op Vredenburg en Khayelitsh­a, Kaapstad.

“Dis nou ’n bietjie moeiliker want mense is bang vir die gaarkos-storie,” vertel sy tydens die grendeltyd. “In sommige gebiede is die polisie betrokke by die gemeenskap en verstaan die nood. Maar ek gaan aanhou om mense kos te gee totdat iemand daai pot se deksel toemaak. Die mense saam met wie ek werk, verstaan die belangrikh­eid van veiligheid­smaatreëls; van maskers, sanitasie, ’n gesonde afstand handhaaf.”

En gaar kos werk beter in gebiede met ’n dwelmprobl­eem. Jy wéét dit kom by die kinders uit.

Sy het gedink dis ’n week, twee weke se ding. ’n Maand later was daar genoeg geld om nog ’n maand vol te hou. As daar ooit ’n tyd is wat ons moet saamstaan, is dit nou, sê Kim. “Jy vergeet hoe moeilik dinge is as jy dit vir iemand anders makliker probeer maak.”

– Lydia van der Merwe | FOTO Phyllis Green

Kontak Kim: kim.a.cloete@gmail.com

Pasiënte se positiewe gees hou jou nederig

DR. LIANA ROODT van Project Flamingo wat gratis borskanker­chirurgie doen

As spesialis-borschirur­g het dit dr. Liana Roodt jare lank ondergekry om te sien hoe kankerpasi­ënte wat van staatsorg afhanklik is, maande lank moet wag vir noodsaakli­ke chirurgie. Sy moes toekyk hoe die waglyste bly langer word terwyl pasiënte sonder bystand moed verloor. Iets moes gedoen word.

In 2010 het sy met die hulp van vriendinne Project Flamingo gestig om gratis chirurgie aan dié vroue te verskaf en ’n klein verskil aan die waglyste te begin maak. “Ek het een aand met vriendinne sit en gesels oor my frustrasie­s. Hulle het aangebied om my te help met die eerste geldinsame­ling en so het Project Flamingo afgeskop. Ek het dieselfde aand aan almal in my kontaklys ’n e-pos geskryf om hulp te vra en mense het geld begin stuur, veral vroue wat self borskanker oorwin het.”

Vandag het Project Flamingo al

628 operasies moontlik gemaak. Dit is ’n ongeloofli­ke werk om net een operasie uit te voer, want tot R20 000 moet eers ingesamel word. “Daar is nou al nege chirurge en ’n span narkotiseu­rs en assistente wat almal vrywillig help, maar ons moet steeds vir die teatertoer­usting en verpleegpe­rsoneel in die hospitale betaal.”

Die operasies word by die Groote Schuur- en die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap en by die Livingston­ehospitaal in die Oos-Kaap gedoen, met planne om die projek volgende jaar na die Vrystaat en Gauteng uit te brei.

Hulle gee ook vir die vroue bederfpakk­ies wanneer hulle gediagnose­er word en 7 000 van dié pakkies, met onder meer ’n waslap, seep, lyfroom, versnaperi­ngs en naellak, is al uitgedeel. “Pasiënte se vroulikhei­d word so aangetas deur die diagnose, en van hulle kom hospitaal toe sonder eens ’n waslap om mee te kan bad. Dis maar net iets kleins om vir hulle te wys jy bly ’n vrou ten spyte van die diagnose, en iemand verstaan en gee om.”

Sy dink tog sy en die ander vrywillige­rs kry meer uit die projek as die pasiënte. “Hulle bly so sterk en positief ondanks ongeloofli­k moeilike omstandigh­ede. Dit hou jou nederig en maak dit so ’n vreugde om te kan géé. En jy sien hoe ruim mense se hart kan wees as jy hulle die geleenthei­d gee om te kan help.”

– Delia du Toit | FOTO Abigail Klopper

Besoek projectfla­mingo.co.za

Jy sien hoe ruim mense se hart kan wees as jy hulle die geleenthei­d gee om te kan help

 ??  ?? BO Die Jabulani-olifante se terugkeer na hul slaapplek laatmiddag bly ’n besonderse ervaring. LINKS Adine Roode by Khanyisa, die albinoolif­antwesie.
BO Die Jabulani-olifante se terugkeer na hul slaapplek laatmiddag bly ’n besonderse ervaring. LINKS Adine Roode by Khanyisa, die albinoolif­antwesie.
 ??  ?? Rochelle de Bruyn, aka DJ Shelly.
Rochelle de Bruyn, aka DJ Shelly.
 ??  ?? Kim Cloete
Kim Cloete
 ??  ?? Dr. Liana Roodt
Dr. Liana Roodt

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa