BEGRAWE DIE ‘NIE ’N TANNIE’BRIGADE
Ek is ’n manlike leser van SARIE en het dit nog altyd as ’n tydskrif met hoë standaarde en puik inhoud ervaar. Keurig uiteengesit met ’n ietsie vir elkeen, selfs vir ons mans. My vrou koop die tydskrif en dan lees ek wanneer sy klaar is daarmee.
Nou is daar egter iets wat aan my begin krap, en dit is die alewige gekerm van verontregte tannies. Die nuutste een Alet le Roux in die Maart-uitgawe (Julle sê, “’n Stywe boete teen tannie”). Vir Alet wil ek graag sê die feit dat die mans nie veel jonger as sy is nie, diskwalifiseer haar nie om ’n tannie te wees nie, hoewel ek vermoed dat “ou Dikkes” [na wie sy verwys in haar brief] net lekker moedswillig was.
Die gekerm oor die tannie-ding het begin by ’n vrou van Namibië wat, nadat sy deur twee barmhartige Samaritane gehelp is, toe die vermetelheid het om die jong man in te vlieg met “wie is jou tannie?!”.
Ek wil sommer vir al die “tannies” daar buite sê, as julle vir iemand wil kwaad wees, dan moet dit vir ons as ouers wees wat vir geslagte ons kinders so opgevoed het, naamlik om ouer dames uit respek “tannie” te noem.
Nou verstaan ek dat dit soms onvanpas is, selfs vir ’n “oom”. Die oudword-ding is nie vir my skrikwekkend nie en om ouer as ander te wees is ’n gegewe. As die “tannie” dan soveel aanstoot gee, vra beleefd om liewer dame genoem te word.
Komaan, SARIE, begrawe die tannies. Hulle is benede jul waardigheid en in Jeanne Goosen se woorde: “Ons is nie almal so nie.” Duwweltjie in die skoen, Brackenfell