FASES IN DIE ONTWIKKELING VAN OSS
Prof. Porges beskryf drie evolusionêre fases betrokke by die ontwikkeling van ons outonome senustelsel (OSS). (Wat bestaan uit die simpatiese en parasimpatiese senuweestelsel.)
IMMOBILISASIE, OF ROOI VERKEERSLIG
Die oudste breinbaan en dorsale deel van die vagussenuwee wat reageer op seine van ekstreme gevaar. Dit laat jou vries, nes daai geitjie wat dood speel as die kat hom vang. (Depressie, hulpeloos, dissosiasie.) “Slagoffers van trauma beskryf die onvermoë om te beweeg, die doodsheid van die liggaam,” verduidelik prof. Porges aan The Guardian.
MOBILISASIE, OF ORANJE VERKEERSLIG Die simpatiese senustelsel skop in, adrenalien bruis en jy hol weg (paniek, vrees). Of veg (woede, frustrasie, irritasie). Vandag hol ons nie meer vir ’n sabeltandtier weg nie, maar moderne stressors skop dit aanmekaar aan die gang: ’n sperdatum, kwaai verkeer . . . Die volgende breinbaan in die evolusionêre hiërargie.
SOSIALE VERBINTENISSE, OF GROEN VERKEERSLIG
Die nuutste toevoeging, geleë in die ventrale deel van die vagussenuwee wat reageer op seine van veiligheid. (Vreugde, deernis, nuuskierigheid, in-die-oomblik-wees.)
Jy’s veronderstel om naatloos in en uit dié verskillende fases te beweeg. En kan veiligheid, ’n sosiale verbintenis, in die arms van ’n geliefde vind. Netnou egter met gevaar gekonfronteer word, byvoorbeeld ’n kaping, of konflik met ’n kollega. Trauma, veral in gevalle waar jy gevries het, kan jou vermoë verwring om seine uit jou omgewing korrek te interpreteer. Selfs skadelose interpersoonlike seine kan ou trauma oproep en jou laat vries. Dit kan verhoudings keer op keer skipbreuk laat ly. Of jou in ’n afbrekende verhouding laat vries.
* Vir meer: Soek “The Polyvagal Theory: The New Science of Safety and Trauma” op YouTube.