Marilyn Monroe, Tretchikoff en die liefde . . .
Wat het Marilyn Monroe en Tretchikoff gemeen? Al twee was die inspirasie vir liefdesverhale deur skrywer en kunslektor Anita du Preez
In haar vorige boek, Mooier as Marilyn, lyk die hoofkarakter Desiree de Lange soos dié blonde seksgodin. In haar jongste verhaal, Op soek na Tretchikoff (Queillerie, R260), is Tretchi, die koning van kitsch, die inspirasie wat die aweregse kunstenares Lilian Beekman dryf. Sy is mal oor sy kuns, al gril haar vriendinne daarvoor. Ná haar egskeiding en bedanking by ’n kunsgalery in die Kaap bevind sy haar in Vishoek as ontwerper van tatoes. Sy woon in die bejaarde oom Heydenrych se huis ná sy trek ouetehuis toe. Boonop het sy sy papegaai geërf, sowel as ’n geheimsinnige buurman, die aantreklike Russiese kunstenaar Alex!
Die spitsvondige liefdesverhaal is vol drama en met Lilian in die omtrek spat daar gereeld vonke. Tog roer dit dieper temas van liefde, vriendskap, alleen ouer word en vergifnis aan. Net die regte leesstof om jou op te beur.
SARIE-boekeredakteur Phyllis Green het per e-pos met Anita du Preez gesels.
Kan jy onthou wat jou laat besef het jy wil stories skryf?
’n Brief aan SARIE. Many moons ago.
Ek het op skool al gehou van skryf, maar die eerste keer dat iemand iets geplaas het, was nogal ’n moment. Jy weet mos in jou binneste as jy iets kan doen. Jy kort net iemand om dit ook te glo. Nog briewe en ’n paar afgewysde pogings vir tydskrifverhale het gevolg. Later is iets hier en daar aanvaar.
Eers baie later, nadat ek my M-skripsie klaargemaak en ’n lugleegte ervaar het, het ek gehoor van NB Uitgewers se liefdesverhaalkompetisie. Toe tik ek. Drie stories. Toe vergeet ons daarvan en gaan hou vakansie.
Op ’n dag terug by die huis in PE bel iemand my terwyl ek in die supermark oor die vleistoonbank staan en vries. Om te sê al drie stories is op die kortlys. Ek stort net daar ’n paar trane op die mince. Om ’n lang storie kort te knip: Toe wen ek, en van toe af skryf ek.
Het jy ’n skryfroetine, of skryf jy enige plek, enige tyd?
O gaats, nee. Ek kan net op my ou rekenaartjie voor die venster skryf. Skuif my en my woorde droog op. Met elke trek na ’n ander huis rig ek die venster in en maak hom weer my eie. Ek raak die kolletjie gewoond en dan kom die woorde weer.
Skryfroetine? Ek sou graag een wou hê as almal my sou uitlos, want ek is nogal ’n roetine-mens. Jy staan soggens op met als in jou kop beplan, dan val die dag jou mos aan. Niks loop ooit soos wat jy wou hê dit moet nie. Dis oukei. Daar kom stil kolle.
Op soek na
Wat was die vonk vir
Tretchikoff?
Dis meer iets wat jare sit en smeul het. Ek’s van kleins af ’n fan van hom. Lank voor die nuwe belangstelling in hom. Eintlik is ek besig om al my gunstelinge uit te haal en af te stof en aan die werk te sit in my stories. Soos Marilyn Monroe en nou Tretchikoff. In my volgende boek is dit die Queen. Dis heerlik om navorsing te doen oor hierdie mense wat my nog altyd gefassineer het. Dit voel nie soos werk nie. Ek snuffel die lieflikste goed uit.
Is die titels van die begin af in jou kop?
Gewoonlik heel eerste. Soos met Mooier as Marilyn. Die res is net ’n vae gedagte waaroor ek wil skryf. Soms verander dit soos die verhaal vorder, soos met Op soek na Tretchikoff wat eers Die Rus teen my muur was.
Hoe skep jy jou karakters?
Hulle kom vanself. Ek tik net en as ek weer sien, is daar iemand. Dis nogal weird. Ek ontmoet hulle die eerste maal as hulle uit die toetsbord spring. Natuurlik het ek hulle al voorheen raakgeloop, maar nie altyd in die vorm waarin hulle hulself kom aanmeld nie.
En die romantiese held?
Ek hou van mans met donker hare. En verstand. Nie noodwendig perfek nie, maar altyd interessant genoeg om my aan die skryf te hou. Vir Alex het ek ’n foto van die mooiste mooi kunstenaar op Pinterest uitgekrap en as my screensaver gelaai. Maar dis net vir die show. Gewoonlik is daar elemente ingewerk van mense wat ek ken. Ook van myself. Dit werk maar net so.
Moet jou verhale altyd ’n gelukkige einde hê?
Dis die aard van die genre waarin ek werk. En omdat ek self daarvan hou. My karakters gaan deur diep waters soos ons almal, maar ek wil hulle nie daar los nie. Die meeste van ons kom darem anderkant uit, waar ons weer ’n glasie rooi op die lewe wil drink. Daar’s oorgenoeg slegte nuus. Veral nou. Daarom wil ek rêrig nie nou meer slegte nuus skryf nie.