Sarie

Redakteurs­brief

-

Een láng winter.

Dis seker hoe die laaste weke en maande vir baie van ons voel. Ons wêreld byna geset in tyd . . . asof ons wag vir iets om te gebeur. Net iéts om te verander.

Nou die oggend versteur iets die grys stilte voor my huis. Ek hoor jong stemme. Dis ’n vrolike gelag en gekwetter. Ek hardloop na buite om te gaan kyk wat aangaan. Oorkant die straat is ’n groepie meisies met kleurryke maskers wat drafstap ’n meter of wat uit mekaar. Hulle waai vrolik. Duidelik is hierdie ’n goeie weersiens. Vriendinne wat ná weke se grendeltyd uitbundig is in mekaar se geselskap.

Hul energie lig my dag en ek gaan sit met nuwe moed agter my rekenaar. Waaroor sou die meisies gepraat het, wonder ek. Vir almal het die wêreld drasties verander; nie een van ons is onaangeraa­k deur die pandemie nie. Maar vir jongmense moet dit ’n verbystere­nde nuwe werklikhei­d wees. Want jou jongmensda­e laat ’n blywende stempel op jou lewe vorentoe. Veral matriek en die laaste studentema­ande is ’n tyd wat eindig met ’n nuwe begin op die horison. Jy’t kans om te besin, groot besluite te oorweeg, afskeid te neem van die bekende, klasmaats en vriende te groet voor jy die wye wêreld met sy eindelose moontlikhe­de invaar. En daar’s rituele en tradisies wat die oorgang kenmerk en afsluiting bring. ’n Matriekafs­keid, ’n gradeplegt­igheid, ’n finale ete, ’n laaste stukkie kameraderi­e.

Hoe lyk die wêreld nou vir ons jongmense? Ek tel die nuustydskr­if Time op en lees die opskrif: “Generation Pandemic: A Global Crisis Changed Their Lives”. Die artikel skets hul vele emosies en ruk aan my hart.

Hulle het uitmekaar gespat dikwels sonder ’n kans om te groet. “Sien jou” het weke geword, toe maande met geen beduidende klaarheid nie. “Ons het ons eerste treë gegee soos die wêreld uitmekaar val”; “Ons jeug is oornag van ons weggeneem”; “Ons het ’n heel ander blik op die wêreld as jongmense net ’n paar jaar voor ons”.

Ons weet ook dat sosiale media, wat in dié tyd ons almal se behoud is, bydra tot gevoelens van angs en verwyderin­g. Want om te zoom werk net tot op ’n punt. Selfs voor Covid-19 het studies al gewys die digitale era vererger veral jongmense se eensaamhei­d en alleenheid. Dat almal ’n behoefte het om mekaar in die oë te kyk en ’n drukkie vir troos en aanmoedigi­ng uit te deel.

Dít alles sou waarskynli­k die trant gewees het van die meisies se gesels daardie dag voor my huis – al was dit so met ’n ompad.

Tog is dit die jeug wat my nou moed gee. Ja, dikwels is hulle in die verlede “Generation Snowflake” genoem. Te lig, te sensitief, te eiewys, te eiegeregti­g, te egosentrie­s geskat vir vandag se uitdagings. Maar ek stem saam met die tendensken­ner Li Edelkoort dat ons hoop juis dié op-en-wakker, kreatiewe jongmense is. Wat meer vasbyt as waarvoor ons hulle krediet gee, wat glo in eenvoud en integritei­t. Die moeilike vrae vra en weet dat dinge vorentoe anders gedoen moet word as die wêreld wil oorleef. Hulle gaan die iets wees wat ’n pad deur onsekerhei­d vind. Ons sal wys dis weer lente.

Tot ons weer gesels wanneer ons ewe op-en-wakker Oktober-uitgawe vanaf 18 September op die rak is.

* Lees op bl. 22 hoe ons SARIE Nuwe Gesig 2020, die 18-jarige Jonadrie van Aardt, die wêreld vandag ervaar.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa