Sarie

Nataniël sê

Hallo, Ma.

-

Hallo?

Dis ek!

Hallo?

Ek bel net oor die aflewering.

Hallo?

Kan Ma my hoor?

Duidelik!

Maar Ma bly dan net groet! Dis toe ek jou nie kon hoor nie! Ek sukkel met hierdie ding!

Dis die waarheid. Vroeg vanjaar is my ma se geliefde telefoon sonder aankondigi­ng of seremonie uit die muur geruk en vervang met ’n aaklige nuwe. Die Naamlose Monopolie (ook bekend as die Vrot, Vrot Voorsiener) het besluit ’n duidelike ontvangs is uit die mode, dit moet vervang word deur ’n oorgroot sewentigs-monster met ’n lugdraad en ’n simkaart, ’n skakelbord wat verhoed dat enige slaapkamer ooit weer vredig voorkom. ’n Hele kultuur, ’n volledige geskiedeni­s, die hoogtepunt van elke gewone dag is deur ’n ongenooide wese kortgeknip. Daar was dadelik trauma, my ma moes leer hoe om die monster te tem. Sy het nét begin vrede maak, toe is die lyn dood. Ná dertig oproepe – waartydens ek weer eens besef het hoe gereeld my stem aanvaar word as dié van ’n dame in haar tagtigs – is daar aangekondi­g dat die simkaart foutief is.

Terselfder­tyd begin die virus-afsonderin­g. Ek word honderd jaar ouer, kontak spioene en internasio­naal gesogte tonnelgraw­ers, dreig die Naamlose Monopolie met oorlog, maar uiteindeli­k moet ons aanvaar dat Ma se landlyn die duister binne is, sy nooit weer ’n klokhelder lyn sal ervaar nie, haar kontak met die buitewêrel­d is nou slegs moontlik met die tekortkomi­nge van ’n selfoon. Wat anders? gil ’n jonger geslag. Hulle weet niks. Soos Kerskaartj­ies, koeverte met sakgeld, foto-albums uit regte papier, koerantuit­knipsels en swart-en-wit troufoto’s, het die landlyn hulle verbygegaa­n. Die apparaat wat eens (soos die kombuis vóór televisie) die middelpunt van die huis was, wat sy eie ruimte en sitplek gehad het, wat ’n ander tekstuur aan die lewe gegee het as die kroniese gogga in die hand, is vir die meeste ’n vergange gesukkel, gebêre saam met warmwaters­akke en handgeskre­we briewe.

Ek onthou waar die foon gestaan het in elkeen van die huise waarin ons gewoon het. Ek onthou die luitoon eie aan elke huis, die tyd van die dag wanneer my ma met ’n koppie tee langs die foon gaan sit het, wanneer ek rondgetrip­pel het van ongeduld, wagtend op ’n maat se oproep, wanneer Ouma op ’n Saterdagmi­ddag gebel het, hoe ek haar langs haar gangtafelt­jie kon sien sit, die voordeur oop, die namiddagso­n oor die stoepplant­e.

Daar is beplan aan elke volgende oproep, daar was stories om te vertel, daar was werklike nuus, jou eie mure het platgeval, jy is meegevoer na ’n ruimte wat jy geken het en voor jou kon sien. Daar was die klank van die ander stem, presies soos wat ’n foonstem moes klink, presies soos die klank wat in rolprente gebruik is, dit was ’n oomblik.

Nog ’n oomblik was ’n onverwagte lui, vreemdes en verres wat op onverwagte tye wou praat, iemand wat geroep moes word (ná die opgewonde kind of agterdogti­ge ouer die foon beantwoord het), ons kon dowwe gesprekke hoor. Intrige! Ons was onbederf, ’n landlyn was ’n ding vol misterie, daar was vraagteken­s (Hoekom nou? Hoekom sy?) en daar was romantiek, die landlyn was die enigste ding wat afstand kon oorwin, daar was ook etiket, die regte manier van groet. En bo alles: die gehoorstuk wat woedend neergegooi kon word op ’n dramatiese oomblik.

Ongemaklik? Outyds? Beperk? Nee! Daar was matigheid. En uitsien! En voorbereid­ing! Die landlyn het homself nooit in die rede geval nie, nie gepiep of boodskappe kom rondgooi nie, daar was onverdeeld­e aandag, respek en ’n SEIN!

Die wêreld is ’n nuwe plek, ons het geen idee wat wag en hoe die kuiers van die toekoms mag lyk nie. Vir my, wat ’n foon liefhet en nie drank of fisiese teenwoordi­gheid nodig het vir ’n lang, lywige kuier nie, is alles in die haak, gee my net af en toe die seremonie en stilsit van die landlyn!

 ??  ?? KAALKOP
KAALKOP

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa