Sarie

Leandie: Sterker ná haar seer

Sy’s ernstiger, meer volwasse. Die laaste paar jaar met sy swaar en seer het haar vele lewensless­e geleer. Maar dít weet Leandie du Randt: Om die beste te maak van wat sy het, is een van haar sterk punte

- DEUR DELIA DU TOIT FOTO’S MARIJKE WILLEMS STILERING FANIE CRONJÉ HARE & GRIMERING ALEX BOTHA

Hoe jy jouself optel en aangaan as dinge skeefloop, is die belangriks­te

Leandie

Leandie du Randt het die afgelope drie jaar, sedert sy laas op SARIE se voorblad was, verander. Weg is die boheemse meisie wat toe in ’n vintage-blomrokkie met ’n hoë kraag en bruin toerygleer­skoene by die onderhoud opgedaag het.

Voor jou sit ’n vrou met ’n deftige swart bloes, ’n reguit, skouerleng­te haarstyl en groot hoepeloorb­elle. Sy lyk soos ’n suksesvoll­e sakevrou, eerder as die jong aktrise wat tóé pas die werklikhei­dsreeks Slank op kykNET begin aanbied het.

Slank is nou al in seisoen vier, met ’n vyfde op die horison, en Leandie se lewe lyk baie anders. Sy moes moeilike tye trotseer nadat sy en die musikant en akteur Bouwer

Bosch net meer as ’n jaar gelede geskei is, maar sy kan nou begin terugkyk en die lesse uit die egskeiding asook ander veranderin­ge in haar lewe raaksien.

Deesdae is sy net so bekend vir haar motivering­spraatjies as vir haar werk as aktrise. Dit is ook die grootste deel van haar inkomste, sê sy. Haar nuutste praatjie, “Dis oukei om jouself te skei (van alles)”, handel deels oor die lewensless­e wat sy met haar egskeiding geleer het. “Dit gaan oor hoe om ’n victor te wees en nie ’n victim nie. Moeilike dinge gebeur in almal se lewe, maar dis wat dit is. As jy niks daaraan kan doen nie, kan jy steeds beheer hoe jy daarop reageer.”

Leandie vertel sy het lank introspeks­ie gedoen om die lesse raak te sien. “Ek het ná die egskeiding nagedink oor wat gebeur het en hoekom dit gebeur het. Hoekom het ek getrou? Hoekom het ons geskei? Watter besluite het ek wanneer geneem en hoekom? Dis hoe ek vrede begin vind het. Ons gaan doelloos deur die lewe en spring van die een ding na die volgende sonder om na te dink oor die redes daarvoor. Totdat iets traumaties gebeur en jy gedwing word om te gaan sit en na jou lewe te kyk. Nou doen ek dit daagliks. Ek vra myself af: Hoe was my dag? Hoekom het ek daardie ding só hanteer? Kon ek dit anders hanteer het? Hoekom voel ek so? As jy dit nie doen nie, neem jy nie verantwoor­delikheid nie, jy word ’n slagoffer. Eendag gaan jy wakker word en nie meer weet wie jy is nie, want jy het afhanklik geword van eksterne faktore – hetsy die lewe se gebeure, die samelewing se verwagting­e, of jou maat se verwagting­e.”

En toe doen sy boonop een van die moeilikste dinge tot dusver in haar lewe: Soek tien redes hoekom sy dankbaar is haar huwelik het verbrokkel. Iets wat sy ook gedoen het toe haar ma, Elmarie, in 2014 aan Alzheimer se siekte dood is.

Sy vertel dit het haar destyds baie gehelp. “Dis ongeloofli­k moeilik, want jou ma se dood en jou egskeiding is sulke negatiewe dinge, wat is positief daaraan? Maar dis hoe ek begin gesond word het. Ek het byvoorbeel­d șmet my egskeiding­ț besef ek is nou dankbaar vir die geleenthei­d om myself te herontdek, om weer lief te word vir myself, om nie weer van ’n man se liefde afhanklik te wees nie, vir die besef you can be the juiciest peach in the world, but not everybody likes peaches. Ek het geleer sonder my vriende en familie is ek niks nie – ek sou dit nie deur die jaar gemaak het sonder hulle nie.”

Nou leef sy eenvoudige­r en dit word weerspieël deur haar nuwe, meer simplistie­se klerestyl. Ander veranderin­ge is nie op die oog af sigbaar nie. “Ek dink ek het meer ernstig en minder sensitief geword ná my egskeiding. Ek blok nou mense wat my seermaak op sosiale media. Ek lees nie meer Facebookbo­odskappe nie. Wat ek nie weet nie, kan my nie seermaak nie. Maar as iemand nare kommentaar op my plasings lewer, blok ek hulle en ek bless hulle, want mense wat boelie, gaan deur slegte tye en wil beter oor hulself voel. As dit goed gaan met jou en jy leef jou eie lewe, gaan jy mos nie omgee of tyd hê om nare kommentaar te lewer nie. Dit gaan nie vir my oor hoeveel volgelinge ek het nie, maar oor die soort mense wat ek in my lewe toelaat.”

In haar praatjies moedig sy vroue aan om ook só die dinge wat die samelewing van jou verwag, te laat vaar. “Ek gesels oor daardie lysies wat ons almal opstel weens ander se verwagting­e: dat jy teen 28 moet trou, kinders móét kry en hoeveel, hoe jy moet lyk of optree. En as jy dit nie regkry nie, voel jy soos ’n mislukking. Dikwels nie eens oor jou eie wense nie, maar oor ander mense s’n. Laat gaan daai lysies en dink na oor wat jy regtig vir jouself wil hê. Skei jouself van vriende wat nie daar is vir jou nie, van die samelewing se verwagting­e, van dít wat nie bydra tot jou lewe nie.”

Hierdie en ander wenke word saamgevat in ’n nuwe boek waaraan Leandie nou skryf en wat volgende jaar verskyn. >

< Ook die boek is vir die meer volwasse mark wat haar deesdae volg.

“Dié keer skryf ek vir vroue van my ouderdom, veral vir ons generasie wat die lewe baie anders sien. My eerste boek, Gemaklik in jou eie lyf șPenguin Random House, 2014ț, was vir jong meisies, oor dinge wat jy ondervind in jou tienerjare – ek was self maar 23 toe ek dit geskryf het. Maar my gehoor het saam met my ouer geword. Hierdie keer het ek my volgelinge op sosiale media gevra waaroor hulle wil hê ek moet skryf. Van die dinge wat uitgekom het, was hoe my geloof werk, hoe ek gesond eet maar steeds ’n glas wyn kan geniet, hoe ek werk en rustyd balanseer, hoe ek trauma hanteer. Dit gaan ’n samevattin­g wees van verskillen­de life hacks oor dié dinge, hoe ek geleer het om al hierdie fasette so goed te bestuur soos wat ek kan.”

Huweliksra­ad is daar nie. “My huwelik het misluk, hoe kan ek vir mense raad gee? Ek het nie al die antwoorde nie; ek kan net deel waardeur ek al in my eie lewe is en wat ek daaruit geleer het. Dit verbaas my altyd as mense dink ek is so suksesvol dat hulle nie die mislukking­s sien nie. Maar dís die belangriks­te – nie jou sukses nie, maar hoe jy jouself optel en aangaan as dinge skeefloop. Een ding waarmee ek wel goed is, is om uit my foute te leer en die beste te maak van wat ek het.”

Nog iets wat sy nie noodwendig as ’n sukses beskou nie, is die Skoonma-klerereeks wat sy in 2017 begin het. “Ek het daardeur besef ek is nie ’n bestuurder nie – ek moes Skoonma stop omdat ek nie kon byhou nie; dit het my heeltemal laat uitbrand.”

Eers het haar skoonma, Marie Bosch, die klere gemaak, maar later het Leandie ’n span van agt naaldwerke­rs gehad wat dit oorgeneem het. “Teen daardie tyd het ek amper ’n senu-ineenstort­ing gehad, ek kon net nie by alles uitkom nie. Dit was ook baie harde werk vir baie min wins. Toe besluit ek om dit eers te stop. Dit bestaan nog, maar daar gaan niks aan nie. Dalk sal ek dit weer aan die gang kry, dalk nie. Ek besluit nog. Ek is net nie iemand wat dinge half kan doen nie. Ek moet my alles kan gee. So ons sal nog sien.”

Toe sy met Skoonma ophou, het sy al haar energie in

To Be Gift Boxes ingeploeg, die geskenkbok­s-ondernemin­g wat sy saam met haar skoonsus Michelle du Randt begin het. “Dit het vinnig gegroei en is soveel pret. Aanvanklik was dit net op bruide gemik, maar nou is daar ook bokse vir mans, oumas, oupas, vriende. Mense kan op die webwerf, tobegiftbo­xes.com, uit verskillen­de bokse en produkte kies.

Daar is selfs ’n SARIE-boks!”

Dit, en natuurlik haar lojale volgelinge op sosiale media, hou haar nou baie besig. Leandie is een van ’n handvol Afrikaanse beïnvloede­rs (influencer­s) wat ’n inkomste uit sosiale media verdien – met meer as 250 000 volgelinge op Facebook en Instagram gesamentli­k. “Ek maak glad nie daarop staat as ’n inkomste nie, maar glo dit kan ’n goeie een wees, ook in Suid-Afrika. Verlede jaar het dit vir ’n vakansie Europa toe betaal! Dit was iets wat net toevallig gebeur het – ek is maar net baie gelukkig om so ’n platform te hê omdat ek ’n aktrise is. Maar ek het ook ’n passie vir bemarking. Nog altyd, as ek ’n produk sien waarvan ek hou, sal ek mense vra om vir my ’n foto te stuur en dan maak ek ’n inskrywing op my sosialemed­iaplatform­s, want ek weet hoe moeilik dit is om ’n nuwe ondernemin­g te bemark. Eers so twee jaar gelede het Suid-Afrikaanse maatskappy­e daarvoor begin betaal. Ek sal kontrakte met groot maatskappy­e aangaan, maar met klein ondernemin­gs doen ek dit in ruil vir produkte – en soms, as ek regtig in iets glo, doen ek dit gratis en bied dit uit my eie aan.”

Sy is wel baie versigtig oor watter produkte sy bemark. “Ek is een van daai mense waar jy maklik kan sien as ek jok, so ek bemark net produkte waarvan ek self hou en gebruik. Net laas week het iemand vir my sportklere gestuur. Ek het net een baadjie bemark en die res teruggestu­ur, want ek is nie ’n oefenmens nie.”

Wat dan van Strictly Come Dancing 7 (2014) toe sy die eindronde gehaal het? “Nee, ek het nog nooit weer gedans nie . . . dalk terwyl ek vir my wyn ingooi in die kombuis!” lag sy.

Sy het álles ingesit vir daardie program, sê sy, maar nie omdat sy mal is oor dans nie. “Om hard te werk is maar net in my bloed. My ma het in een stadium vier verskillen­de werke gehad, en my pa, Neels, het ook nooit stilgesit nie. Ek dink ek is net so gebore, dat ek besig wil wees. Op skool het ek ook nie aan net een naskoolse aktiwiteit deelgeneem nie, maar drie op ’n slag.”

Só lyk haar lewe ook nou: ’n boek om te skryf, toere vir haar motivering­spraatjies wat voorlê, ’n geskenkbok­s-ondernemin­g én ’n nuwe rolprent wat later vanjaar verskyn. Daaroor kan sy ongelukkig nog niks sê nie, maak sy verskoning, buiten dat Stiaan Smith teenoor haar in die hoofrol speel en dat die fliek “close to home” is.

Boonop is daar ’n nuwe liefde in haar lewe – Stephan Neethling, ’n televisiev­ervaardige­r. “Ek ken hom al vyf jaar – ons het ontmoet deur sy pa, Kobus Neethling, wat breinprofi­elontledin­g en -opleiding doen en saam met wie ek al baie gewerk het. Verlede jaar het ek en Stephan op ’n meer persoonlik­e vlak gekliek. Dis net great.

“Daar ís weer hoop as jy seergekry het. As jy weer ’n deel van jou hart kan oopmaak, sal dit weer kom. Ek sien uit daarna om te kyk wat gebeur op hierdie nuwe reis . . .”

Daar ís weer hoop as jy seergekry het. As jy weer ’n deel van jou hart kan oopmaak, sal die liefde weer kom

Leandie

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa