Individualiteit nou ín
Ons nuwe wêreld, elkeen op sy eie ‘eiland’, het ons kreatiwiteit vlerke gegee. Om weer ons eie ding te doen, op ons unieke manier. Soms as uitlaatklep, soms vir oorlewing, maar ook vir die vryheid en die avontuur. Kyk wat is die uitwerking daarvan op mode
Drá jou individualiteit. Dít is die hoofopskrif vroeër vanjaar van IANS Life, Indië se grootste tydskrif. In die meegaande artikel wei modeveterane uit en sê prontuit: Individualiteit is gróót in 2020.
Vergeet dus wat die “mode” sê en volg jou eie kop.
Woorde soos “outentisiteit” en “individualiteit” word trouens as die nuutste gonswoorde beskryf. (tamilmurasu.com.sg) SARIEmoderedakteur, Amaria Carstens, stem saam en sê dis ’n tyd van persoonlike
Ons gaan meer opdok vir klere en dit langer dra Anja Joubert FOTO VERSKAF
Die tuiskantoor gaan groot wees
Christiaan (Christo) Barnard FOTO VERSKAF
mode, meer as ooit kan jy buite die tradisionele grense van trends kreatief wees met jou styl.
Wêreldwyd is individualiteit die nuwe keuse, en nie net in mode nie. Dit som ’n zeitgeist op, meen dr. Morné Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch.
Met Covid-19 wat ons terugdwing in ons huise, funksioneer almal nou as “eilande”, want ons is geïsoleer. En dít veroorsaak dat ons lus is om te eksperimenteer: met kos, klere, dekor en leefstyl. “Dít is ontsettend belangrik vir kreatiwiteit. Jy kan nou eksperimenteer in jou eie ruimte, in die geheim. Jy deel dus net wat vir jou aanvaarbaar is,” sê dr. Mostert.
Volgens hom beïnvloed drie dinge ontwerp – of jy dit nou in ’n groep of op jou eie doen: funksionaliteit (hoe dit werk), bekostigbaarheid en estetika (hoe dit lyk). Weens die pandemie moet ons die gordel intrek en wanneer die ekonomie druk, is mense meer geneig om te fokus op funksionaliteit. Hy verduidelik: “Gestel ons woon op ons eiland, dan maak ons byvoorbeeld eers ons bed gemaklik want ons wil lekker slaap. Eers later kerf ons prentjies in die hout uit. Die estetika is steeds belangrik, maar nou bepaal óns hoe dit lyk. Op ons eiland gee ons nie ’n duit
om of dit voldoen aan die norme van die dekor- of modetydskrifte nie. Als gaan oor persoonlike interpretasie.”
Maar dié “nuwe” individualiteit het ook sy nadele, sê hy.
Want dit gaan gepaard daarmee dat ons baie van ons belewenisse deur middel van die tegnologie deel, nié noodwendig die beste manier vir kreatiewe mense om hul skeppende gedagtes te laat blom nie. “Voor die pandemie is mense se gedagtes gestimuleer op kantoor, deur saam met ander te brainstorm.” Dis dalk een verklaring vir die toename in alternatiewe kreatiewe uitlaatkleppe soos die wêreldwye bak-manie, die
Mense is lus om te eksperimenteer Dr. Morné Mostert FOTO VERSKAF
Kreatiwiteit ontstaan as jy nie ander opsies het nie Stefan Bekker FOTO PETRI OESCHGER
mens se behoefte om weer te dig, kitaar te speel, te skilder . . . Die tegnologie kan nie daardie tasbare, kreatiewe uitlaatkleppe voed nie.
Kreatiwiteit bied wel baie vryheid. Weg is die dae van móét-hê-modeitems. Truida Norval, ’n klerekasbeplanner en opgeleide klereontwerper van Port Elizabeth wat op ’n Karooplaas grootgeword het, sê haar ma het vir hulle truie gebrei en klere gemaak. “Deur die grendeltyd is ons gedwing om weer soos van ouds ons eie klerekas te ontgin, om te hergebruik, te meng en pas, om klere reg te maak, pleks van nuwes te koop. Dit is ook die ideale tyd om te ontklotter en dis bevrydend om meer bewuste verbruikers te word.”
Anja Joubert, tendensdirekteur by die aanlyn modewinkel Superbalist, sê die “modenarratief ” is besig om te verander. “Handelsmerke word al hoe meer as klassieke beleggings eerder as trendy mode-items bemark. Kopers gaan waarskynlik in die toekoms meer opdok vir klere sodat hulle dit langer kan dra. Die Italiaanse modehuis Gucci het byvoorbeeld aangekondig hy gaan sy vyf jaarlikse modeskoue tot twee verminder, wat dui op ’n seisoenlose benadering . . .”
Die Stellenbosse binneversierder Christiaan (Christo) Barnard* meen weens die pandemie is dit vir ons al hoe belangriker om veilig in ons wonings >
< te voel. Dit hang nou saam met die Deense hygge (goedvoel-knusheid) en niksen (die kuns van niksdoen) in Nederland, glo hy.
“Ons word nou gedwing om in ons huise vervulling te vind, waar ons voorheen angstig en skuldig gevoel het as ons nie deel was van ’n prestasiekultuur nie.” So vertel hy die tuiskantoor gaan groot wees, nie net ’n klein afskeephoekie iewers nie, want so baie mense werk nou van die huis af.
“Die voordeel hiervan is dat dit kreatiewe ontwerp gaan stimuleer van nuwe beligting, berging, kantoormeubels, klankdigte ruimtes, skerms vir byvoorbeeld video- en Skype-oproepe en -vergaderings.”
Kleintyd se skep uit min op die plaas kom my nou goed te pas Wilhelmina Thirion Garção FOTO REBLEX PHOTOGRAPHY
Ek sal al reisende vir kliënte werk JP Gernaat FOTO VERSKAF
Omdat ons lang rukke tuis gaan bly, word privaatheid al hoe belangriker. “Waar die oopruimteplan en kommunale leefruimtes vroeër baie gewild was, sal individuele ruimtes soos die kombuis om higiëniese redes meer afgesonderd raak. Ons gaan dalk nie meer so begaan wees oor die nuutste
‘in’ sofa en regte muurpapier nie, eerder oor lugsuiweraars. Óf ons gaan spesifieke vereistes hê oor monitors wat die luggehalte bepaal,” sê hy. “Miskien gaan ons ’n ultravioletlamp laat ontwerp – een van die nuwe tegnologiese wonders – wat bakterieë en virusse tuis doodmaak. En na alle waarskynlikheid gaan matte van ander stowwe gemaak word om makliker skoon te maak.”
As jy vir ouer mense sorg of iemand met diabetes in die huishouding het, benodig jy dalk unieke badkamerontwerpe met “slim” toilette (wat vroeë tekens van siekte kan opspoor), of outomatiese krane, wat nou in sommige openbare toilette gebruik word.
As die spreekwoord “die kliënt is koning” al ooit waar was, het die pandemie dit versterk. Als gaan oor die individu se behoeftes, meen Christiaan.
Luister jy na Bloemfonteiner Wilhelmina Thirion Garção, onthoukok-wenner van die kykNETwerklikheidsreeks Kokkedoor in 2019, is die “Wilhelmina-twist” nou groot.
Sy het grootgeword op Onseepkans in die Boesmanland, waar daar selde
vars produkte was. “My ma het my geleer om kos in te maak en met die inperking het ek kilogramme vyekonfyt gekook. My pa het met tamaties geboer, so ek het ver teruggedink na toe ek tamatie-en-gemmerkonfyt gekook het.”
Wilhelmina, eens ’n private sjef by ’n opskietrestaurant, bied nou ’n potgooi, In my kombuis, uit háár kombuis aan, waar sy met bekendes in die Bloemfontein-omgewing praat oor die rol van kos in hul lewe. Sy moes nuut dink oor haar loopbaan.
So praat Stevo Kühn, wat baristas oplei vir die Speciality Coffee Association (SCA) en al bekroon is as barista, met haar oor die maak van lekker koffie tuis en deel sý unieke resep vir ’n koffiemousse.
In ’n ander potgooi “jam” Wilhelmina en die groep Karoo Music: Hulle sing “Boesmanland” van Worsie Visser. “Ons Boesmanlanders hou mos van soet en sout, so toe skep ek ’n soet-souttertjie met spek, tamatie-en-brandrissiekonfyt en bloukaas om aan te sluit by die jam,” vertel sy. “Ek moes leer hoe om uniek te dink, en my individualiteit wat ek kleintyd geslyp het op die plaas, waar jy met min iets moes skep, kom my goed te pas.”
Binnekort begin sy ook Wilhelmina se tafel. Op dié kosnaweke op ’n vriendin se plaas buite Boshof in die Vrystaat gaan sy haar eie interpretasie van streekskos vir mense leer en laat proe. “Praat van individualiteit. Kos onder die boom in ouma se opskepskottels en swartpotte. Getjipte borde, kondensmelk in ’n blikbeker terwyl jy kyk na die vuur en ’n vlakvarkie of impalas by die watergat. Niks perfek nie, om aan te sluit by ons tyd.”
Die nuwe tuiskok gaan weer na vore tree en haar resepte moet gedokumenteer word, meen Stefan Bekker, uitvoerende sjef by die Erinvale-hotel op Somerset-Wes. “Die laaste paar dekades het ons so gewoond geraak aan geriefs- en kitskos wat net warm gemaak word. Die pandemie het mense laat besef hóé kreatief hulle is, asook dat dit nou die ideale tyd is om hul individualiteit te laat skitter en núwe toekomstige klassieke treffers te ontwerp. Kreatiwiteit ontstaan dikwels wanneer mense nie ander opsies het nie,” sê hy. “Families het saam begin kook omdat hulle die waarde van unieke ervarings besef en dít gee dikwels aanleiding tot oorspronklike resepte of improvisasies van die ou bekende geregte.”
Baie van ons was hartgebroke omdat ons nie in restaurante kon gaan eet nie, hoewel die ontwerpwebwerf dezeen.com vertel van ’n Franse ontwerper se pleksiglasskerms wat uit die dak hang en die kop en lyf bedek as jy uiteet. In Bangkok eet mense noedels met ’n skerm tussen hulle, en klein glashuise waarin mense twee-twee kan sit en eet (“eating pods”), is gewild by ’n restaurant aan een van Amsterdam se gragte. (delicious.com.au)
Die Johannesburgse lagjogafasiliteerder en geoloog John-Peter ( JP) Gernaat hou ook van ervarings. Hy beoog om volgende jaar met sy mobiele huisie van 8 m lank en 17,4 m2 groot deur plekke soos die Vrystaat, Karoo en Suid-Kaap te reis en ’n paar maande op ’n plek te bly voor hy aanbeweeg.
Dié besonderse woning, op ’n sleepwa, sal ’n staalraamwerk hê met witgeverfde buighout binne-in. Hy woon tans in ’n vraghouer om ’n gevoel van sy nuwe leefstyl te kry. “Ek het al ses huise en ’n woonstel besit en nog altyd gedink ek het nie soveel ruimte nodig nie.”
Tydens die grendeltyd het hy kans gehad om meer oor die klein blyplek se ontwerp te dink, hoewel hy drie jaar gelede al dié idee gekry het. Maar meer nog, hy kon nadink oor hoe hy ’n verskil kon maak. “Ek het ’n deel van my erfgeld belê om só te kan reis en sal nou al reisende vir kliënte kan werk, maar wil ook terugploeg op die plekke wat ek besoek.”
Hy is nog nie presies seker wát nie, maar wil volhoubare projekte in arm gemeenskappe begin. Klein groepies waar mense geleer word om vir hulself en hul gesin te sorg. Dit hoef nie reusebesighede te wees nie. As jy iemand leer bak of naaldwerk doen en hy kan vir homself en sy gesin sorg, gee dit menswaardigheid, meen hy.
“Ons kan nie verwag die regering moet na almal omsien nie. Gemeenskapswerk is so belangrik.
“Ek is ook mal oor goeie koffie en wil dit aan plattelandse gemeenskappe uit ’n koffiekarretjie verkoop. So leer jy sommer die mense op die dorp ken. Iemand kan help om dit te beman en op dié manier verskaf ek weer werk.”
Hy reken danksy ’n vol lewe kan hy nou so individualisties leef. “Ek het studeer, getrou, as geoloog vir De Beers gewerk, stokperdjies gehad, myself as lagjoga-instrukteur gekwalifiseer en behoort aan die Toastmasters.” In 2009 is hy geskei, kort daarna bankrot verklaar en het toe ’n paar klein ondernemings begin. Toe sien hy na sy ma om tot haar dood. “Nou kan ek teruggee, want ek kan baie bied.”
JP meen die pandemie het opnuut die fokus op ervarings geplaas. Mense moet nie bang wees om hul drome na te jaag nie. Veral as jy reflekteer, besef jou tyd op aarde is kort. Dit klink dalk na ’n cliché, maar mense besef opnuut dit maak nie soseer saak hoe groot jou kar of huis is nie, solank jou hart groot is, glo hy.
“Ek is dankbaar ek het tydens die grendeltyd, so op my eie, kans gekry om opnuut navorsing oor my projek te doen. Die volgende stap is om die regte bouer aan te stel.”
Hy het nog altyd ’n sterk streep individualiteit gehad en glo dit wat jy visualiseer, gebeur.
Al is ons dus meer tuisgebonde, kan individualiteit ons nou vlerke gee.
Dit lyk asof dit inderdaad weer tyd is om gehoor te gee aan een van die vele slimmighede van die Ierse digter
Oscar Wilde: “Be yourself; everyone else is already taken.”