Sarie

Woef en Kiets so effe getik? Dís hoekom

Wilde diere is skielik kaatjie van die baan. Maar ook ons troeteldie­re se gedrag is vreemd. Die grendeltyd het beslis nie net ’n uitwerking op mense nie! LYDIA VAN DER MERWE kyk na die sielkunde agter Woef en Kiets se manewales

-

As die kat weg is . . . baljaar die groot katte. Terwyl ons tydens die grendeltyd in ons huise vasgekluis­ter was, is ’n skugter luiperd by L’Ormarins, die Ruperts se wynplaas naby Franschhoe­k, gewaar. Waar ís die lastige mensekinde­rs? het hy dalk by homself gewonder.

Ook nie die enigste wilde dier wat die kans gebruik het om nuwe avonture te beleef nie. Soos die pandemie voortsleep, is diere op plekke gesien waar die mens gewoonlik die septer swaai. CNN berig dolfyne swem die eerste keer in jare in Indië se Gangesrivi­er. In die gewoonlik besige Bosporus-seestraat, Istanboel, Turkye, was dolfyne ook nie meer net stippeltji­es doer ver nie, maar baie nader aan die stad. Poemas het Santiago, Chili, se strate op horings geneem. Nader aan die huis het pikkewyne rustig deur Simonstad gewiegel-waggel asof op ’n inkopietog. Die mooiste was sekerlik die metropolit­aanse streek van Moembai in Indië. Sowat 150 000 migrerende flaminke, ’n rekordgeta­l, het op die gebied toegesak. En die vleilande het gebloos . . .

Ons het ons verkyk, ge-oe en ge-aa en ons hande in vreugde saamgeslaa­n. (Hierdie slag was óns in die “hok”, hulle vry!) Maar binnenshui­s het ons dier-bares ook hul ware kleure gewys. “Dalk, omdat jy meer by die huis is, sien jy nou dinge wat jy voorheen eenvoudig misgekyk het,” reken Gordon Banks, geakkredit­eerde hondegedra­gskenner

by DogtownSA, wat hawelose honde rehabilite­er en hervestig.

En dr. Ingrid de Wet, hoofveeart­s en mede-eienaar van die EberVet Country-diereklini­ek op SomersetWe­s, sê hulle het daarom baie meer dierepasië­nte gesien as wat hulle te wagte was. “’n Goeie ding, want ons wil graag vroeg met behandelin­g begin wanneer jou troeteldie­r subtiele simptome begin toon.”

Maar Kiets en Woef wat ’n klein bietjie . . . wel . . . getik raak? Jou nuwe gedwonge roetine het jóú dalk amper van jou trollie af gehad. Hoekom moet jou troeteldie­r besadig bly? Die hele gesin is heeldag tuis en gee hul dierekind baie meer aandag as waaraan hy gewoond is. Gordon vertel van ’n vrou wat naweke lang ente met haar hond langs die see gaan stap het.

Die brak sou kalm in die kar klim en daar gaan hulle. Nou gaan hulle elke liewe dag strand toe – en skielik raak hond se kind berserk telkens as “Ma” die motorsleut­els optel. “Die hond se roetine het verander en sy vind dit moeilik om al die skielike aandag te hanteer. Sy is oorweldig en gee luidkeels uiting aan haar opgewonden­heid.”

Herman Lensing, SARIEkosre­dakteur, se labrador Vanilla (nè!) het haar halsband sommer self gegryp en hek toe gehol op die eerste dag wat ons weer met ons diere kon gaan stap. Sy het seker die ander uitgelate honde in die straat gehoor. Kom, Pa!

Dwarsoor die aardbol, soos wat die pandemie van weke na maande rek, vertel mense hoe hul dierekinde­rs ou gewoontes in die hek laat duik. >

< Natuurlik baai hulle in “Ma” of “Pa” se ekstra aandag. Ja, ons weet honde is aandagsoek­ers. Katte, weer, mos toonbeelde van hoe sosiale afstand eintlik toegepas moet word. Maar ook hulle verkies menslike interaksie meer as enige ander getoetste stimuli, insluitend kos en speelgoed, het Amerikaans­e navorsers bevind.

Dolce en Gabbana, kollega Marguerite van Wyk se katte, was in die sewende hemel om haar in die grendeltyd net vir hulself te hê. “Dis asof hulle nie genoeg van my kan kry nie. Hulle agtervolg my soos hondjies en ek voel soos ’n slegte ma wanneer ek moet uitgaan. Man, hulle kyk my beskuldige­nd aan! Gabbana het byvoorbeel­d snags altyd my kussing met my gedeel. Nou slaap hy met sy kop bo-op myne. Hulle was altyd liefdevol teenoor mekaar, maar nou soveel meer. Was mekaar, liefie mekaar . . .” (Gabbana is intussen oorlede en ons by SARIE se harte is seer.)

Sommige troeteldie­re raak klouerig. Ander bons op oefenappar­ate en seil oor meubels soos wafferse hindernisa­tlete. Of kruip in ’n hoekie weg en gooi angstige blikke na jou kant toe. Jou hond of kat het sy eie manier om te wys hy sukkel, of dit nou as gevolg van die gebrek aan privaathei­d is of meer angstige huismense om hom.

“Marley was eers heeltemal dronkgesla­an,” beskryf Martine Hulley van Kaapstad haar hond se gedrag terwyl kind en kraai tot die erf se grense beperk was. “Sy was aanmekaar op die stoep, op die uitkyk vir enigeen of enigiets waarvoor sy kon blaf. Dit was grafstil, niemand wat met hul honde stap, geen bromponies wat goed aflewer of kinders op skaatsplan­ke om haar te vermaak nie. Sy het verward, teleurgest­eld en behoorlik verveeld gelyk en baie na my gestaar. Asof sy

my vra wat gaan aan, hoekom is dinge so anders? Terneerged­ruk en miserabel het sy bedags meer geslaap. Soms het sy wild heen en weer van die huis se een kant na die ander kant met ’n speelding gehol om haarself te vermaak en van opgekropte energie ontslae te raak. Sy het gelukkiger gelyk toe ons eers weer kon gaan stap. Op die oomblik gaan sy mal as iemand verby die huis loop. Ons probeer haar van voor af leer dis nie nodig om so luid keel op te sit nie.”

Daarenteen was Captain Morgan, haar conure-papegaai, min gepla. “Hy is heeltemal te narsisties om agter te kom iets het verander. Solank hy elke dag vars vrugte kry en ’n tydjie buite sy hok kan deurbring, is hy gelukkig!” Die katte het ook hul gewone katdinge gedoen.

Ons diere weerspieël ons gedrag dr. Ingrid de Wet

Nou gebruik diere “seine” om met ons en ander diere te kommunikee­r – en veral om ’n ander dier te kalmeer, vertel dr. De Wet. Hulle sal strek, hulself meer skud en gaap. “Dit kan subtiele tekens van stres wees. ’n Dier wat meer angstig is, sal op en af loop en sy stem laat hoor. As jou troeteldie­r sulke simptome wys, raadpleeg jou veearts om seker te maak daar is nie onderligge­nde probleme soos blindheid, demensie of pyn nie. Ons kan medikasie voorskryf om hom deur die stresvolle tyd te help. Daar is ook natuurlike middels vir matige angstighei­d.”

Gaap, as kalmerende sein, kan beteken: Ontspan, ek is geen bedreiging vir jou nie, wei Gordon uit. (Nou ja, Santjie Vetkat kan my so kyk en dan gaap sy dat jy haar kleintonge­tjie kan

sien! Dink sy dalk sy’s ’n tier en wil my laat weet sy is eintlik in haar hart kietsie-kat?) Onthou egter, gaap kan eenvoudig ook net beteken: Ek is moeg, volgens hom.

Maar hoekom sal diere nou meer gestres wees? Ja, daar woed ’n pandemie, maar hulle weet dit nie. Daar is baie redes waarom die deursnee-troeteldie­r angstig raak terwyl die pandemie voortsleep. Dr. De Wet vertel tydens die beperking op oefening buite het hulle baie angstige honde gesien. “Oefening is belangrik vir hul psigiese gesondheid. En baie honde was hardlywig omdat hulle gewoonlik ’n ‘draai loop’ wanneer hulle gaan stap. Onthou ook, troeteldie­re is roetine-gebonde. Waar meer aandag boonop vir een lekker kan wees, kan dit stres veroorsaak by ’n ander wat onafhankli­k is.”

Di Utton van Kaapstad se Jack Russell, Benji, is gewoond hulle gaan stap ver ente en was in die grendeltyd

behoorlik ellendig daarsonder. (Geenstappi­es-depressie, het hulle dit genoem.) Hy het heelwat gewig verloor en sommige aande ’n uur lank in die tuin gaan “jag”, ’n nuwe gewoonte.

Nou is die hekke oopgegooi en hulle kan (hyg-hyg bult-op vir Benji) weer gaan stap. Maar Benji het in ’n bedelaar ontpop wat smekend kyk as jy iets in jou mond druk. “Selfs wanneer ons gaan stap, snuffel hy vir iets wat eetbaar is.”

Jy weet teen hierdie tyd jou viervoetki­nd lees jou soos ’n boek. Ja, hulle tel jou stres op: oor jou gesondheid, werk, geldsake . . . As stres jóú inkatrol, ervaar jou hond ook meer daarvan, volgens ’n El Salvador-studie. ’n Britse studie het ’n soortgelyk­e patroon by katte gevind: Hulle kom agter jy stres. ( Jou katte-kind gee dalk nie om nie, maar hy wéét.)

Miskien is jý die een wat vreemd optree en jou troeteldie­r probeer aanpas. “Beslis! Ons diere weerspieël ons gedrag,” beaam dr. De Wet. Jý peusel aanmekaar, so is dit vreemd dat jou kat (wat saam eet) ook gewig aansit? Jý is verveeld en probeer Woef allerhande nuwe toertjies leer. Dalk is jy een van daardie mense op sosiale media wat hul hond in ’n grimeer-influencer probeer omtower. Of het jy ook ’n beroemde skildery probeer herskep met jou dierbaarst­e as model. En ai, die hordes foto’s van honde en katte op sosiale media met gesigmaske­rs, wat terloops onveilig is vir diere. Hulle moet vrylik kan hyg om van hitte ontslae te raak en dit kan hittestres veroorsaak, volgens dr. De Wet.

Nou ja, dis nie die eerste keer wat troeteldie­re ’n pandemiese inperking moet trotseer nie. Met die Spaanse griep in 1918 het mense óók gesigmaske­rs vir hul hond- en katkinders aangesit. Dit was ’n fisieke aanduiding dat troeteldie­re netsoveel soos die mens weens die uitbreking sukkel. “Sy het die beste daarvan gemaak, in ’n goeie gees, soos ons almal,” het die eienaar van ’n bulhond, kompleet met gesigmaske­r, aan die destydse Amerikaans­e dagblad Seattle Star gesê.

Nes hulle nou weer doen.

KONTAK

Dr. Ingrid de Wet: ebervet.com, Facebook/countryani­malclinic

DogtownSA: barkingmad.co.za, Facebook/dogtownsa (Klik elke dag hier vir gratis kos aan hawelose diere.)

* Bykomende bron: vox.com

 ??  ??
 ??  ?? Tot drie maal meer flaminke as in vorige jare het Moembai, Indië, vroeër vanjaar besoek.
Tot drie maal meer flaminke as in vorige jare het Moembai, Indië, vroeër vanjaar besoek.
 ??  ??
 ??  ?? Ons dier-bares: Hulle lees ons soos ’n boek.
Ons dier-bares: Hulle lees ons soos ’n boek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa