Padlangs deur Roemenië
Die eerste ding wat jy raaklees as jy per pad deur Roemenië wil toer, is dat jy liefs nie moet nie. Maar Mercia S Burger en haar reismaat het dié kans gewaag en die voormalige Oosblok-land op ’n ander manier beleef
Voor ons reis kon ek dít wat ek van Roemenië weet op een hand aftel: ’n humeurige tennisspeler en ’n smeltdun gimnas, ’n kommunistiese diktator, Bram Stoker se Dracula en ’n landstreek genaamd Transsilvanië waar dit altyd Halloween is.
Ek en my lewensmaat, Karen
Burger, bly in die oudste deel van die stad Boekarest, die Lipscani-distrik. Geboue met ’n ouwêreldse deftigheid is skoongeskrop met nuutgerestoureerde fassades. Argitektonies val dit iewers tussen eklekties, deurmekaar, boheems en sentimenteel.
Daar is straatkafees en weelderige restaurante, masseersalonne en Gotiese kerke, smal stegies en deurnagklubs, en ’n boekwinkel – die Cărtureşti Carusel in Strada Lipscani (nr. 55) – wat saam met Hyde Park se Exclusive Books op ’n internasionale lys van mooiste boekwinkels ter wêreld verskyn het.
Andrea, ons gids, rol ’n sigaret. Sy lei ons drie uur lange staptoer, Experience Communist Bucharest ($22).
Roemenië is 24 jaar lank deur twee arrogante boelies, die diktator
Nicolae Ceaușescu, en sy vrou, Elena, regeer. Met megalomaniese, meestal ondeurdagte en dikwels sommer net dom idees, het hulle Roemenië tot op die been gestroop.
Nicolae se uitvoerbeleid het Roemeniërs se lewensgehalte na ’n gesukkel tussen niks en nêrens verlaag. Dit was gedurende dié tyd dat Marlboro-sigarette as geldeenheid gebruik is, want die Roemeense leu was niks werd nie en die winkelrakke so te sê leeg.
Die diktator se oplossing was om die land se werksmag te vergroot.
< Vroue is aangemoedig om minstens vyf kinders te hê, en meer as tien kinders het jou die status van superma besorg. Hy het voorbehoedmiddels en aborsies verbied en ’n Menstruasiepolisie aangestel, soos Andrea dit noem – ’n groep ginekoloë wat verpligte maandelikse ondersoeke moes doen om seker te maak geen vrou ondergaan ’n aborsie nie. Weeshuise is oorval deur Nicolae se weggooikinders – kinders wat in donkerte grootgeword en dikwels nie eens leer loop of praat het nie.
Terwyl hy voltyds besig was om Roemenië te ruïneer, het sy vrou, Elena, vele internasionale toekennings en eerbewyse as gesiene wetenskaplike ontvang. In werklikheid was Elena skaars geletterd, met ’n span doodbang spookskrywers agter haar wie se werk onder haar naam gepubliseer is. Andrea verwys na haar as “Our Lady”, en nie op ’n goeie manier nie. “You never said no to Our Lady.”
Bespreek vooruit en jy kan die gesin Ceaușescu se herehuis, die Primaverii-paleis, besoek – badkamers van oorgeblaasde goud, ’n Olimpiese swembad, ontwerpersklere en op Elena se spieëltafel, ’n foto van die gesin.
Nicolae was waarskynlik net so ’n goeie stadsbeplanner as wat Elena ’n wetenskaplike was. Hy het onder meer die swaarste gebou ter wêreld, die Parlementspaleis, laat oprig (amper so kolossaal soos sy ego?). En met sy voorliefde vir stootskrapers het hy groot dele van Boekarest platgestoot en sy utopiese stad van beton-bokswoonstelle begin bou, met geen groen areas tussenin nie. Ons stap deur oorgroeide boupersele met konstruksiewerk wat net so gelos is, verby leë geboue wat teen steiers rus en nooit ná kommunisme opgeëis is nie – deurgeroeste dakke en oopgekraakte mure. Die estetika van verval, noem Andrea dit.
Ek vra oor al die straathonde – die spookmaer skaduwees, bang en geduldig, stert tussen die bene, wat heeltyd om ons sluip. Volgens Andrea is daar soveel straathonde omdat mense wat gedurende kommunisme uit hul huise na klein woonstelle verskuif is, nie
hul honde kon saamneem nie. Maar dis nou al vyftig jaar later? wil ek vra.
Ons eindig die staptoer op die Revolusieplein. Tussen jong mans met skaatsplanke en ’n swerm orige duiwe verduidelik Andrea dis hiér waar die 1989-revolusie begin het. Ek neem ’n foto van die balkon van waar Nicolae sy laaste toespraak gemaak het. Die skare het hom uitgejou. Vir ’n oomblik val die son só dat dit direk in my kameralens skyn en ek wonder of die foto sal uitkom. Hy en Elena is op Kersdag 1989 saam deur ’n vuurpeloton tereggestel.
Ná die staat se val is die Securitate (departement van staatsveiligheid) se intelligensierekords oopgestel. Soos baie ander, het Andrea nie na die rekords gaan kyk nie. Sy wou nie weet wie staatsinformante was nie, uit vrees dat dit ’n geliefde kon wees.
***
Vanuit Boekarest ry ons ’n halfmaan deur die suide van Transsilvanië. “Drum bun!” groet die man by die motorverhuringsmaatskappy en oorhandig ons Dacia se sleutel aan Karen. In Roemeens beteken dit voorspoedige reis, letterlik vertaal as “goeie pad”, hoewel hy nie oortuigend klink nie. Want die eerste ding wat jy raaklees as jy padlangs deur Roemenië wil toer, is dat jy liefs nie moet nie. Dié land het van die hoogste motorongeluksyfers in Europa.
En binne tien minute op die pad voel ek nie besonder “drum” of “bun” nie. Om uit Boekarest te kom moet ons om een sirkel ná die ander ry. Ek navigeer saam met ons GPS, wat ons Vlad noem, en wanneer Vlad sy eie rigting wil inslaan, moet ek help. Om sirkels moet jy jou “kwart oor” van jou “kwart voor” ken, en as navigator wil ek net noem dat oor en voor baie dieselfde klink. Veral as jou stem verander in ’n piep as jy bang is.
Maar kom ons wees eerlik, SuidAfrikaanse bestuurders het senuwees van staal. Karen kan gelyktydig vir vier bestuurders en ’n verwarde navigator besluite neem. So sirkel ons van oor tot voor deur voorstedelike Boekarest. Ons leer mekaar goed ken.
Vergeet dadelik van enige akkurate skatting van ’n beraamde tyd van aankoms. Die paaie is nie erger as in Suid-Afrika nie, net smal en besig. Vinnige motors met getinte ruite druk toeter en jaag onbesorgd verby op blinde hoogtes en draaie; ons haak vas agter rye vragmotors en rokerige Dacias uit ’n vorige era, soms ook ’n perdekar.
Die 180 kilometer na die dorp Braşov word ’n ses uur lange rit met ’n uur se stop by die Peleş-kasteel, meer outentiek en elegant as al die ander wat voorgee om die Dracula-kasteel te wees.
Vanaf Sinaia word die woude digter en die Karpatiese berge hoër. Ons ry verby kloosters versier met heilige fresko’s, hoë gefortifiseerde kerke en dorpies waarvan slegs Vlad die naam kan uitspreek (of dalk swets hy).
Braşov is die perfekte Middeleeuse dorp met roeskleurige dakke en ’n swart Gotiese kerk. ’n Stalletjie op die plein verkoop cozonac, so dit is sponskoek vir aandete. Ons oornag in ’n hotel met kommunistiesgeïnspireerde rooi fluweeldekor.
< Vir goeie, gemaklike verblyf, begroot so tussen R700 en R1 000 per nag. Daar is natuurlik goedkoper ook, met ’n risiko van geen warm water nie.
Ná Braşov is ons op pad na Sighişoara, die geboortedorp van Vlad III, oftewel Vlad die Deurboorder; moet eerder nie vra nie. Die man waarop die Ierse skrywer Bram Stoker sy karakter
Dracula gebaseer het. Behalwe dat
Bram Roemenië nooit besoek het nie. Daarom, waarskynlik, het hy met sulke wonderlike insigte vorendag gekom soos: “The women looked pretty, except when you got near them.”
Waar ek tot dusver gemaak het asof ek slaap wanneer ek moes bestuur, het dit nou tyd geword om bestuurspligte te deel. Gelukkig is die pad na die stad Sibiu minder besig, en ons kan gereeld na kleiner dorpies afdraai. Perdekarre is hoog en swaar gelaai met hooi, koeie wei en drentel oor die pad. Voor die meeste dorpshuise is ’n waterput en emmer, rankrose en ’n houtbankie.
Hier sit mense en rook, koerant lees en praatjies maak. Ons hou ’n paar keer stil sodat ek die peervormige hooimiedens kan afneem. Vlad probeer bedremmeld om ons terug op die hoofweg te kry.
Hoe verder ons die platteland inry, hoe vinniger verdwyn Engels. Spyskaarte word onverstaanbaar en die mense so ’n bietjie ongeduldig. Roemeens is ’n moeilike taal met ’n alfabet van 31 letters. “Multimeşc,” probeer ek, maar al wat ons kelnerin in Engels kan sê, is: “I’ll be back.” Selfs ná ’n week in Roemenië kon niemand verstaan wat ek probeer sê nie.
Saam met Engels verdwyn OTM’e en vulstasies. ’n Mens moet mooi beplan, anders kan jy sonder brandstof en kontant gaan staan. Dis die een ding wat duur is – brandstof.
En heeltyd, hartbrekend uit die hoek van jou oog, is daar steeds honde. Kilometers van alles af lê ’n teef by ’n piekniekplek langs die pad. Haar kleintjies speel laf terwyl sy oor hulle waak en wag.
Sibiu is die hart van Transsilvanië, ’n stad waar dakvensters soos slaperige ogies lyk en jou van een stadsplein na die ander volg. Dis ’n vroeë aand vir ons, want die volgende dag is dit terug na Boekarest met die Transfăgărăşan, ’n bergpas wat deur Jeremy Clarkson, aanbieder van die destydse Top Gear, as “. . . die beste pad in die wêreld” beskryf is. (Uhm, ek is nie seker of Jeremy al die Swartbergpas gery het nie?) Draaie is so skerp soos ’n foksterriër wat sy eie stert jaag, die temperatuur daal tot vrekkoud, en bergtonnels is lank genoeg om jou blind te slaan. Gelukkig sit die Dacia self haar hoofligte aan, anders het dit weer ’n geskrop afgegee.
En ná 750 kilometer, genoeg “drum buns”, drie Middeleeuse stede, twee Dracula-yskasmagnete, een sluk ţuică (’n tweede sluk sal jou onderstebo slaan) en geen adellikes met bleek gesigte en hoë wangbene nie, is ons terug in Boekarest.
Hierdie keer bly ons net buite Lipscani. Ons ontdek Boekarest se tuinkroeë en kom toevallig op ’n gratis opelugkonsert van die Roemeense komponis George Enescu se vioolmusiek af. (Luister na www.youtube.com/ watch?vătKL7ZOLRfNw). In ’n servet het ek ’n stuk polentakoek van my aandete toegedraai om later vir losloperhonde te voer.