UITEINDELIK MY ‘EENDAGHUIS’
Vertel asseblief vir ons ’n storie met ’n groot kasteel en ons daarin, Oumie, vra my sewejarige kleindogter. So droom ons almal oor die toekoms, maar veral oor die huise waarin ons eendag wil woon.
In die sewentigerjare toe ek in Johannesburg gewerk het en daagliks verby die wonderlikste winkels kon loop, kon ek so ’n paar items koop met my beperkte salaris vir my “eendag-huis”. Geborduurde lakens uit Engeland, tafeldoeke uit
Portugal, plekmatjies uit Italië en droomdik handdoeke uit Egipte. Alles toegesluit in my linnekis vir my “eendaghuis”. En so het hierdie skatte vir baie jare saam getrek, maar steeds was my droom onvervuld.
Die huis met
’n sonstoep gevul met rooi malvas,
’n groen-enrooi kombuis, ’n sagpienk-en-groen slaapkamer en ’n duifblou sitkamer kon ek nooit raakleef nie. Die kis is gereeld uitgepak, daar is verder gedroom en ek het alles saam met nuwe motbolle teruggepak.
Toe draai die lewe, en die droom ook! Op 50-jarige ouderdom pak ek die verlede in kartonbokse en maak ’n nuwe, gerestoureerde deur oop waar my linnekis perfek kan pas en ek en my droomvangerman tee kan drink op ons sonstoep met die rooi malvas.
Connie Garrard, Kaapsehoop