Sarie

Teken doen my goed

- Leonie Joubert

Wetenskaps­krywer Leonie Joubert het ná ’n jaar as student in die skone kunste van kursus verander omdat sy “verskrikli­k sleg” voor die esel gevaar het . . . ’n Kwarteeu later, gedurende inperking, het sy weer haar potlode uitgehaal vir aanlyn tekenklass­e. Nou teken sy byna elke dag.

Leonie het twee aanlyn kursusse by die Kaapse kunstenaar Rebecca Haysom gedoen, met weeklikse uur lange Zoomsessie­s oor vier weke. “Ons het verskillen­de tegnieke geleer. Letterlik begin by die ABC van teken, met oefeninge oor vorm, lyn, tone en tekstuur wat jy in jou dag kan inpas. Sy het tydens elke sessie opbouende terugvoeri­ng gegee oor ons huiswerk,” sê sy.

Almal is aangemoedi­g om nie bang te wees vir foute nie, wat die druk weggeneem het. “Ek het tekeninge wat tegnies vol foute is, maar dis steeds heel charming.”

Sy is die trotsste op ’n skets van haar voet, iets wat voorheen net “te intimidere­nd” sou wees. “Dít en hande is moeilik om te teken. Op ’n dag, midde-in streng inperking, het ek op my stoep gesit en besluit op ’n vinnige meditasies­kets ș’n vorm van meditasie waar jy fokus op een sintuig, nl. visieț van my voet . . . en daar verskyn ’n ‘werklike’ voet op die papier!”

Leonie bestee lang ure by haar lessenaar, verdiep in haar skryfwerk. Maar in die grendeltyd kon sy moeilik fokus, wat haar angstig gemaak het. Sy het nooit kon dink hoe goed teken haar sou doen nie. “Jy gebruik ’n ander deel van jou brein. Daar was geen tyd, geen verwagting­e dat jy iets moet lewer nie, net vloei,” sê sy.

Sy beplan ’n grafiese roman oor die agteruitga­ng van die omgewing weens die klimaat, en oorweeg om dit self te illustreer. “Hoe ook al, ek sal aanhou skets. Dis so bevredigen­d.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa