Ink vloei nou uit my hande
Toe Rooi Rose en elf ander tydskrifte in die Caxton-groep hul deure in die grendeltyd sluit, was vryskutskrywer
Martie Swanepoel haar inkomste kwyt. Sy was twee dae neerslagtig, toe besluit sy om haar “stert te lig en my lockdownstokperdjie ’n besigheid te maak”.
Dis dié dat jy Martie dikwels aantref aan’t blare pluk op hul plaas in ’n natuurreservaat tussen die Gouwsberge in Mpumalanga of besig om lappe in reuse-potte by hul braaiplek te kook. Want toe haar eerste lap bedruk met blare op Facebook land, het sy besef sy’t ’n wenner – dit het dieselfde dag verkoop. Sy maak nou al van duvetoortreksels tot tafeldoeke en bly nuwe idees ontgin.
“Ek gaar materiaal op en daarmee kon ek tydens die grendeltyd werk. Ek en my lewensmaat, Giel Joubert, die vuurstoker in my proses, is inheemseboomliefhebbers. Blare se teksture fassineer my en hier, omring deur duisende bome, kan ek heeldag eksperimenteer.”
Sy het talle YouTube-video’s gekyk en baie flops gemaak, maar “effe obsessief ” aangehou totdat háár proses suksesvol was – ’n kombinasie van vier tegnieke. “Dis tydrowend, maar die opwinding as die lap ’n sukses is, is onbeskryflik.”
Martie beoog om ’n ateljee te bou waar sy rolle materiaal kan druk.
Skryf sal altyd deel van haar wees, “maar waar ink uit my pen gevloei het, vloei dit nou uit my hande”, sê sy.