Sarie

KRY DIT SÓ IN

-

Die Amerikaans­e akademie vir dermatolog­ie (aad.org) beveel aan jy bly uit die son en eet kosse ryk aan vitamien D. Soos reeds gesê, is dit egter plaaslik moeilik om genoeg net deur jou kos in te kry (min kos is hier daarmee verryk), en die son bly ’n belangrike bron.

Kom minstens 2 tot 3 keer per week 15 minute lank in die son. Jy moet ’n veloppervl­akte gelykstaan­de aan jou voorarms en bene aan die son blootstel (sonder sonskerm). In die somer, wanneer die son op sy venynigste is, moet dit verkieslik voor tienuur soggens en ná vieruur smiddae wees. Veral mense wat heeldag op kantoor is, moet tyd maak om in die son te kom, naweke of as jy smiddae tuiskom. Dis egter nie ’n verskoning om in die son te braai nie. Gebruik jou kop.

Daar is twee hoofsoorte vitamien D. Vitamien D3 word in diere, ook vis, gevind. Dit is ook die soort wat die vel vervaardig wanneer dit aan sonlig blootgeste­l word. Vitamien D2 kom voor in sampioene wat aan son blootgeste­l is (byvoorbeel­d sjiïtakes), aanvulling­s of verrykte kosse. Vir aanvulling­s is D3 die beste, volgens ’n meta-analise in die American Journal of Clinical Nutrition.

In die afwesighei­d van genoegsame sonlig is 15 mikrogram (600 IE) vir kinders en volwassene­s tot 70 jaar dalk nodig. Bo 70 jaar: 20 mikrogram (800 IE). Dit is in ooreenstem­ming met die daaglikse aanbevole inname van vitamien D, volgens prof. Senekal.

Omdat tekorte so algemeen is, moet jy jou dokter dalk vra om jou vir ’n eenvoudige bloedtoets te verwys. Jy kan tot 1 000 IE (D3) oor die toonbank koop; vir 5 000 IE (D3) het jy ’n voorskrif van ’n dokter/dieetkundi­ge nodig. Dit word nie aanbeveel dat jy laasgenoem­de onbeperk en sonder hertoetsin­g neem nie. Dit is omdat die vitamien vetoplosba­ar is en in groot hoeveelhed­e giftig vir jou lyf kan wees.

Mariza stel voor jy evalueer ook (met die hulp van ’n kundige) of jy genoeg kalsium en magnesium uit jou kos kry, en indien nie ’n aanvulling oorweeg. Indien nodig, neem 600-900 mg kalsium per dag en 300-450 mg magnesium per dag in glukonaato­f glisenaatv­orm.

Sonbeddens? Nee! Dit blokkeer meestal die son se UVB-strale (wat vitamien D maak), maar nie die UVA-strale nie. En is ’n risikofakt­or vir melanoom (velkanker).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa