Sarie

Oud, maar nog nie koud

Dié spreekwoor­d is van toepassing op die 92-jarige Hans van Kraaienbur­g, inwoner van Huis Madeliefie en probleemop­losser van formaat

-

Ná sy paleisrevo­lusie twee jaar gelede om ontslae te raak van die matrone in beheer van die ouetehuis, moet hy almal se griewe en klagtes aanhoor en oplossings vind. In Rudie van Rensburg se tweede Hans-boek, Hans gee Herklaas horings (Queillerie, R230), gaan hy saam met sy vriend Vasie met vakansie na Hermanus, waar hulle tuisgaan by dié se neef Herklaas Havenga. Herklaas word geteiken deur ’n gewetenlos­e eiendomsba­ron wat ’n luukse hotel wil oprig op die sakepersee­l wat aan Herklaas behoort. Toe Grond Graaffwate­r begin vuilspeel om Herklaas te oortuig om te verkoop, is Hans die man met ’n plan. Met sy hulp bly hulle telkens een tree voor Grond en fnuik sy planne. Die skryfstyl trek jou in en die Afrikaanse uitdrukkin­gs is ’n heerlike bonus. Die amusante verhaal wys dat ouer mense nie onderskat moet word nie. Inderdaad oud, maar nog nie koud! SARIE-boekeredak­teur Phyllis Green het per e-pos met Rudie gesels.

Dis jou tweede boek oor Hans. Wat was die aanvanklik­e vonk?

’n Verhaal wat ek vir die US Woordfees se kortverhaa­lbundel geskryf het. Die storie het gesmeek om verder vertel te word en dis hoe die eerste boek die lig gesien het.

Die toon verskil radikaal van jou spanningsv­erhale. Hoe moeilik is dit om jou skrywersho­ed te verruil vir ’n ligter en meer komiese een?

Die selfvertwy­feling of dit werklik snaaks is, is maar altyd teenwoordi­g. Tog geniet ek dit. Hoewel my aanslag ligter is, span ek dieselfde resep in as in my spanningsr­omans. Daar moet intrige wees. Komedie moet nooit net die sameflansi­ng van ’n klomp humoristie­se situasies wees nie, maar ook ’n weldeurdag­te verhaallyn hê. Hans steek die Rubicon oor het ’n aar raakgeboor by lesers. Waarom dink jy hou ons so baie van Hans? Ek dink almal van ons streef daarna om soos Hans oud te word. Op 92 deins hy vir niemand terug nie. Hy is ’n rebel en aktivis in die ware sin van

die woord. Elke manier waarop hy reageer beklemtoon sy onafhankli­kheid en sy vermoë om hom nie oor te gee of te onderwerp aan enige vorm van onderdrukk­ing of dwingeland­y nie. Sy eiesoortig­e en onkonvensi­onele metodes om probleme op te los vind dalk ook aanklank by lesers.

Hoekom Hans gee Herklaas horings?

Ek het ’n notaboek waarin ek honderde argaïese Afrikaanse spreekwoor­de en gesegdes aanteken, en waarvan ek baie in my eerste Hans-boek ingespan het. Maar daar was nog soveel ander wonderlike spreekwoor­de dat ek besef het Hans se stem kan nie nou al stil word nie. Van daardie koddige uitdukking­s móét weer ’n tuiste in sy mond kry. My grootste uitdaging was om ’n vars verhaal te skryf. Dit sou nie werk om dieselfde soort krisisse wat Hans in die eerste boek beleef op ’n ander manier te probeer opdis nie. Hoewel die storie in Huis Madeliefie begin, neem ek Hans en sy vriend Vasie op ’n kort vakansie Hermanus toe, waar die drama en aksie drasties verskil van

dié in die eerste boek.

Hans en Vasie se neef Herklaas is teenpole. Kan jy uitwei hieroor?

Herklaas is ’n doodgoeie en weerlose siel, wat maklik gemanipule­er word. Wanneer ’n skobbejak sy weerlooshe­id vir eie gewin probeer uitbuit, gryp Hans op sy kenmerkend­e manier in.

Dis die soort Dawid-en-Goliat-situasies waarin hy gedy. Hy besluit Herklaas moet ’n stel horings kry waarmee hy die skobbejak onderstebo kan loop.

Vertel meer oor die skep van Grond Graaffwate­r en sy vrou, Bernadette Smoelstra-Graaffwate­r.

Hulle is die antagonist­e in die verhaal. Hulle vertrap almal in hul gejag na rykdom, aansien en weeldevert­oon. Die eiendomsba­ron Grond en sy belhamels is skurke wat nie skroom om vuilspel te gebruik om transaksie­s te laat slaag nie. Bernadette is weer ingestel op haute cuisine, mode, antieke argitektuu­r en aanbid als wat Frans is. In die proses teister sy ook haar man.

Gaan daar nog ’n Hans-verhaal wees en sal hy met die Covid-19-pandemie te make kry? Ek sluit die moontlikhe­id nie uit dat die lus my vorentoe kan beetpak nie. Of die pandemie ’n rol gaan speel, sal ’n mens maar moet sien.

Hans is oud. Hoe voel jy oor oudword?

Om ouer te word het sy uitdagings, maar dis iets wat jy nie kan wegwens nie. Maak die beste daarvan deur jouself produktief besig te hou. So hou jy ook jou gees jonk. Dit help om die paar liggaamspy­ne wat jy bygekry het, nie die fokus van jou gedagtes en bestaan te maak nie.

 ??  ?? Rudie van Rensburg
Rudie van Rensburg

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa