Sarie

Redakteurs­brief

-

Vanjaar sê SARIE #JyIsGenoeg Jy hoef nie meer te wees of meer te doen om goed oor jouself te voel, of om jouself te laat geld nie. Natuurlik beteken dit nie dat jy volmaak is, alles het, of nooit hulp en inspirasie nodig het nie. Dat jy nie wil groei, luister en van jou wil laat hoor nie. Maar met jy is genoeg aan jou kant doen jy al dié dinge uit ’n posisie van krag en selfvertro­ue. Jy is rééds genoeg. Jy is reeds dáár.

Die lang pad Kaap toe.

In ’n dekade en meer het ek nooit in ’n motor geklim vir my pendeltog tussen Johannesbu­rg en Kaapstad nie. Ook nie vir die vele werkverpli­gtinge elders in die land nie. Altyd was dit maar ’n vliegtuig. Want dít was die deal : Om in die kortste tyd op ’n ander plek te wees, ’n ander kantoor, ander mense te ontmoet, ander gesprekke te voer. Dit was die storie elke maand, soms elke twee weke, selfs elke tien dae. Vir jare.

Die land se lughawens – OR Tambo, Kaapstad Internasio­naal, Lanseria by Johannesbu­rg, die een by George, Bram Fischer in Bloem, OosLonden, Port Elizabeth, King Shaka buite Durban – het ek naderhand gekén. Die boekwinkel­s, die eetplekke, die roomyskios­ks. So in die verbydraf, het ek die mense agter die toonbanke bevriend, ook die man wat my leerstewel­s perfek kon kitspoleer en die haarkapper wat soos ’n orkaan my hare kon wash n blow. Aan boord het ek die bekende kajuitpers­oneel vinnig gegroet met: “Hoe was jou week?” voordat ek my oë kon sluit, dankbaar vir minstens twee uur van sit. Net sit.

Want dít was die ding: Daar was nooit tyd nie.

En dit word ’n leefstyl, ’n gewoonte, daardie gejaag. Vir lank is dit opwindend, dit verlei jou, jy’s vandag hier, môre daar. Die adrenalien hou jou op jou tone, skerp vir vinnige besluite en al die planne wat sommer gelyktydig gemaak moet word.

Maar soos tyd aanstap, sê ’n stemmetjie al hoe luider vir jou: Jy dink dalk jy leef, maar die lewe is besig om by jou verby te gaan. In jou gejaag loop jy mis wat regtig belangrik is. Vriendskap­pe wat verwaarloo­s word, familie wat moet verstaan waarom jy weer die afwesige een is, die seisoene wat langsaam verander maar jou elke keer onverhoeds vang.

Die pandemie het ons lewens verander, persoonlik en profession­eel. Baie daarvan traumaties, en baie wat ons lank gaan neem om te verwerk. Maar dít het ons onverwags gekry – tyd. Die maande van inperking het ons die ure geleen om te dink en dinge in ons lewe op te weeg.

’n Paar weke gelede besluit ek dis tyd om weer in die Kaap te kom ná weke se grendeltyd in Johannesbu­rg. Maar vir vlieg is ek nie lus nie. Die lughawens wat eens vir my soos huis was, het hul glans verloor.

Daar’s net een uitweg, en dis ry. Ek pak my tas en ons vat die lang pad Kaap toe. Uur ná uur ervaar ek die prag van ons land, rondom-mooi.

Die oop vlaktes, die koppies, die droë rivierbedd­ings en waterpoele. Veldblomme wat in groepies pronk en treinspore wat eindeloos strek. Klein dorpies duidelik gewikkel in ’n oorlewings­tryd, maar steeds herkenbaar mooi hul breë strate, wit toringkerk­e en leivore.

Ek sien hoe die son sak oor ’n ekoplaas net buite Colesberg, en daar, sowaar, staan die Lord Milner-hotel op Matjiesfon­tein trots ná al die jare. Naby Worcester tuimel watervalle uit die berge in ’n Kaapse storm, en Tafelberg steek sy kop bo ’n grys wolkekleed uit om te groet.

’n Prentjie so anders as dié vanuit ’n vliegtuig. ’n Prentjie ingekleur deur ’n ware meester: tyd.

Tot ons weer gesels wanneer ons November/Desember-uitgawe, wat met sorg en tyd bymekaarge­sit is, vanaf 16 Oktober op straat is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa