Sarie

Nataniël sê

-

Iewers in Botswana sit ek agterop ’n kakie ding met wiele. Ek is opgewonde en effens benoud. Ons kyk na ’n trop olifante, my gunsteling­diere. In die verte is ’n groep van tien volwassene­s en twee kleintjies. Hulle is besig om ’n paar bome te stroop van bas en blare. Die grootste olifant kyk in ons rigting, swaai haar ore, trap stof in die lug en lig haar slurp. Sy storm skielik in ons rigting en gaan staan weer ná ’n paar treë. Wat gaan aan? fluister ek. Sy wil ons waarsku, sê die gids. Maar in Kenia stap hulle tot by ons, fluister ek. Hierdie een is die matriarg, sy kan nog onthou dat hulle voorheen op hierdie grond gejag is, dit sal baie lank wees voor hulle weer mense vertrou, fluister die gids.

Iewers in Frankryk stap ek en my broer Erik deur ’n klein dorpie. Hierdie piepklein plekkie word Clisson genoem en een keer per jaar vind die Hellfest hier plaas. Orals op klein geboutjies is daar tekens dat hierdie wilde fees wel bestaan, klein duiweltjie­s is in deure gekerf, vlamme pronk op ’n hoeksteen, ’n wese met vlerke lig sy swaard bokant ’n kroegdeur. Dit is laatwinter en die dorp is leeg. Af en toe verskyn ’n hand en klap ’n hortjie toe. Twee mense draai weg van ons. In ’n winkeltjie weier die eienares om te groet. Wat gaan aan? vra ek. Hulle is agterdogti­g, ons lyk vreemd met ons kaalkoppe, sê Erik. En die Hellfest se mense lyk normaal? sê ek. Dis nie nou feestyd nie, hulle vertrou nie vreemdelin­ge nie, sê Erik. Praat Frans, sê ek. Erik sê iets in Frans en die vrou is merkbaar verlig. Sy glimlag en wys na ’n marionet teen die muur. Hoekom wys sy na die pop toe? vra ek. Jy het pikswart aan, jou skoene het skerp punte en jy dra ’n sonbril binne die winkel, sy neem aan jy is weird , sê Erik. Dis Europa! Hulle het alles gemaak wat ek aanhet! sê ek. Europa is deur twee wêreldoorl­oë, mense het mekaar verklik en verraai, mense is bedrieg of was spioene, tagtig jaar later is dit steeds deel van die kultuur, hulle vertrou geen vreemdelin­g nie, sê Erik.

Dis die waarheid. Steeds draai mense teen mekaar, verraai vriende, familie en kollegas weens wrokkighei­d, vergoeding, of vrees. In soveel lande betoog mense nou teen hulle besete diktators en voor die wêreld se kameras mishandel lede van die polisie of weermag dan hulle eie mense. Hoe is dit moontlik? Hulle woon tog saam in buurte en geboue! Hoe gebeur dit in ’n moderne wêreld met inligting en kommunikas­ie? Gewoonte. Kultuur. Geskiedeni­s. Oorvertel. Erf. Kleintyd se gewaarword­inge.

Wanneer aakligheid homself in sy vele gewade en hoedanighe­de tuisgemaak het tussen ons, wanneer sagtheid verdryf is, wanneer wreedheid genormalis­eer word, word die mens se slegste gedrag ook sy gewoonte. En die gedweë aanvaardin­g van die ontvanger (of slagoffer!) word weer sy gewoonte.

Die afgelope paar maande het ’n werklike (en in baie gevalle blywende) uitwerking op die mensdom gehad. Nie net daar waar die meeste sterftes voorgekom het nie, nie net onder die mees kwesbare groepe nie, ook hier waar ek dit voor my kan sien.

Eergister het ’n vrou my die vinger gewys omdat sy gedink het ek wou haar parkeerple­k neem. Ek was op pad na die uitgang, ek wou geen parkeerple­k hê nie, maar haar swak oordeel en kru optrede was onmiddelli­k.

Almal is maar woedend oor die virus, vergeet hiervan, het ek vir myself gesê.

Minute later het ek besef dat ek besig is om gewoond te raak aan onbeskofte, irrasionel­e optredes en dat dit verkeerd is. Ons is reeds gewoond aan misdaad, en korrupsie, ons aanvaar onnoselhei­d en vooroordee­l. Ons durf nie nóg waansin lêplek gee nie. Ons mag verduur en verdra, ons mag ’n situasie verstaan en tydelik verduur, maar gewoond raak, nooit!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa