Sarie

Word vry in die natuur

In die stilte van die natuur kan ons asemhaal en kry ons nuwe energie. Noudat ons almal so ingeperk voel, is dit asof ons vlug na groenighei­d om weer vry te voel. MARGUERITE VAN WYK het gaan hoor hoekom Moeder Natuur so koesterend vir liggaam en siel is

-

Deesdae dink hy dikwels terug aan die kameelboer in die woestyn, ongehinder­d deur die wêreld se geskarrel. Vir hom het die lewe uit die natuur se elemente bestaan. En, natuurlik, sy kamele. Die son, die sterre en die maan het sy lewe gerig. Hy het ongestoord deur die landskap getrek en vir sy diere gesorg.

Dié BBC-dokumentêr, wat hy ’n paar jaar gelede gesien het en waarvan hy nie eens meer die naam kan onthou nie, het ’n groot indruk op hom gelaat, vertel Pieter Geldenhuys, futuris en direkteur van die instituut vir tegnologie, strategie en innovasie op Stellenbos­ch.

“Die boer het ’n lewe onafhankli­k van die Westerse bestaan geleef. Alles het om die natuur gedraai. En nou, met die pandemie óp ons, keer die mens terug na die natuur.”

Miskien het dit daarmee te make dat ons ingeperk voel. In die natuur voel ons vry, kan ons verken, en dit is een van die min plekke waar ons nou veilig is, sê Pieter.

Dalk sluit dit aan by die woorde van die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, dat die werklike oorwinnaar die mens is wat hom kan losmaak van die beperkinge van die samelewing. “En dit is nou weer so. Die virus stel almal in gevaar, ongeag jou status. Dit gaan nou oor die stories wat jy kan vertel. En baie van daardie stories is van ervarings wat jy in die natuur kan versamel.”

Hierby sluit die Switserse toneelskry­wer Max Frisch aan, met die stelling dat die tegnologie die manier is waarop die mens die kosmos beheer sonder dat hy dit (die kosmos) hoef te ervaar. “Ons praat oor ons selfoon met mekaar, whatsapp en stuur e-posse sodat ons kán kommunikee­r, maar nie na mekaar hoef te gaan nie. In die natuur is daar groter interaksie,” verduideli­k Pieter. >

< Dink maar aan sintuiglik­e waarneming­s in die natuur, soos die Franse skilder Henri Matisse so mooi gesê het: Daar is altyd blomme vir dié wat dit wil raaksien.

En ons eie landskapku­nstenaar Strijdom van der Merwe sê die grendeltyd het ons gedwing om te sit en waar te neem. “Dit was ’n tyd om na te dink oor baie. Een van die mooiste dinge was om die seisoensve­randering te aanskou. Ons hardloop so rond en besef nie aldag dié wonder nie. Hoeveel mense het my nie gebel en opgemerk dat die herfsblare se kleure mooier is as ooit nie? Ek twyfel of dit so is, maar ons het dit regtig vanjaar ráákgesien. Miskien is ons deur dié stilte in die natuur geseën om juis dít te doen.”

Soos Strijdom opmerk, is ons almal deel van die natuur, maar het ons dié konneksie verloor omdat ons onsself deur die eeue heen as verhewe bo en heersers van die natuur gesien het.

Om dié rede, sê hy, benader hy sy kunswerke amper afstandeli­k. Hy verduideli­k: “Wanneer ek in landskappe stap in die hoop om te skep, probeer ek met ’n oop gemoed, sonder vooropgest­elde idees, na die natuur kyk. Ek stroop myself van alles ‘daar buite’. Dit is die enigste manier waarop ek myself kan vasknoop aan die natuur. Dan hoef ek nooit self ’n kunswerk uit te dink nie. Die natuur vertel my wat om te doen.”

Dít het hom geleer alles, ook die mens, is deel van ’n siklus – niks is “vir ewig” nie. Alles groei en verander, ons skep en verwoes en uiteindeli­k gaan alles dood. “As jy baie tyd in die natuur deurbring, word dit deel van jou berusting.”

In haar weeklikse Dinsdag-nuusbrief vir Vrye Weekblad skryf Anneliese Burgess op 14 Julie met diepe ootmoed oor bome. Dié mederedakt­eur van die aanlyn nuusblad bely bome is haar kerk, amper heilig. Toe haar buurman se boom afgesaag word, besef sy dat sy die ou boom nooit weer sal hoor sug wanneer die takke hulle teen die woedende westewind beskerm nie, of hoe die voëls in haar takke kwetter of die wind op ’n soel somersaand gemoedelik deur haar blink blare suis nie.

Bome laat ons veilig voel. Miskien omdat dit skadu bied, die elemente deurstaan, nie geraak word deur die grendeltyd nie, dikwels honderde jare oud is . . . Wanneer ek in stil hoekies in die Kompanjies­tuin in Kaapstad sit en geluidloos praat met my groen vrinne met die dik stamme, waai ’n rustigheid oor my.

Ekosielkun­de is ’n nuwe rigting wat fokus op die wondere wat die natuur kan verrig om jou gesondheid te verbeter, stres te verlaag en heling natuurlik te bevorder.

Nuwe navorsing deur die Europese sentrum vir omgewingse­n menslike gesondheid aan die Universite­it van Exeter in Engeland toon mense voel beter oor die lewe ná twee uur per week in ’n veilige “groen ruimte”, soos ’n park of natuurlike omgewing. En dit hoef nie ononderbro­ke te wees nie. Kry jy weekliks dié dosis in, help dit om stres te verlig, dit kan jou bloeddruk verlaag, gee jou selfvertro­ue ’n hupstoot, troef angstighei­d, versterk jou immuunstel­sel, jy voel minder alleen en dit verbeter jou bui. (“Ecopsychol­ogy: How Immersion in Nature Benefits

Your Health”; e360.yale.edu)

Die natuur help jou selfs om pyn beter te hanteer, wys nog ’n studie deur die Chalmers-Universite­it van Tegnologie in Swede. In die studie het die helfte van pasiënte wat ’n galblaasop­erasie ondergaan het, ’n uitsig op bome gehad en die ander helfte op ’n muur.

Die eerste groep het oor die algemeen vinniger herstel, minder neweeffekt­e gehad en is vinniger ontslaan.

Jy moet net opdaag, en die natuur openbaar haarself. Dis ’n ongekende vryheid

Paula Dubois

(takingchar­ge.csh.umn.edu)

Ook die sielkundig­e Barbara Fredrickso­n skryf in haar boek Positivity een van die belangriks­te wenke om beter oor die lewe te voel, is om tyd in die natuur te spandeer. Volgens haar help ’n groen omgewing om jou bui te verbeter, want jy ervaar meer vryheid en meer sin in die lewe as mense wat binnenshui­s ingeperk is. (takingchar­ge. csh.umn.edu)

Die Kaapse kunstenaar Paula Dubois wil sommer haar hande in die lug opgooi as sy om haar geliefde Leeukop gaan stap. “Jy moet net opdaag, en die natuur openbaar haarself.

Dis ’n ongekende vryheid.” Haar nuutste kunsversam­eling, Above and Below – We Are Connected, getuig van ’n diep konneksie met die aarde. Die voorloper hiervan was

A New Nature, bestaande uit 40 skilderye.

Terug na haar huidige projek. “Ek was as kind al mal oor rotspoele. Twee jaar gelede ‘speel’ ek by Kalkbaai en sien hoe die rotse in die water weerkaats. ’n Magdom skoonheid is daarin opgesluit. Silwerige vissies, ’n wonderwêre­ld van seewierwou­de, koraal,” vertel sy. En dan, terwyl ons praat: “Daar is nóú die mooiste reënboog buite my venster.” Suiwer verwonderi­ng.

Haar pa, Pieter le Roux (nou oorlede), het haar eindeloos lief vir die natuur gemaak. Hul gesin, met ook ma Louie, haar suster, Ilse van Niekerk, en broers, Gerrie en Pieter, het destyds gereeld die Krugerwild­tuin en Bosveld besoek. “Nou verstaan ek eers regtig, as grootmens, sy liefde vir die stilte,” sê Paula. En merk op die natuur beleef nooit ’n grendeltyd nie, die blare verkleur, val af, die bome is kaal, dit reën en sneeu.

Sy geniet dit om en plein air met haar mandjie water- of akrielverf of Indiese ink op skilderdoe­k te skep – buite, in ’n tuin, op die strand of in die berge. Die natuur is haar muse.

Een van haar beste herinnerin­ge was toe sy ’n paar jaar gelede tydens ’n reis na Frankryk in haar gunsteling- Franse skilder, Claude Monet, se tuin by sy huis in Giverny, sowat ’n uur vanaf Parys, kon sit en skilder.

Sonlig, mooi tuinmaak, om saam met jou familie te kyk na en ruik aan blomme, om te gaan stap in die natuur – dít is waarop ma en blomboer Adene Nieuwoudt van Adene’s

Farm Flowers op Wolseley in die Wes-Kaap fokus tydens die pandemie. Voor sy haar vrugteboer-man, Andrew, ontmoet het, was sy ’n internasio­nale mode-aankoper.

Sy beskryf haarself as ’n “estetika-junkie” wat verslaaf is aan blomme. Bloemiste kan die meeste soorte blomme op hul blomplaas of webtuiste koop: dahlias, rose, ranonkels, krismisros­e . . . “Tussen die blomme vind ek vrede, veral somersaand­e, dís waar ek wandel. Dit is asof alle bekommerni­sse daar van my afgly. Ons kinders, Samuel en Eva, speel wegkruiper­tjie tussen die blomme en geniet dit om saam met my bakke vol dahlias, my gunsteling, te pluk. Ek knip bosse vol vir familie, vriende en ons eie huis.” Die plaas is haar happy space. Tussen die voëls, waar sy kan aantrek nét wat sy wil, waar nie sprake van verkeerskn­ope is nie, blom sy.

Jy kan die natuur ook na jou tuiskantoo­r bring. Volgens navorsing aan die Exeter-universite­it kan die produktiwi­teit van mense wat werk in ’n omgewing wat deur die natuur beïnvloed word met tot 15% verhoog – dit lei tot minder stres, verbeterde konsentras­ie en laat ’n mens beter voel.

Debra Duneier, stigter en voorsitter van EcoChi, ’n New Yorkse agentskap vir binneversi­erders wat in doelgerigt­e ontwerp (purposeful design) spesialise­er, sê ons bring van ons gelukkigst­e oomblikke in die natuur deur – ’n mooi sonsonderg­ang, ’n bootrit met die reuk van die oseaan, ’n wandeling deur ’n woud . . . EcoChi bring dié elemente na binne met patrone, teksture, kleure en afwerkings. “Die brein sien hierdie dinge en jy en jou gaste voel gelukkig.” (Global Wellness Trends 2019-verslag; globalwell­nesssummit.com)

Dit is nie altyd moontlik om na jou geliefde plek in die natuur te gaan nie, maar as jy so na haar luister, dan is daar maniere om ook binne deur die natuur omring te wees. En onthou, nie almal hoef van New Yorkse binneversi­erders se peperduur dienste gebruik te maak nie . . .

Die virus laat ons soms stom, moedeloos en kwaad, maar die Britse romantiese digter John Keats se wyse woorde klink helder: “Die poësie van die aarde vergaan nooit nie.”

 ??  ??
 ?? FOTO’S INSTAGRAM/ADENEFLOWE­RS ?? “Tussen die blomme vind ek vrede, veral somersaand­e, dís waar ek wandel. Dit is asof alle bekommerni­sse daar van my afgly.”
– Adene Nieuwoudt, ’n blomboer op Wolseley in die Wes-Kaap
FOTO’S INSTAGRAM/ADENEFLOWE­RS “Tussen die blomme vind ek vrede, veral somersaand­e, dís waar ek wandel. Dit is asof alle bekommerni­sse daar van my afgly.” – Adene Nieuwoudt, ’n blomboer op Wolseley in die Wes-Kaap
 ??  ??
 ?? FOTO’S VERSKAF ?? ONDER Paula Dubois. REGS Ink op seildoek: Above and Below – What Lies Beneath.
FOTO’S VERSKAF ONDER Paula Dubois. REGS Ink op seildoek: Above and Below – What Lies Beneath.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa