Kuberkuier: Tel Aviv, Israel
In Israel koop jy jou kos by die klein winkel op die hoek of die opelugmark, nie in ’n supermark nie. En min mense het motors, jy ry bus of fiets, skryf Mieneke Muller, oorspronklik van Pretoria
Hoekom Israel vir jou?
As tiener het ek gelees van ’n jong Joodse meisie en haar ervaring van die Joodse volksmoord. Dit het my so gefassineer dat ek meer oor die geskiedenis begin lees het. Klaar met matriek het ek ’n gap-jaar na
Israel geneem en vir ’n internasionale organisasie, Bridges for Peace, as menslikehulpbron-assistent gewerk. Ná twee jaar het ek teruggekom SuidAfrika toe om te studeer. Ek kon egter nie my voete vind nie en het bly hunker na Israel. Tans is ek al vier jaar terug in die land.
Wat doen jy daar?
Ek werk as ’n Engelse inhoudskrywer vir ’n tegnologiemaatskappy hier in Tel Aviv. Elke dag kry ek ’n onderwerp om oor te skryf. Iets waaroor mense graag lees, soos die pop-kultuur, lighartige stories, gesondheid of tendense. Ek geniet dit baie om navorsing te doen en dan kreatief met woorde te speel.
Weens die coronakrisis werk ek tans baie dae van die huis af. Die werksweek begin hier Sondag en eindig Donderdag.
Israel is maar omtrent 420 km lank en 115 km breed op die wydste punt?
Ja, dis ’n besonder klein land met ’n bevolking van sowat 9 miljoen mense, maar divers. ’n Groot deel is ’n bergagtige woestyn, maar hier is ook die semi-tropiese Jordaanvallei en die Dooie See. Die noorde is ongelooflik groen en in die winter is daar altyd sneeu. Ek het twee jaar in Jerusalem gewoon, wat ek regtig geniet het, maar waar ek uiteindelik die atmosfeer baie gespanne en swaar gevind het.
Hoe veilig is dit daar?
Ek voel baie veilig, en ek is ook. Ek kan laat in die aand alleen rondloop en dis glad nie buitengewoon nie. Dis veilig om te reis en geweldsmisdaad is seldsaam. Maar soos oral is daar areas wat nie so veilig is nie. Ek is versigtig as ek grensstreke soos die Gaza besoek, vermy betogings, veral in Jerusalem, waar oproer vinnig kan uitbreek.
Mediese dienste is uitstekend. Met my mediese versekering voel ek goed versorg en dis bekostigbaar.
Busse is die gewildste vorm van vervoer?
Israel het ’n moderne padnetwerk met trein- en busdienste tussen groot stede. In die stad is daar bitter min parkeerplek en om ’n kar hier te hê duur. Die meeste mense ry bus of huur elektriese bromponies.
Ek vind dit bevrydend om so maklik oor die weg te kom sonder om my te bekommer oor ’n kar of petrol. Ek het ’n fiets en probeer oral daarmee ry.
Die meeste stede het fietsbane, maar dit is heel veilig in die motorbaan.
Saterdag, die Shabbat, is wel die een dag van die week wanneer reis moeilik is. Dan is openbare vervoer baie beperk.
Is kuier om die tafel ook gewild daar? En is jy al genooi vir ’n Shabbat-maal?
Ek word dikwels na Shabbat-etes genooi deur vriende of kollegas en dis elke keer vir my ’n besonderse ervaring. Hulle is baie familievas en die uitgebreide familie kom Vrydae ná sononder bymekaar. Die kos word berei en die tafelgebed gedoen. Daarna word die seën oor die challahbrood uitgespreek en dit word eerste gebreek. Dan volg die seën oor die wyn (kosjerwyn of -druiwesap), wat net geproe word.
In die winter word gewoonlik sop voorgesit en in die somer slaaie. Hoender en vis soos salm wat redelik bekombaar is, is dikwels die hoofgereg.
’n Baie mooi tradisie van die gelowige Israeli’s is dat die pa voor die Shabbatmaal elke kind – van die oudste tot die jongste – individueel seën.
Die beste kos is . . .
Eksoties en heerlik. Hier is net so ’n ongelooflike verskeidenheid geregte. Shakshuka is eiers in ’n sous van tamatie, olyfolie, soetrissie, ui en knoffel, gegeur >
< met komyn, paprika, cayennepeper en neutmuskaat. My gunsteling tans is chraime, ’n visgereg wat met baie paprika, koljander en brandrissie gemaak word. Ek is ook baie lief vir kooba-sop met beet en spinasie wat verdrink word in suurlemoensap. Min mense sal sommer suurlemoensap in sop sit, maar dit is ’n wonderlike smaaksensasie saam met die beet. In Israel eet mense bitter min vleis omdat dit so duur is; vis is baie meer bekostigbaar en volop.
Waar koop jy jou kos en kruideniersware?
In die deel van Tel Aviv waar ek bly, is daar op byna elke straathoek ’n klein winkel (soos ’n spaza) wat kruideniersware verkoop. Hier is nie supermarkte soos ons dit ken in SuidAfrika nie. My vars produkte koop ek by die opelugmark, wat ’n shuk genoem word. Hier is een binne stapafstand van my waar ek groente en vrugte, speserye, droëvrugte en van brode tot gebakte pasteie en straatkos te koop kry.
Die Israeli’s eet graag bourekas, sulke klein blaardeegpasteitjies wat in olie gebraai word. Vulsels soos kaas en aartappel is veral gewild. Self eet ek nie juis brood nie, maar hulle is oor die algemeen baie lief daarvoor. Challah ,of kitka soos ons dit in Suid-Afrika ken, is die brood wat tradisioneel Vrydagaande met die Shabbat-maal voorgesit word. Pitabrode, laffa en jachnun, met hul oorsprong in Jemen, is ook tipiese brode wat daagliks vars te koop is.
Watter straatkos is jou gunsteling?
Omdat die weer so lekker is, bestee mense baie tyd buite. Veral in die somer is die strate besig. Die gewildste straatkos is hoemoes, falafel en shawarma – goedkoop en bekostigbaar vir almal. My gunsteling is hoemoes – dis heerlik vars en warm en ek eet dit graag met Egiptiese fava-bone. Hummus masabacha met heel kekerertjies, baie paprika en suurlemoensap is ook lekker. Hummus kawarma kom weer met fyn lams- of skaapvleis, rou uie en pietersielie.
Wat frustreer jou daar?
Die Israeli’s is nie juis omgewingsbewus nie. Ek dink in Europa en ook SuidAfrika gee mense baie meer om oor die natuur en dis hoe ek grootgeword het. Wanneer ek dus plastiek of rommel sien rondlê, sal ek dit optel, maar die meeste mense hier is nie juis gepla nie.
Soms maak die “ongemanierdheid” my ook moedeloos; goeie maniere en saggeaardheid word as ruggraatloos en swak beskou. In die begin was dit vir my moeilik, maar ná vier jaar is ek baie meer selfgeldend as voorheen. Ek sal nooit 100% soos ’n Israeli kan optree nie, maar op my eie stil en ferm manier staan ek op vir myself.
Die ongelooflike burokrasie frustreer almal. Alles word gereguleer en die wette streng afgedwing.
Enige taalprobleme?
In die begin was dit baie moeilik om die taal te leer, ek kon nie die woorde onderskei nie en alles het soos een lang rammeling en geraas geklink. Hebreeus laat Frans soos ’n wandeling in die park lyk. Dit het ’n totaal verskillende alfabet en die sinstruktuur is amper die teenoorgestelde van Afrikaans. Maar geleidelik het ek woorde opgetel en ek geniet dit regtig om die taal aan te leer. Ek het vir vyf maande ’n aanvullende kursus gedoen, wat my gehelp het om Hebreeus te lees en skryf. Ná vier jaar praat ek dit gemaklik, maar nog nie heeltemal vlot nie.
Kom jy terug SA toe?
Ek vlieg redelik gereeld terug om by familie en vriende te kuier, maar dis moeilik om vir seker te kan sê of ek permanent sal terugkom. Ek voel ek het meer geleenthede hier.