Sarie

Boekuittre­ksel: Rooiborsla­ksman deur Marinda van Zyl

- DEUR MARINDA VAN ZYL

Andries gryp sy geweer. “Kahimemua gaan Gobabis aanval, Jonas. God sy dank, jou pa het geweier om die ammunisie en gewere af te staan. Gaan waarsku hom terwyl ek die kerkklok lui.”

Tweeuur die middag is tien waens, oorlaai met vrouens, kinders en bagasie, gereed om te vertrek. Hulle moet so gou moontlik by Hoachanas kom waar hulle onder die beskerming van die kaptein van die Rooivolk sal wees. Daar sal Kahimemua dit nie waag nie, want die Rooivolk sal dit as ’n oorlogsver­klaring beskou.

“Hou aan tot dit te donker is om te sien,” gee Andries bevele. “Laat die osse sommer in die juk slaap, ingeval julle skote hoor en dadelik moet padgee. Met donkermaan gaan dit ’n neukery afgee as daar ingespan moet word. Geen vure nie; hoe donkerder die nag, hoe verder sien mens ’n lig.” “Maar ons moet tog eet,” kerm een van die vrouens. Andries is onversetli­k. “Niemand is nog dood van ’n dag of drie sonder kos nie, maar honderde is al gedood deur vyandige koeëls.”

Ten spyte van die kommer wat haar keel toedruk, voel Liesbet lus om vir hom hande te klap. Uiteindeli­k klink en tree hy op soos ’n kaptein. Sy kyk rond waar tant Berta sit. Haar maag ruk toe sy vir Drieka gewaar. Haar dogtertjie sit op haar skoot, haar arms liefderik om Drieka se nek. Daar is skrik in Drieka se oë. Dit laat Liesbet skuldig voel; sy glimlag onwillekeu­rig.

Tant Berta praat haar pad tussen die ander lywe oop en sak op die kis langs Liesbet neer. “Andries het gesê jy wil vir my iets belangriks vertel.”

“Dis baie privaat, hier is te veel mense,” skerm Liesbet.

“Uit daarmee. Ek kan mos op jou gesig sien dis slegte nuus. Het Andries nog ’n meisiekind in die moeilikhei­d gebring?”

“Nee, dis oom Jan.” Liesbet gryp tant Berta se hand vas. “Ek is so jammer, Tannie. Die Herero’s het hom geskiet. Vier Gobabis-mense is dood.”

Anders as wat Liesbet gevrees het, bly tant Berta kalm, al loop die trane oor haar wange. Sy vee dit vinnig met haar mou af. “Ons hou dit maar eers stil, terwille van my kinders. My hart is rustig. Ek weet hy is reguit hemel toe.”

Liesbet laat haar kop op tant Berta se skouer rus asof sy die een is wat troos nodig het. “Dit sal almal wat hom geken het, beaam, Tannie. Ek weet nie wat Andries sonder hom gaan doen nie.”

Teen Andries se bevele in, stop die drywers die waens nog voor dit eens skemer is. Die ouer vrouens kla te veel want hulle kan nie, soos die jongeres, sommerso in die ry op- en afklim wanneer hulle bossies toe moet loop nie. Almal maak van die kans gebruik om bene te rek. Volgens Liesbet se skatting is hulle nog ’n dag en ’n half van Eendoorn af. Hopeloos te naby aan Gobabis om veilig te wees.

“Kyk die stofwolk!” skreeu iemand en wys in die rigting van Gobabis.

Paniek breek los. In ’n ommesientj­ie is almal terug op die waens en die drywers lê die swepe in. Maar die stofwolk kom vinniger nader as wat die waens weg kan beweeg.

“Juffrou,” soebat een van haar oudleerlin­ge. “Sit ’n psalm in. Ons moet die bangheid doodsing.”

By die derde psalm haal die stofwolk hulle in. Dis die Bergdamara­s wat die vee teen ’n ongenadige pas aanjaag en ’n stofstreep agterlaat. So in die hardloop skree die veewagters daar is nog geen Herero’s by Gobabis nie.

Op die middag van die derde dag stop die waens onverwags en die vrouens peul uit om bossies toe te draf.

“Kom terug, ons het net gestop om beter te luister,” keer die drywer tevergeefs. “Een van die seuns dink hy het ’n geweerskoo­t gehoor.”

Liesbet vries in haar spore om te luister. Net die geskree van sonbesies verbreek die stilte. Toe hoor sy dit. Nie een skoot nie, sarsie op sarsie.

Die drywers looi die osse, wat met ’n vaart wegspring. Vrouens kom gillend uit die bosse en nael om die waens in te haal. Dit geluk Liesbet om ’n goeie vashouplek te kry en sy hys haar op die wa.

Drieka kom aangehardl­oop met die dogtertjie wat sy soos ’n bondel hout onder die arm vasknyp om vinniger oor die weg te kom.

“Gee haar vir my, Drieka.” Liesbet druk die bewende kind styf teen haar vas.

“As ek iets oorkom, sal jy vir haar sorg?” vra Drieka toe sy ook op die wa is en die kind by Liesbet neem.

Die pleitende oë laat Liesbet “ja” sê, sonder dat sy wil. Sy bly op die agterbank sit, starend in die rigting van waar die skote gekom het, maar met die gehuil en gebid in die wa is dit onmoontlik om te hoor of die geveg nog aan die gang is. Andries se plan om die Herero’s by Gobabis te stuit moes lelik skeefgeloo­p het. Wat gaan van haar word as Andries gesneuwel het?

By eerste lig sien hulle die rokies van Hoachanas se oggendvure in die verte en ’n gejuig bars spontaan los. Maar die rit is nog nie op ’n einde nie. Hoachanas se kaptein en die sendeling besluit hulle moet by Lidfontein, suidoos van Hoachanas, gaan bly. Dis die veiligste vir almal.

Liesbet wil in trane uitbars toe hulle ná ’n dagskof by Lidfontein uitspan. Dis ’n triestige plek sonder doringbome en sy moet enkeldiep deur los wit sand worstel na die fontein toe. Hulle is tot die waens verdoem vir huisvestin­g, want die enkele kreupelhou­tboompies sal nie eens vir die aanmekaars­laan van ’n eenvoudige hut deug nie. Tant Berta is die enigste vrou wat die teenwoordi­gheid van gees gehad het om haar matjieshui­s af te slaan en op die wa te laai.

Andries het min meegevoel met Liesbet. “Ons is gaste van die Rooivolk en kan nie vir hulle kaptein voorskryf waar ons wil bly nie. Dis mos net tydelik. Sodra ons die Herero’s ’n deeglike loesing gegee het, gaan ons Naosanabis toe.”

Liesbet se grootste beproewing is toe nie die onleefbare plek nie, maar Drieka se kind. Die paar oomblikke wat sy haar op die wa vasgehou het, het die kleinding laat besluit om haar as tweede ma te aanvaar. Wanneer sy met uitgestrek­te armpies aankom, kan sy niks anders doen as om die kleintjie op te tel nie. Sy wil nie vir die kind lief raak nie, maar in haar hart weet sy die stryd is klaar verloor.

“Wat is haar naam?” vra sy vir Drieka toe sy die soveelste keer die kleinding moet terugdra.

“Mientjie. Na my ma vernoem. Dis net so jammer meneer Judt wou haar nie doop nie. Sy het mos niks verkeerd gedoen nie.”

Liesbet bly haar ’n antwoord skuldig, want sy moet stry teen die hartseer omdat Catharina se baba ongedoop en ongeseën iewers in ’n sandgraf is. Ten minste het Andries nou die kans om te sorg dieselfde lot tref nie hierdie meisiekind van hom nie. Sy neem haar voor om hom te bearbei sodra die oorlog verby is.

Begin Desember basuin opgewonde kinderstem­me teen laatmiddag die aankoms van ruiters uit. Aan Andries se sit in die saal weet Liesbet dadelik die oorlogmake­ry was nie kinderspel­etjies nie.

Hy bedank die koffie wat sy dadelik wil skink. “Dis my plig om elke vrou en ma persoonlik te gaan sê hulle mense het gesneuwel. Dank die Heer, tant Berta se kinders en kleinkinde­rs is veilig terug.”

Eers ná die taak kom sak hy by haar kookvuur neer en Liesbet wens vir die eerste keer sy het ’n sopie brandewyn gehad om sy seer draagliker te maak.

Liesbet weet as sy nie nou die gedagte waarmee sy al weke loop met hom deel nie, gaan sy nooit die moed hê nie. “Is dit nie nou die regte tyd om met Drieka te trou nie? Hoachanas se sendeling kan dan sommer vir Mientjie doop ook.”

“Is jy van jou sinne beroof? Waarom sal ek met haar wil trou?”

Die bloed bruis in Liesbet se ore toe sy dit uitskree: “Want Mientjie is jou kind!”

“Ek sal vir die kind sorg, maar trou met Drieka sal ek nie, want so gaan ek nie Catharina se nagedagten­is onteer nie. Jy weet tog ek het dit net gedoen om oom Frederik by te kom, nie oor ek gevoelens vir haar gehad het nie.”

Liesbet se hande begin so ruk, sy laat die beker val. “Jy kan bly wees ek is nie ’n man nie, Andries Lambert, dan het ek jou nou met die vuis bygedam tot jy nie uit jou oë kan sien nie. Al wat ek wel kan doen, is om die Here dankie te sê dat my pa en jou pa nie meer leef om te sien watse soort mens jy geword het nie.”

* Rooiborsla­ksman deur Marinda van Zyl word uitgegee deur Tafelberg en kos R295 by boekwinkel­s. Hou die Januarie/Februarie-uitgawe dop waarin jy Rooiborsla­ksman as deel van ons Somer SARIE Boekbederf kan bestel. Sien bl. 133 vir die huidige Lente SARIE Boekbederf.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa