Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

Kos en wyn en die groot, groot gesprek. Dit is wat Opperman deur die mond van een van sy karakters gesê het. Dis iets wat ons Suid-Afrikaners goed begryp. ’n Paar vriende om ’n tafel met brood en wyn

– en ’n vuur – en die Groot Gesprek begin. Sommige gesprekke ontwikkel nooit verder as grappe en anekdotes nie, en dit is ook reg. As jy lekker gelag het vir die stories en grappe van jou vriende, dan was dit ook ’n Groot Gesprek. ’n Samesyn van waarde.

Groot maatskappy­e het dalk nooit Opperman se versdrama Periandros van Korinthe gelees waaruit hierdie woorde kom nie, maar hulle verstaan die waarde daarvan. Hulle weet dit is nie noodwendig ’n bosberaad of ’n konferensi­e wat kreatiewe oplossings ontwikkel nie. Meer dikwels is dit kollegas wat ontspanne, met ’n glas wyn en elmboë op ’n tafel, begin gesels oor die vreugde, opwinding en uitdagings van hul beroep. En dan, sonder enige druk, begin hulle uit die spreekwoor­delike boks dink.

Mens móét kuier.

Geen mens is ’n rots óf ’n eiland nie. Al sing Simon & Garfunkel sinies, maar roerend mooi en tragies dat hy ’n rots en ’n eiland is.

Met die corona-pes in ons midde kuier ons nie meer soos in die outyd nie. Ons leer om ánders te kuier. Kos en wyn en ’n tafel het ’n luukse geword. Dis nou kos en tuisgemaak­te pynappelbi­er voor ’n rekenaar as jy jou vriende wil sien.

Wie sê ’n ongewone kuier is nie waardevol nie?

Die vriende wat ek het, elkeen met sy eie geit en manier, is onvervangb­aar. Hulle is ook bereid om mý geite en maniere te aanvaar.

Ek het vriendinne wat uitstekend­e sjefs is. Nooi sy jou, sê jy dadelik ja, omdat jy weet dat die Groot Gesprek gepaard sal gaan met ’n opwindende maal. Ek het ook vriendinne wat skaars ’n aartappel kan skil, en as sý jou nooi, dan sê ek nóg gouer ja, want jy weet daar wag ’n verrassing. Dit wat hulle gaan voorsit om te eet, is die laaste ding op hul spyskaart. Daar is ander dinge wat belangrike­r is.

Annelie loop veel eerder tussen klippe rond en luister na die magiese gesprek wat die aarde met haar voer, as om kos te maak. Sy nooi my om saam met haar te gaan stap. En dan tee en appeltert. Ons loop sonder om veel te praat die berge in. Ons hoor die suising van die berg, voel met vingerpunt­e aan die grein van klip en rots.

By haar huis maak sy tee en haal die appeltert uit. Nié ’n gewone appeltert nie. Want toe sy die tert begin maak, besef sy sy het nie appels nie. Ook nie eens ’n blik appels nie. Tee en appeltert sonder appels is heerlik. Want ek en my vriendin voer die groot, groot gesprek.

My vriendin, die musikant en sanger, sy wat voor ’n klavier sit en poësie laat sing tot jou hart wil breek, nooi my vir koffie.

Ek lag by voorbaat. Ek weet wat kom.

Ná ’n halfuur bel sy en sê, daar is nie koffie in haar huis nie, sal ek asseblief saambring? Ek pak solank ’n mandjie. Met koffie, melk én beskuit, want ek weet sy sal intussen uitvind sy het ook nie melk nie. Ek sien uit na ons kuier, want dis nie koffie en melk wat belangrik is nie. Ons is.

Ek het ’n vriendin wat ’n boekversla­afde is. Superslim briljantji­e, dit is sy, bril en al. Die man wat op ’n dag sy oog op haar sit, is selfs ’n groter bleeksiel.

Hy skraap moed bymekaar en vra haar: Wil sy nie by hom kom lees nie?

Ja, sê sy, sy wil. Sy pak ’n paar boeke en gaan na hom toe. Hulle sit die hele oggend en lees, sonder ’n woord. Teen eenuur se koers gaan sy na die vreemde kombuis en probeer koffie maak, kyk of daar iets vir middagete is. Daar is niks.

Toe lees hulle maar verder.

Hul groot, groot gesprek het sedertdien nog nie geëindig nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa