KOEBAAI, MRS HOLLYWOOD
In my jonger dae het ek gehou van sagte, vroulike onderklere en vloeiende nagklere.
Veral mooi nagklere met ’n bypassende japon en fyn Cinderella-hakskoenpantoffels wat my soos Elizabeth Taylor of ’n Hollywood-godin laat voel het.
Maar soos die jare aangestap en die gesin gegroei het, moes
Mrs Hollywood plek maak vir dienlik, prakties en bekostigbaar.
Vroulik en sjiek het verander na praktiese katoen- en T-hempmateriaal, japon met belt en sakke. Later het ek nie meer geloer na die rakke met die mooi goed nie en reguit afgepyl op die mans- en die seunsafdeling vir klere, skoene en sportklere.
Elke paar jaar het ek die Moedersdag-geskenkbewys gebruik vir prakties en dienlik. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het myself nog steeds elke dag goed versorg en my beste probeer lyk vir my man en kinders. Maar
Mrs Hollywood was vergete.
Nou, hier diep in my vyftigerjare, hunker ek terug na die lekker gevoel van Mrs Hollywood. Ek grawe my spaarvarkie waarvan net ek en Onse Heer weet uit en vaar die dorp binne. Lus vir bederf-spandeer, beweeg ek van winkel en boetiek na die volgende, op soek na Mrs Hollywood. Sien die mooiste onderklere.
Maar o wee, alles is bedraad en opgestop. Is ek dan die enigste vroulike wese op aarde met my eie natuurlike padding?
My soektog na mooi nagklere lewer net vormlose katoen- en T-hempnagrokke met beertjies, hartjies en lelike geblomde satyn in harde kleure op.
Moedverlore is ek terug huis toe. Ek was nie eens lus om die susters te bederf met praktiese en dienlike katoen nie.
My trane sit vlak toe ek Mrs Hollywood terugdruk in Spaarvarkie se magie. Nog ’n legende is vergete.
Zalinda Truter, George