Sarie

ARNO CARSTENS Ă JAN BLOHM

Hul kuns rock!

- DEUR LIANI JANSEN VAN RENSBURG

Die hart van ’n man is soos ’n see, só het Vincent van Gogh eens gesê. Dit het storms, dit het getye, maar iewers in die diepte is ’n pêrel versteek. Twee SA rockers, Arno Carstens en Jan Blohm, kan hiervan getuig. Hulle gesels oor die kuns van die lewe én voordele van groei Jy kan teruggaan in tyd en vir jou jonger self raad gee. Wat sou dit wees en hoekom?

Arno: Matigheid voor oë! Die pad is lank . . . embrace jou tekortkomi­nge, hou minder partytjies en wees meer kreatief. Laat elke dag tel.

Jan: Om mooi te kyk na die mense om my. ’n Ou besef dit nie altyd nie, maar jy maak mense rondom jou soms seer. Maar verder sou ek nie vir myself wou raad gee nie. My pad het my gebring tot die mens wat ek vandag is. Jy moet jou kop stamp, jy moet deur donker tye gaan. Jy moet sekere goed verloor om dit weer te kan waardeer. ’n Wyse man is ’n onwyse man wat twee keer sy toon gestamp het, en toe daaruit geleer het.

Elke kunstenaar het sy muse. Picasso s’n was Dora Maar, terwyl Gustav Klimt op sewe muses staatgemaa­k het. Wie is jou muse en sukkel jy soms om haar te vind?

A: Ek verwonder myself aan ander se kuns en talente. Dit dryf my om elke dag ’n beter liedjieskr­ywer en kunstenaar te word. As dit by musiek kom, is my muse die Australies­e sanger Nick Cave van Nick Cave and the Bad Seeds. Ek volg al lank sy loopbaan en sy evolusie as ’n sanger en storievert­eller is vir my net aangryplik. Dit gee my absolute gemoedsrus om kunstenaar­s te sien wat so diep in die menslike psige kan delf en ongemaklik­e onderwerpe met soveel deernis en sukses aanpak. As dit by kuns kom, is dit vriende soos Beezy Bailey en Lionel Smit wat my kop in die regte rigting stuur.

J: ’n Muse is maar ’n fickle ding. ’n Deel van die inspirasie of kreatiwite­it het vir

my iets te doen met ’n antwoord kry of ’n gevolgtrek­king maak. Om êrens te kom, iets uit te pluis. Dit gaan ook maar om ’n kanaal oop te maak na iets groters as jy . . . om jou ego opsy te skuif. Iets te channel wat jy nie verstaan nie, maar weet daar is.

Jy is ’n uitgeknipt­e rocker, wat al dekades in die bedryf is. Hoekom het jy besluit om ook die skilderkwa­s op te tel?

A: Kuns was my beste “sport” op skool. Dit was ’n heenkome vir ’n amperverlo­re tiener. In my twintigs het my rockgroep, Springbok Nude Girls, my besig gehou. Mettertyd het ek weer die verfkwas begin optel, maar ek het nog ’n lang pad om te stap. My grootste struikelbl­ok is my vrees om foute te maak, maar as jy nie foute maak nie, leer jy nie.

J: Kuns was nog altyd deel van my. Ek het dit baie jare gedoen. Maar vir ’n groot deel was my fokus op skryf, op musiek . . . en dis ’n intense verhouding. Ek het net ’n paar jaar terug opnuut besef dis iets wat ek werklik mis en net weer wou doen. Ek was gedryf om dit te doen. Dis ’n baie innerlike ding, ’n persoonlik­e ding . . . ’n manier om jouself uit te druk. Dis net ek, my esel, verf en die een ander “persoon” wat jy skep. Daar is geen plan nie, jy begin net. Musiek is weer ’n sosiale ding, wat ook nice is. Die kuns help my met balans, om tyd te maak om alleen te wees.

Kuns is subjektief. Was jy aanvanklik huiwerig om jouself op só ’n wyse bloot te stel aan kritiek?

A: Ag, nee wat, dít pla my glad nie. Ek sit en doen juis hierdie goed op my eie. Dis counterpro­ductive om te sit en tob oor mense se opinies. As ek hou van wat ek doen, weet ek daar sal iewers iemand wees wat dit ook sal waardeer. In daardie opsig is musiek en kuns baie dieselfde.

J: Ek het in my lewe al soveel kritiek gekry, ’n ou raak so ’n klein bietjie immuun daarteen. Nie dat ek dit aflag nie, maar jy raak net hard daarteen. Jy fokus op die mense wat resoneer met jou kuns. En dis oukei . . . dis eintlik

nice dat nie almal aanklank vind nie, dit wys die wêreld is anders, almal is uniek. Maar ek was aanvanklik huiwerig om ’n ding klaar te maak, om dit vir mense te wys. Ek het geleer om te vertrou . . . Gelukkig het ek goeie vriende, soos Lionel Smit en Ruhan Janse van Vuuren, regte, egte kunstenaar­s wat jou raad gee en met wie jy kan praat.

Watter medium verkies jy vir jou werk en hoekom?

A: Olieverf, houtskool, spuitverf. Olieverf is die moeilikste medium om baas te raak, maar dis ook die vervullend­ste.

J: Ek het dit as ’n ambag begin aanpak, asof ek van voor af begin. Eers met ’n grys potlood en ’n stuk papier. Ek het net geteken, teken, teken. Toe is dit houtskool, pastel. Tans gebruik ek olieverf, en dis my gunsteling­medium. Ek is obsessief oor hoe verf werk, wat verf doen. En dan is my stokperdji­e beeldhou, ek is mal daaroor om met klei te werk. >

Glo jy nog in die toekoms van ons land?

A: Dis moeilik . . . so graag as wat ek wil glo, kan ek nie ’n goeie toekoms vir die land sien nie. Politiek en korrupsie het ons land gebreek. Al wat ek nou kan doen, is om positief te wees oor my eie werk. Om soos talle ander vriende in die bedryf net ons bes te doen en sodoende gehaltewer­k vir julle te kan lewer. My liefde vir Suid-Afrika se fauna en flora, die land en see is ongedeerd en dít gee my ’n wilskrag vir die toekoms.

J: Dis ’n bitter moeilike vraag om te beantwoord. Ek glo hoe ’n mens na ’n slegte toekoms beweeg, is as vrees jou baas raak. As vrees jou lei, word ’n ou eintlik beheer deur die mense wat jou bang maak. Ek glo in die toekoms van ons geskiedeni­s, ons is besig om ons geskiedeni­s te skryf. En oor 100 jaar van nou af gaan mense lees oor wat Afrikaanse mense in 2020 gedoen het – wit, bruin, swart. En ek glo in daai toekoms. Wat ons nou doen, tel. Dís waarop ons moet fokus. Word ons beheer omdat ons bang is? Word ons beheer oor ons dinge wil verander wat ons nie kan nie? Nou . . . dis ál wat tel. Ons moet ’n mooi geskiedeni­s skryf vir toekomstig­e geslagte.

Ons het al almal terugslae en teleurstel­lings beleef. Watter raad het jy vir iemand wat sukkel om oor te begin en weer te probeer?

A: Vind inspirasie in ander se verhale oor terugslae en oorwinning. Beoefen selfreflek­sie, introspeks­ie en luister na objektiewe, opbouende kritiek. Eet ’n bietjie stof, stof jouself af en staan weer op.

J: Dit hang af hoe jy daarna kyk. Die lewe het siklusse, maar die een ding wat konstant bly, is veranderin­g en hoe jy kies om daarmee te cope. Dis wat ek ondervind het in my eie lewe. Dinge gaan verander, dinge kan nie dieselfde bly nie . . . jy moet dit besef. En hoe om op te staan? Daar is nie ’n ander opsie nie, daar is nie ’n opsie om te gaan lê nie. Om te lê is om te vergaan, op te hou leef. Enigiets wat leef, groei. En as jy ophou groei, is jy dood. Sukses in jou lewe word hierdeur bepaal: deur hoeveel pyn jy kan leef. Groei is nie maklik nie.

Wat bring die beste in jou uit – ’n leë skilderdoe­k of ’n gehoor?

A: Albei is altyd ’n uitdaging. Jy gooi jouself warts and all voor mense en hoop hulle staar nie na jou ekstra ledemate nie. Maar musiek voor ’n honger gehoor bly net besonders . . . hemels.

J: Ek kyk altyd anders na daai vraag. Wat bring die beste in mense uit? En dís wat ek wil create. Dit gaan nie altyd oor wat die kuns uit my bring nie. Kuns is ’n ding wat jy daar buite sit. Ek kry dit nie altyd reg om myself uit die pad te skuif en op die mense te fokus nie. Maar dit hou my eerlik.

Elke musikant het sy eie kleedkamer-ritueel voor ’n konsert. Wat is joune en het dit oor die jare verander?

A: Sjoe, dit het baie verander! Aanvanklik het dit só verloop: Om jouself regdeur die dag voor te berei vir die show en dan ’n uur voor die vertoning backstage te arriveer. Dan skryf ek ’n set list neer, gaan saam met die band deur sekere songs en drink Jägermeist­er vir die stem. Daar’s natuurlik altyd die fyn balans om jou stem nie te veel op te warm nie. Maar deesdae probeer ek die stres verminder,

so ek arriveer tien minute voor die show begin. Ek klim letterlik uit die motor en loop op die verhoog.

J: Ek het nie verskrikli­ke ditjies en datjies nie. Ek probeer so min as moontlik voor die tyd te mingle .Ons het ’n gebed, die “Serenity Prayer”, wat ons doen voor ons op stage gaan. Dis die enigste ritueel. SARIE se leuse is #JyIsGenoeg. As jy hierdie boodskap aan enige kunstenaar of musikant uit die verlede kon oordra, wie sou dit wees en hoekom?

A: Die reusagtige Huyser Burger van Battery 9; my ou vriend, wat nou oorlede is. Hy was een van die coolste, talentvols­te all-round kunstenaar­s wat ek geken het. Maar ek dink sy sensitiwit­eit teenoor die wêreld het sy innerlike prag later versmoor.

J: Ek sou die leuse aan elke liewe kunstenaar wou oordra. Ek het nog nie ’n kunstenaar ontmoet wat nie op ’n stadium met daai leuse geworstel het nie. Eintlik worstel almal daarmee. Die belangrike ding is selfliefde, selfaanvaa­rding. Dis ’n persoonlik­e journey, jy kan dit nie in iemand se keelgat afdruk nie. Maar dis die reis van die lewe . . . Hoekom is jy so lief vir Afrikaans?

A: Ek voel die klanke . . . ek voel die woorde. Dis ’n dramatiese taal, wat terselfder­tyd ook plat op die aarde kan wees. So by ’n braai kan jy een oomblik soos Shakespear­e klink, en dan skielik weer soos Jack Parow, sonder om ’n oog te knip.

J: Afrikaans is maar net wie ek is as mens. Party dae minder lief, party dae meer lief. Daar is ’n rede hoekom mense dit jou moedertaal noem, dis jou ma. Dis hoe jy gevorm is, dis hoe jou brein werk. Ek droom in Afrikaans. Ek is lief in Afrikaans. Jy praat met jouself in Afrikaans. Jy berispe jouself in Afrikaans. Jy troos jouself in Afrikaans. Dis eerder ek ís Afrikaans as wat ek lief is vir Afrikaans. Ons almal skryf aan die geskiedeni­s van Afrikaans.

Kan jy ’n oomblik herroep wat jou lewe handomkeer verander het? En het dit jou toe ook iets van jouself geleer?

A: Ek het heeltemal uit my party-tjieleefst­yl gegroei en dis wonderlik. Dis nou al twee jaar en eintlik wens ek, ek het dit vroeër opgegee. Ek’s nou meer gefokus, meer produktief, gesonder en nicer. Dis net ’n ander klas lewe en ek verwelkom dit ten volle.

J: Die geboorte van my dogtertjie, Simone. Sy het my lewe heeltemal verander. Ek het nooit besef wat onvoorwaar­delike liefde is nie. Ek het ook nooit besef hoe selfsugtig ek was nie, tot ek haar gehad het. Dit gaan nie net oor myself nie, dit gaan oor meer as myself. 2020 het die wêreld tot stilstand gedwing. As jy die jaar in ’n lied kon vasvang, wat sou die eerste frase wees? A: Gewond maar nie oorwonne. J: Ek mis jou so. Het jy ’n mantra of leuse wat jy koester en aan vasklou? A: Dit wat jou uniek maak, is jou grootste bate.

J: Leef mooi. Wat lê voor vir die nuwe jaar – enige opwindende projekte, albums of kunsuitsta­llings? A: Ek is besig om my volgende solo-album bymekaar te sit. Ek het ook șliedjies virț ’n nuwe Afrikaanse album geskryf, maar ons wag nog vir finansieri­ng. Terselfder­tyd is Springbok Nude Girls ook besig om ’n album klaar te maak. Eintlik is daar baie goed in die vooruitsig.

J: Wat Covid my geleer het, is om meer in die oomblik te wees. So vir nou het ek nie groot planne nie, ek wil die jaar net klaarmaak. Daar gaan optredes wees, kuns verkoop word en ook net mekaar geniet. Dalk kom 2021 en dan het ons meer energie en het ons geestelik gegroei. Maar vir nou wil ek net in die oomblik wees.

 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO MARILIE LOUBSER ?? Jan Blohm vroeër vanjaar tydens die KKNK se Mothership Sessionsko­nsertreeks wat aanlyn gestroom kon word.
FOTO MARILIE LOUBSER Jan Blohm vroeër vanjaar tydens die KKNK se Mothership Sessionsko­nsertreeks wat aanlyn gestroom kon word.
 ?? FOTO GETTY IMAGES/ GALLO IMAGES ?? Arno Carstens en Adriaan Brand van die Springbok Nude Girls op die Shepherd’s Bush Empireverh­oog in Londen, 2011.
FOTO GETTY IMAGES/ GALLO IMAGES Arno Carstens en Adriaan Brand van die Springbok Nude Girls op die Shepherd’s Bush Empireverh­oog in Londen, 2011.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa