Sarie

Ons leef volgens ’n nuwe kode – dis fantasties! Ă Boekuittre­ksel

- DEUR NATANIËL

Hierdie is nie ’n verhaal wat ek wou skryf of vertel nie, so hartseer en so tragies is dit. Maar wanneer ’n storie in my kop verskyn, kan ek aan niks anders dink nie, hy moet eers uit voordat ’n ander een kan begin. Ter wille van vooruitgan­g vertel ek hom dus nou, die verhaal van twee verskrikli­ke nagte. Die eerste keer dat ek aangeval is, was ’n ongeloofli­k skokkende ervaring. En totaal onverklaar­baar. Ek woon in ’n huis met soveel sekuriteit dat ekself partykeer nie daar kan in nie. En ek slaap baie lig, my ouma het gesê dis ons familiestr­af, ons lê soos skottelgoe­dskuim, bo-op, nooit in die slaap nie.

So word ek een nag wakker en ek weet onmiddelli­k hulle is op die dak. Ek kan hoor hoe hulle skuifel en rondtrap en besig is om die teëls op te lig. Ek is dadelik verby histeries, anderkant droë mond tot by rof bewe, daai bewe wat mense kry as hulle die eerste keer iemand soen by die werk. Ek is te swak om regop te staan, ek kruip tot by die muurpaneel en druk al die knoppies, alarm, garagedeur, noodligte, sekuriteit, buurtwag, polisie, brandweer, ambulans, apteek en die mense wat kos aflewer.

Ek sit met my rug teen die muur, die alarm gil op drie plekke, die garagedeur is oop, alle ligte is aan, maar niemand op die dak skrik nie, ek kan hoor hoe hulle skuur en skaaf. Ek kruip tot langs my bed, ek gryp my motorsleut­els en druk die remote.

Die geld is in my kar! skree ek, Ek hou dit daar vir die mense by die robots! Vat dit! Ek gee alles weg! Ek is dierbaar! Ek help almal!

Ek bewe nog steeds. En ek huil. Want ek besef hoe dierbaar ek rêrig is. Wat soek hulle op die dak?

Julle kan my nie vermoor nie! skree ek, Ek pla niemand nie, ek help weeskinder­s, ek help oumense, kan julle nie die alarm hoor nie, almal is op pad!

Toe stop die sekuriteit­smotor voor die huis, toe die brandweer en toe hoor ek die man van die buurtwag roep.

Hulle is op die dak! skree ek en besef niemand kan my hoor nie.

Ek sit die alarm af en maak my kamervenst­er oop.

Op die dak! skree ek.

Ons is klaar op die dak, Meneer! skree ’n man, Hier is niemand nie!

Toe steek die man van die apteek sy hand deur die venster. Hier is jou cholestero­lpille, sê hy, Jy kan môre betaal.

Toe draai die brandweer hulle pyp oop en spuit hom van die stoep af tot in die tuin.

Hier is nie ’n brand nie! skree ek.

Hier is niks, sê die buurtwagma­n, Ons is reg rondom die huis.

Hier’s ’n los geut, sê die man op die dak, Dis hy wat so skuur as die wind waai.

Ek kon hulle hoor, sê ek.

Die man wikkel die geut.

Dis net dit, sê hy, Ek kan dit môre kom regmaak.

Ek kom uit, sê ek.

Ek sluit die agterdeur oop. Die hele erf is vol mense, almal het opgedaag. Behalwe die polisie. Die brandweer is besig om hulle slang op te rol. Langsaan staan ’n man met twee pizzas. Ek het kleingeld vir R200, sê hy.

Deel maar uit, sê ek, My geld is in die kar, ek kry gou.

Toe klim ’n man in ’n uniform teen ’n leer af.

Die geut moet net op ’n paar plekke vas, sê hy, Ek kan môreoggend help as Meneer wil.

Is jy nie van sekuriteit nie? vra ek.

Ek help net uit, Meneer, sê hy, Ek doen klomp los joppies. Ek het nog nooit iemand moes goedkeur vir ’n geut nie, maar hy het mooi wangbene, sy tandvleis lyk gesond en hy het glad nie onhandig vertoon op die leer nie.

Kom maar so vroeg as moontlik, sê ek, Ek sal nie weer so ’n nag oorleef nie.

Toe is almal weg. Twee ure later begin dit lig word, ’n uur later gaan ek bad en ’n uur later is die man terug om die geut vas te maak. In die daglig kan ek sien hy is baie jonk. Hy lyk soos iemand wat jy op televisie sien praat ná ’n ramp, mooi, maar verniel. Sy hempie is deur dieselfde ramp, sy jean is twee nommers te groot en hy het kort, ligte hare en ’n vleklose, bleek vel soos ’n kommunisti­ese gimnas.

Ek sê, Het jy sonbrandol­ie? Soos enigeen wat naby ’n vulkaan woon jou sal vertel, niemand wil opkyk en iets roois sien nie.

Nee, ek het nie, Meneer, sê hy.

Ek sê, En wat is jou naam? Ná laas nag moet ek weet wie is op my dak.

My naam is Dan, Meneer, sê hy.

Ek sê, Aangename kennis, ek bring die olie.

So werk Dan die hele dag op die dak. Vieruur die middag klim hy af en klop aan die agterdeur.

Ek is reg rondom, Meneer, hy sal nie weer losgaan nie, sê hy.

Solank daar net nooit weer ’n geluid is nie, sê ek, Ek weet nou nog nie hoe ek gaan krag kry voor vanaand nie, ek is amper vermoor, ek weet nie hoe ek ooit weer gaan ontspan nie.

Ek kan vannag hier oorslaap, sê Dan.

Ek sê, Sê al vyf daai woorde weer?

Ek kan vannag hier oorslaap, sê Dan, As dit Meneer sal kalmer maak.

Ek sê, Ek is nie noodwendig agter kalmte aan nie, maar moet jy nie vanaand werk by die sekuriteit nie?

Ek help net uit, Meneer, sê Dan, Ek is vanaand af, maar van 5 tot 7 lewer ek gas af, dis een van my los joppies. Meneer kan saamry, dan hoef Meneer nie hier te sit en bang wees nie. Ek het ’n trokkie.

Ag, ’n mens kan nou lank praat oor hoekom en oorkom en omkom en regkom, maar ’n uur later sit ek voor in Dan se trokkie, ’n voertuig wat een eeu vroeër gebou is deur wolwe en zombies. Daar is grotmense wat in die jare voor die wiel uitgevind is, gladder teen ’n bult af is as wat ons die helling vat Garsfontei­n toe.

Ek sê, Dan, ek het dit nog nooit vir iemand gesê op dieselfde dag wat ek hom leer ken het nie, maar ons skommel te veel, dis nie reg nie.

My naam is nie rêrig Dan nie, Meneer, sê hy, Ek het dit maar self uitgedink, eintlik is my naam Kokkie.

Ek is vir ’n oomblik stil. Ek skud net.

Toe sê ek, Kokkie, jy sal moet stilhou, ek is reeds deur ’n verskrikli­ke nag, daar kon indringers gewees het wat vir ure met my kon doen net wat hulle wil, nou ry ons hier met te veel gas vir ’n voertuig met vierkantig­e wiele, as ’n ding nou ontplof, sien ek al die koerante: Sanger sterf met gasbottel.

Dit kan ek nog vat, maar dan gaan hulle daai woorde gebruik: Kokkie se trokkie. Dit sal vir my te veel wees. En dan later gaan iemand nog woorde bysit, krokkie en bokkie en blokkie en klokkie en hokkie en sokkie en dan is dit ’n Afrikaanse treffer en ek wil nie so onthou word nie. Jy laai my by hierdie garage hier voor af, ek wag vir jou agter ’n pomp tot jy afgelewer het wat jy moet aflewer, dan laai jy my op, dan gaan gee ek vir jou hoender en wyn en dan wag ons die nag in.

Twee ure later sit ons aan tafel. Ek het kerse aangesteek, orals in die huis, dat ons net kan ontspan en dat die heelal kan sien hier is mense, bly van die dak af. Kokkie het gestort en lyk pragtig in ’n wit hemp en ’n swart broek wat ek vir hom gegee het, ek is in my gewone huisdrag, ’n kleefbroek van rekplastie­k met ’n draak uitgesny op die een been en ’n los hemp met blinkertji­es en ’n klein bietjie oogpotlood.

Kokkie het stil sy hoender geëet en toe wyn gedrink en my vertel hoe sleg sy naam vir hom is en van sy ma wat al 18 jaar onder ’n kombers lê met ’n siekte wat net arm mense kry en sy pa wat in ’n ander kamer lê met ’n diabeetbee­n en die meisie wat hom nie wil hê nie al is sy baie vaal en moet in die somer truie dra want sy het ’n kateter en dat hy nie vaste werk kry nie al het hy getuigskri­fte, en daarom is dit baie moeilik om sy eie plek te kry, so hy werk maar bedags en snags en gee nie om om los joppies te doen nie, as dit nie was vir my geut nie, het hy nooit iemand ontmoet wat al op TV was nie, hy sal enige tyd weer kom uithelp.

En ek het sit en luister en gewonder hoekom ek ooit ophou drink het, want alkohol is wat jy nodig het elkeen van die duisend kere dat jy iemand ontmoet wat net soveel of meer het as ander, maar in alles glo behalwe hulleself en deur alles en almal op aarde regeer word behalwe hulle eie wil en nooit, ooit ontsnap van hulle bywonersbl­oed nie, al het hulle mooi wangbene en vleklose vel en gesonde tandvleis.

Ek het die kerse aangelos toe ons gaan slaap het, ek was deurnag wakker, ek het geluister vir die dak, maar ek het nie gehoor toe Kokkie vroegoggen­d daar weg is nie. Ek het wel later die dag in die gastekamer gesien hy het nooit in die bed geslaap nie, maar langsaan op ’n kombers, want dis wat bywoners doen.

Daai aand het ek vroeg gaan slaap en uiteindeli­k deurgeslaa­p, want dis wat ek doen ná twee verskrikli­ke nagte.

* Dik Dun Thick Thin Stories deur Nataniël word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R250 by boekwinkel­s. Hou die Januarie/Februarie-uitgawe dop waarin jy Dik Dun Thick Thin Stories as deel van ons Somer SARIE Boekbederf kan bestel.

* Lees ook Nataniël se rubriek op bl. 17 en die onderhoud met hom op bl. 132.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa