Sarie

Nataniël-onderhoud: Ons lewe volgens ’n nuwe kode – dis fantasties!

Al is Nataniël se stories guitig en dikwels vol humor, skuil daar altyd ’n dieper gewaarword­ing in die teks

- Phyllis Green het per e-pos met Nataniël gesels oor Dik Dun Thick Thin. FOTO CLINTON LUBBE Stilering Fanie Cronjé Versorging Lyn Kennedy Halssnoer Tik Lee Kraagstuk Clive Rundle

In sy nuutste kortverhaa­lbundel, Dik Dun Thick Thin (Human & Rousseau, R250), is dit die terloopse sinne wat jou tref en laat besin oor die aard van die mensdom en hul gewoontes, goed en sleg. Die storie “’n Teken” is op die oog af eenvoudig, maar dan lees jy die sosiale kommentaar raak en die lewenswysh­eid bly jou by. Jy kan jou vereenselw­ig met hoe elke mens ’n betekenisv­olle teken soek, iets wat hulle sal aanvuur tot aksie.

Soos klein verhoogopt­redes speel die stories voor jou af. Die visuele taal versterk die impak van die stories en jy word weggevoer van jou eie werklikhei­d na die magiese wêreld van karakters soos Quacalene, Hoekman, Mannion en Thank You in die rolverdeli­ng. Die stories is vir lees en weer lees, en elke keer put jy nog meer daaruit.

Waarom is die bundel tweetalig?

Die meeste inwoners in die land is Engels magtig en op sommige plekke is my gehoor grotendeel­s Engels. Ek kan nie eksklusief net in Afrikaans of net in Engels werk nie. Wanneer ’n boek tweetalig is, koop almal hom. Selfs dié wat net een taal verstaan, koop die boek ter wille van ’n paar stories. Ek besluit ook nie hoeveel van watter taal nie, ’n storie kies sy eie taal en dit wat gereed is, verskyn. Waar begin ’n storie vir jou?

Gewoonlik visueel. Ek sien ’n persoon of uitrusting of onderonsie of enigiets wat ’n indruk maak. Dit bly in my gedagtes en uiteindeli­k verskyn ’n storie. Ek beleef alles visueel, al is dit nie hoe ek skryf nie. Ek verskaf net beskrywing of detail wanneer dit absoluut nodig is. Dis fantasties wanneer D.H. Lawrence die namiddagso­n oor vier bladsye beskryf, ek kan nie, my lewe is te vol en te kort. Hoe kies jy die titels van jou verhale?

Ek het geen behoefte aan slim of intellektu­ele titels nie. Soos met ’n liedjie of vertoning, moet die titel eenvoudig en musikaal wees, gewoonlik baie kort en maklik om te onthou. ’n Lekker titel gee my plesier. En wat is belangrik by die kies van name vir jou karakters?

Om nie tipiese name te kies nie. Baiekeer word wonderlike stories, stukke of rolprente bederf deur geykte name. Mense dink té vinnig só ’n karakter moet só ’n naam kry; my stories is dikwels klaar of amper klaar voordat die naam homself aankondig. Jy skop die verhaal “Twee verskrikli­ke nagte” af: “Hierdie is nie ’n verhaal wat ek wou skryf of vertel nie, so hartseer en so tragies is dit. Maar wanneer ’n storie in my kop verskyn, kan ek aan niks anders dink nie, hy moet eers uit voordat ’n ander een kan begin.” Is dit hoe jou skryfprose­s werk?

’n Storie vorm in my kop en ek kan weke met hom rondloop. Hy moet ten minste meer as halfpad ontwikkel het voor ek gaan sit. Ek skryf soggens baie vroeg. Sodra iemand my pla of iets gebeur, is alles verby vir daai dag. Lê een van die stories in die bundel jou nader aan die hart as die ander? Daar is altyd gunsteling­e, sekere goed lê net eenvoudig nader aan my hart, of dit ’n storie of ’n lied of ’n uitrusting is. Gewoonlik dié wat nie die langste applous kry nie, al het ek gehoop dit word ’n treffer. Elke boek, CD of produksie bevat ’n paar weeskinder­s. Hulle is my gunsteling­e. 2020 is ’n ongewone jaar, die pandemie het ons lewe op sy kop gekeer. Hoe het die jaar jou geraak? Dis ’n unieke jaar. Ek het nog nooit so hard gewerk, soveel projekte begin, soveel gewig verloor, soveel getwyfel, soveel besluite geneem en soveel tyd alleen deurgebrin­g nie. (Dit was en is steeds heerlik, ek is nie ’n kuddelid nie.) Aan die een kant was dit die verhoog-sabbatical wat ek lankal moes hê, aan die ander kant is dit ongekende spanning wanneer ek dink aan al die swaarkry om my en hoeveel herstel moet plaasvind. Maar die feit dat ons nie kan terugkeer na dieselfde werklikhei­d nie en dat ons volgens ’n nuwe kode sal moet leef, dít is fantasties. 19 albums, meer as 80 teaterprod­uksies, 21 boeke en jou eie reeks produkte – raak jou inspirasie om te skep nooit op nie?

Inspirasie raak nooit op nie, dis die minste van my probleme. Energie raak soms min, selfvertro­ue ontbreek gereeld, tyd hardloop vinnig weg; daar is nie gereelde beloning of die regte erkenning nie, maar om nuwe goed te doen is my suurstof.

 ?? Lees die volledige onderhoud met Nataniël op SARIE.com ??
Lees die volledige onderhoud met Nataniël op SARIE.com

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa