Laaste sê deur Riana Scheepers
’n Maand of wat gelede was dit nog verbode om rookgoed te koop. Juis daarom het rook verskriklik belangrik geword.
Het hierdie drakoniese regulasie die mensdom gestuit? Nee, natuurlik nie. Dié wat wou rook, het planne gemaak, maar rook het hulle gerook.
Ek is nie ’n roker nie, ek verpes dit. Maar wat ek meer verpes het, was die drakoniese verbod wat op hulle afgedwing is. Wat my egter oneindig beïndruk het, was die ondergrondse smokkelnetwerk wat tot stand gekom het. Dit was pure genialiteit. My een vriendin het doodnugter verklaar: “Ek is nou ’n krimineel. Ek smokkel sigarette.”
Jare gelede het iemand se rookdampe my min gepla, ek het dit argeloos met ’n hand weggewaai. Tot. Tot daardie hel-nag toe ek in ’n vliegtuig tussen die rokers moes sit. Daardie dae toe mense nog in ’n gedeelte van die vliegtuig kon rook. Wat ’n belaglike idee, om die agterste gedeelte van ’n ingeslote ruimte vir die rokers te gee! Dis presies dieselfde as om vir die mense in ’n swembad te sê hulle mag maar in die een hoek van die swembad gaan piepie.
Die enigste plek wat daardie dag op die vlug van Amsterdam na die Kaap beskikbaar was, ten spyte van my desperate versoeke, was tussen die rokers. Toe ek die volgende oggend land, was my oë toegeswel, en ek die grootste kampvegter teen rook. Nooit weer daarna sou ek na ’n ou fliek kyk en dink dit is prikkelend as ’n silwerdoek-godin, een met fladderende wimpers en baie kurwes, uitlokkend aan ’n sigaret in ’n lang koker suig nie.
Dieselfde met die heldinne uit die liefdesromans van die sestigerjare. Hulle wat van elke sigaret ’n flirtasie gemaak het. Die romantiese passasies het verwoord hoe die heldin se vingers verleidelik skulp om die hand van die man wat haar sigaret aansteek. ’n Redakteursvriendin vertel my dat dit in latere jare uitgewersbeleid geword het om nié ’n heldin te hê wat rook nie. Die ou liefdesromans wat later herdruk is, hulle met die rokende heldinne, moes gesuiwer word. Die sigarette is uitgehaal. Die redakteurs moes die verleiding van die rook-ritueel verander na smeulende kyke en vingerpunte wat vlugtig aan die held se arm of sterk wangbeen raak.
Daar was baie jare wat ek weekliks vir ons personeel op ’n Karooplaas moes voorrade aankoop en uitneem plaas toe. Een maal ’n maand kon hulle self dorp toe gaan en hul eie aankope doen, maar in die tussentyd het ek ’n lysie gekry wat oor die telefoon vir my voorgelees is. Dié lysie kon ek naderhand uit my kop opsê, want daar was nie te veel variasie nie. Die eerste item, voor die broodmeel en aartappels, was altyd twak. Sterk twak. Twak wat in ’n papiertjie opgerol en aangesteek word. Net een keer het ek die onvergeeflike fout begaan om die verkeerde soort twak te koop, ’n handelsmerk wat nie dieselfde skop het as dit waarvoor gevra is nie. Met elke bestelling daarna is ek aangesê: “Mevrou moet nié die verkeerde twak koop nie!”
Nee, ek sal nie. Al gaan dit teen my grein om vir iemand twak te koop, was dit nie my plek om hulle van dié gewoonte te genees nie.
Nie dat ek nie probeer het nie. Meer as een keer het ek die gevare en die nadele van rook verduidelik. ’n Futiele oefening, natuurlik. Op ’n dag het ek vir Mattous, ’n man baie naby aan my hart, uitgevra oor sy rookgewoonte. Mattous het nié ’n maklike lewe gehad nie. Hy het sy bitter draai deur die Grensoorlog gemaak. Die lewe ná die oorlog was nog meer traumaties, het ek afgelei. Mattous was nie ’n prater nie.
“Hoekom rook jy so baie, Mattous?” het ek eendag gevra.
Hy het na my gekyk, en toe weggekyk oor die Karooklippe. “As ek nié rook nie, Mevrou, dan dink ek te veel,” het hy gesê.
Nooit, ooit weer het ek vir hom iets gesê oor rook nie.