Sarie

JOU LAASTE DAG

-

So, wat sou jy gemaak het as jy geweet het vandag is jou heel laaste dag? Ooit. Sou jy maar daai vyf minute vroeër opgestaan het? Sodat jy genoeg tyd kon hê om vir jou dogter die mooi onderstebo-vlegsel te probeer maak voor skool?

Sou jy die 10 of 15 minute geneem het om tog maar rustig te sit en koffie drink by jou afgetrede ouers?

Sou jy jou sussie gebel en gesmeek het om te kom kuier? Wat maak dit tog saak dat julle al vir jare nie meer met mekaar praat nie? Kon dit só erg gewees het? Sou jy weer en weer ’n laaste keer jou man gesoen het voordat hy by die deur uit is vanoggend?

Ek is seker mens sou foto’s geneem het. So baie as wat jy kon – vir oulaas. Om jou geliefdes se gesigsuitd­rukkings vas te vang.

Ek is seker enige woede wat daar nog oor was, sou onbenullig geword en plek gemaak het vir vrede en die hoop om alles hier op aarde in liefde af te sluit. Baiekeer hoor ons mense sê: “Leef voluit! Benut elke dag!”

Maar wanneer voel alles vol en benut?

Net wanneer jy weet jy het lief en is geliefd. Dan is jy OK om te gaan en te weet dat dié wat agterbly, ook OK gaan wees.

Ons begin elke oggend met ’n nuwe dag sonder om te weet hoe dit gaan eindig. Laat elke dag werklik tel.

Anoniem, Vrystaat

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa