Gelei deur die liefde
Hul families kon eers nie verstaan hoekom twee Italiaanse meisies hul heil sou soek by Masai-krygers nie, maar die liefde het gelok. Vandag beleef hulle albei kulture: die moderniteit van Europa en die eenvoud van ’n lewe in Afrika
Die een is ’n fyngebaksjef, die ander ’n naaldwerkster, en die kans dat dié twee Italianers se paaie ooit sou kruis, was skraal. Maar toe raak Cristina Pedrinzani en Ilaria Belardi albei verlief op Masai-krygers van die Tanga-streek in Tanzanië. En ’n hegte vriendskap word gebore. Want min vriendinne kan saampraat oor slaap in modderhutte of die taboe om jou geliefde in die openbaar te soen, om met jou skoonma op die grond te sit en bokmelktee drink, die kuns van pole pole (stadig) leef en die betowering van ’n sonsondergang oor die savanna-landskap van Tanzanië . . .
Die twee se boek Sotto il cielo di Zanzibar (“Onder die hemel van Zanzibar”), oor hul lewens as Italiaanse expats saam met hul twee Masaigeliefdes, het onlangs by die uitgewers Dialoghi verskyn. (Dis net in Italiaans beskikbaar.) Hier is ’n kykie in hul lewens.
Toe Cristina in 2014 alles in Italië agterlaat vir ’n lewe op Zanzibar saam met ’n “wildvreemde” Masai-kryger, het haar familie en vriende gedink sy is gek. “Ek het my eie huis, ’n werk, ’n motor en ’n Italiaanse kêrel gehad . . . hulle kon dit nie verstaan nie. My antwoord was eenvoudig: My hart is dáár en ek moet gaan,” vertel sy.
Cristina was nog nooit spyt oor die besluit om haar deur die liefde te laat lei nie. Sy en haar lewensmaat, Mosses Razaro Keiya, en hul vierjarige dogtertjie, Raheli Angela (genoem na haar Masai-ouma en Italiaanse oumagrootjie), woon deesdae in Toskane, Italië, maar die gesin gaan steeds elke jaar vir ’n paar maande na Tanzanië.
Dit verskaf haar groot vreugde om twee kulture te beleef: die moderniteit van Europa en ’n eenvoudige leefstyl in Afrika, maar haar hartsplek is die eiland Zanzibar, waar sy Mosses tydens ’n week lange vakansie ontmoet het, vertel Cristina.
Toe sy hom die eerste keer op die strand sien, het haar bene letterlik begin bewe. “Hy het ’n shuka, die tradisionele rooi Masai-rok gedra, ’n groot swaard het aan sy gordel gehang, asook ’n rungu, ’n eienaardige stok waarmee krygers hulself verdedig. En dan was daar sy oë, sy glimlag . . . My hart het byna gaan staan.”
Soos baie ander jong Masai-mans, het hy op dié eiland (dis deel van Tanzanië) gewerk om sy familie finansieel te ondersteun. Bedags het hy by sy stalletjie aandenkings verkoop en saans was hy sekuriteitswag by ’n oord.
Die Kiwengwa-strand is veral gewild onder Italiaanse toeriste. Mosses kan benewens Swahili en sy moedertaal, Maa, ook Italiaans en Engels praat. Hy en Cristina het elke dag op die strand gestap en gesels, al was hy skaam. “Dit was juis vir my aantreklik, so anders as die ander ouens daar.”
Hulle het ná haar vakansie as vriende totsiens gesê, maar sy was skaars ’n maand in Italië, toe is sy terug – die gemis net te groot. Sy het besef haar toekoms lê by hom.
Die reis om sy Masai-familie te ontmoet was ’n avontuur: eers per boot van Zanzibar na Dar es Salaam, toe sewe uur per bus, en nóg ’n uur met ’n motorfiets, ’n “ongelooflike ervaring”. >
Dit het my totaal verander
Cristina Pedrinzani
< Met die wind in haar hare, die rooi grond en eindelose landskappe so ver soos wat sy kon sien. Hul bestemming: die piepklein dorpie Msomera (“jy sal dit nie op ’n kaart kry nie”) in die Tanga-streek.
Al het dit gesukkel met kommunikasie, het haar “skoonma en skoonsusters” soos sy hulle noem, hul eregas baie welkom laat voel. Die kinders het nuuskierig en bangerig nader gesluip – die eerste keer dat hulle ’n muzungu (wit mens) sien.
“Maar almal het soveel moeite gedoen, hulle het besef ek ken nie
’n lewe sonder krag, water of ’n toilet nie. Ek onthou nog die eerste nagte in die modderhut met hoenders en lammertjies onder die “bed”, gemaak uit stokke, strooi en beesvel, en die koue en ’n geblêr wat jou wakker maak . . . Dis vandag steeds nie maklik nie, maar ek is meer voorbereid – ons bring elke keer ’n matras op die motorfiets saam! șDie goggas eet elke keer die matras.ț Ek ken ook al Swahili.”
Sy was verbaas dat mans en vroue apart moet eet, maar sy kon wel saam met Mosses in die bos ’n banket (vir mans) bywoon. Nadat die mans ’n bok geslag en gebraai het, drink hulle die bloed vir krag – daarvoor het sy nie kans gesien nie. Sy het ook gehelp met ’n kalfie se geboorte, om vee te brandmerk en het aan ’n dansseremonie deelgeneem. “Dis ’n ander wêreld!”
Die mense se mededeelsaamheid val haar elke keer op. Die bietjie wat hulle het, deel hulle met mekaar. Hulle het ’n sterk gemeenskapsgevoel en baie respek vir ouer mense.
Sy was geskok deur hul modderige drink- en kookwater, net so uit die grond. Die chai-tee van bokmelk en speserye is heerlik, so ook madazi ,’n gebraaide oliebol, en chapati, platbrode. Hul stapelvoedsel is ugali, mieliepap met tamatie-of spinasiesous.
Die vroue werk hard, versamel brandhout, bou huise, maak kinders groot, dra water aan, kook en was klere. Die mans pas beeste op en werk op die landerye. “Alles is pole pole ,dit beteken stadig in Swahili, dinge gebeur langsaam. Later, toe ons op Zanzibar gewoon het, het ek van hakuna matata geleer, om jou nie te kwel nie.”
Sy en Mosses was sowat ’n jaar op Zanzibar waar sy onder meer as ontvangsdame in ’n hotel gewerk het. “Ons het in ’n sinkhuisie gewoon, met geen lopende water, TV of wasmasjien nie en wisselvallige krag. Ek het gesien hoe mense van byna niks leef nie, hoe Swahili-vroue seewier eet. Saans ná werk het ons strandlangs gestap met ’n hemel vol helder sterre bo ons. Daar het ek die ware betekenis van die lewe ontdek, hoe geluk in klein dingetjies lê.”
Sy was sewe maande swanger toe hulle moes terugkeer na Italië, vir beter en gratis gesondheidsorg. Sonder haar inkomste was ’n eilandlewe en hospitale net te duur.
Hulle neem gereeld vir Raheli na haar Masai-familie in Tanzanië. Sy is mal daaroor om met haar niggies en nefies te speel, of om by haar ouma te sit. So leer sy wat ’n gemeenskap is, om respek vir ouer mense te betoon – waardes waaroor Mosses sterk voel.
In die savanna is hul lewe eenvoudig. Cristina help dikwels om kos te kook, en sy het al selfs probeer om ’n koei te melk, tot groot vermaak van almal. Sy sit saam buite die hut en gesels, of leer hoe om juweliersware van krale te maak. “Dis elke keer ’n verrykende ervaring, die ongereptheid van die landskap, die vreedsaamheid, die mense . . . Dit het my heeltemal verander.”
Haar ouers het Mosses as deel van hul familie verwelkom, maar hy sukkel om in Italië ’n vaste werk te kry, al het hy hoërskool-Italiaans. Hy kry dikwels net kontrakwerk as arbeider en sy doen naaldwerk waar sy kan. “Ons droom daarvan om eendag na Zanzibar terug te keer.”
Dit was ’n emosiebelaaide dag wat sy nooit sal vergeet nie. In haar tradisionele pers kleed, versier met metaalstukkies, het Ilaria na haar Masai-bruidegom gestap. In die boma het hulle op ’n beesvel geknie terwyl senior stamlede in ’n kringetjie om hulle staan en in Maa bid – en uiteindelik koeimelk op hulle spoeg om die huwelik te seën. Daarna het hulle huis toe gestap sonder om terug te kyk – die teken dat die verlede agter hulle is.
Ilaria en haar man, Kashuma Sauti Nakaru (sy noem hom op sy Italiaanse naam, Andrea), het mekaar in ’n dansklub op Zanzibar ontmoet – sy was ’n fyngebaksjef by ’n vyfsteroord in Kiwengwa aan die ooskus, hy het ’n stalletjie op die strand bedryf.
“Ons het mekaar se geselskap geniet, ek was mal oor sy empatiese geaardheid, en sy lewensvreugde was aansteeklik. Ná ’n jaar en ’n half het ek in Londen gaan werk, want my loopbaan is vir my belangrik. Andrea het my elke dag gebel en ek kon ook nie ophou dink aan hom nie. Agt maande later is ek terug sodat ons oor ons toekoms kon besin. Ons is in Desember 2015 getroud – eers in Italië, toe in die savanna in Mei 2016. Ons woon nou in ons eie huis in Toskane, waar ek as sjef werk en hy as sjef-assistent. Ons dogtertjie, Mia, is twee jaar oud.”
Hulle was in ’n tweestryd oor waar om te woon – albei is lief vir Zanzibar, maar in Italië is salarisse hoër en Mia kon daar ’n beter skoolopleiding kry.
“Andrea is nou al goed ingeburger, hy het baie vriende en my ouers het hom dadelik aanvaar, maar hy verlang ook soms na die savanna. Ek maak graag geregte wat gewild is in sy land, soos pilau, speserygegeurde rys met vleis.
Ons bring altyd speserye en mieliemeel terug van ons kuiers om sy geliefde ugali
te maak.”
Andrea se tuisdorpie, Majari, is nie ver van Mosses se dorp nie, wel nader aan Handeni, ’n groot dorp. Verlede jaar het die gesin ’n hele paar maande in Tanzanië gekuier. Daar huur hulle ’n kamer naby sy ouers, met ’n toilet en warm water. Ilaria het gou besef die lewe in ’n hut was nie vir haar nie. “Mia is boonop mal daaroor om in die grond met al die maatjies te speel, sy is later bloedrooi daarvan!”
Ilaria is uit die staanspoor met groot glimlagte ontvang. Sy het ’n noue band met haar skoonsuster. “Sy het my geleer om kruie en plantwortels as medisyne teen kwale soos maagpyn in te span, en dat gesmelte bokvet met ’n hoes kan help. Ook hoe om vuur te maak. Sy was baie jonk toe sy met Andrea se broer getroud is. Baie huwelike word deur die familie gereël, en soms is so ’n bruid maar vyftien jaar. Die man se familie betaal sowat vyftien koeie.”
Die mark met sy klanke, kleure en smake was dadelik haar gunstelingplek. Sy verlustig haar elke keer aan die tropiese vrugte, gekleurde kangas
(tradisionele Swahili-lappe vir rompe of tafeldoeke), goeie tee en lekker geselskap. Daar koop jy ook katambugu
– Masai-sandale gemaak van ou motorbande.
Die tradisies, kultuur en sterk identiteit fassineer haar. Soos die merke op die Masai se voorkop en wange, en die gebruik om kleintyd hul onderste snytande uit te trek. Hulle glo ook aan poligamie, maar weens die swak ekonomie kies baie jonger mans deesdae net een vrou. En sy het gesukkel om gewoond te raak daaraan dat haar man haar nie in die openbaar kan soen of ’n drukkie gee nie.
By die Masai-vroue het sy baie geleer, vertel Ilaria. “Oor deursettingsvermoë, krag en geduld. Hulle is sterk en beeldskoon. Hulle verloor nooit hoop nie, maar bly glimlag, selfs al is die lewe wreed. Soms sterf hul kinders aan malaria of ander siektes, maar hul geloof in hul god bly onwrikbaar. Ons familie is self in rou nadat Andrea se een broer siek geword en gesterf het; hy was in twee hospitale maar hulle kon nie vasstel wat skort nie. Dis hartverskeurend.
“Die Masai ag die rol van die vrou in die gemeenskap as minder belangrik as die man s’n, tog het die hele stam hul bestaan aan vroue te danke. Hulle sorg vir álmal. Ek hoop dit verander, dat vroue eendag ’n stem sal hê.”
Deesdae besef baie van die jonger Masai-mans wat op Zanzibar aan die Westerse kultuur blootgestel is, dat vroue en mans gelyk is, en Andrea behandel haar met respek, en nie as sy mindere nie, vertel sy.
Die een ding wat wel vir hom moeilik is om te begryp, is hoe belangrik dit is om te spaar. “In Tanzanië ken hulle dit nie en oorleef van dag tot dag. Hulle verstaan nie die konsep dat jy vandag moet spaar om môre iets te hê nie.”
Sy voel sterk oor die krag van vroue en is trots op die geldinsamelingsprojek wat sy en Cristina begin het om aan die Masai-gemeenskap te kan teruggee. Hulle het reeds die eerste geld oorgedra aan ’n nieregeringsorganisasie wat ’n skool vir 40 Masai-kinders in Arusha in die Mungere-distrik in Tanzanië bou. “Ons kan nie wag om te gaan kyk hoe dit vorder nie!”
Die Masai-vroue het my van deursettingsvermoë geleer
Ilaria Belardi