’nAndErste huwelik werk
Hy is ’n topfotograaf wie se safari’s hom wêreldwyd neem. Sy ’n ‘Sandton-girl’ met aspirasies vir ’n eie velsorgkliniek. Marlon du Toit is soms tot 200 dae per jaar weg van die huis terwyl Lourette die fort tuis hou. Daar is heelparty raakpunte – én verskille. Hoe werk dié huwelik?
’n Huwelik is nie vanself gelukkig nie. Jy máák dit gelukkig. Woorde van die Amerikaanse verhoudingsblogger Fawn Weaver waarmee talle gelukkige pare sekerlik sal saamstem.
Die internasionaal bekroonde wildfotograaf en fotosafarigids Marlon du Toit en sy vrou, Lourette, ’n vel- en laserspesialis, woon in Randburg en is die ouers van twee jong kinders, Jack en Rouxlé. Hul huwelik stel ekstra uitdagings.
As mede-eienaar van Wild Eye SA, wat foto-safari’s onderneem, en ambassadeur van groot handelsmerke soos Sony Alpha SA en Swarovski, is Marlon tot 200 dae per jaar oorsee vir besigheid. Hy het ’n indrukwekkende Instagramprofiel met 170 000 volgelinge (@marlondutoit), sy foto’s verskyn in toppublikasies soos National Geographic en hy skuur soms skouers met bekendes soos Bruce Springsteen en Martha Stewart. Verlede jaar was hy selfs
’n gas op Jimmy Fallon se The Tonight Show.
Lourette koester ewe hoë ideale. Sy werk voltyds as bestuurder van Dermology, ’n estetiese laser- en velsorgkliniek in Sandton, wat sy hoop om binnekort te koop. Vanjaar is sy deur Professional Beauty as bestuurder van die jaar aangewys en sy lewer gereeld praatjies by plaaslike en internasionale konferensies oor somatologie (vel- en lasertegnologie). Sy hou die fort tuis terwyl Marlon weg is.
Toe hulle mekaar in 2008 by die Singita Lebombo Lodge in die Krugerwildtuin ontmoet het, het hulle saans lekker gesels en gelag om die lapavure. Lourette, ’n plaasnooi van De Doorns in die Boland, het in daardie stadium daar as spaterapeut gewerk.
Gou het die ou van Hoedspruit besef: Hy hou van dié vrou. En later dat hy met haar wil trou. “Sy is ’n vasbyter en kan op haar eie aangaan. Haar onafhanklikheid is een van die dinge wat my van die begin af aangetrek het.” Bo en behalwe haar skoonheid, lag hy.
Sy weer het die safarigids met sy kakiedrag en stowwerige skoene verfrissend gevind. “Ek was mal oor sy aardsheid.”
Marlon: “Sy bry lekker en is spontaan en nie vol fiemies nie. Haar kop is reg aangeskroef.”
En Lourette: “Ek kon sommer sien hierdie ou het dryfkrag. Hy is bekroon vir sy foto’s en internasionale gaste wou altyd saam met hóm op safariritte gaan.”
Hy lag wanneer hy vertel hoe Lourette uitrustings beplan vir die bos. “Sy is nie die kampeer-tipe nie. Sy hou van luukse tentkampe, hakke en grimering en lekker ruik. Sy is ’n Sandton-girl, terwyl ek nie omgee om vuil te word nie.”
Maar hulle deel ’n ontsaglike liefde vir diere en die bos. En natuurlik hul kinders.
Stefan Blom, ’n sielkundige en verhoudingsterapeut van Kaapstad, meen paartjies met soortgelyke voorkeure, waardes, kommunikasiestyle en tydverdrywe se verhouding het ’n sterker kans op oorlewing en geluk. “Die groot probleem is nie soseer mense wat verskil van mekaar nie, maar wanneer hulle nie oor hul verskille kan praat nie. En kan julle saamstem oor kinderopvoeding en hoe julle jul geldsake gaan bestuur, is jul kop deur.”
Gevaarligte moet begin flikker as paartjies nie meer tyd saam wil spandeer nie. “Dit verg meer as om net
’n goeie span te wees, dit vereis ’n konstante proses van belangstelling, leer, groei en deel wat die verhouding sinvol en lekker maak,” sê hy.
Dít is wat Lourette en Marlon se storie kennelik laat werk – die baie raakpunte ondanks verskille. >
Lourette vertel . . .
Prestasie is haar ding.
Lourette was hoofmeisie van die Hoërskool Hexvallei op De Doorns naby Worcester. Sy was in die eerste netbalspan en het altyd eerste gekom in 100 m-naellope.
“Ek het gehou van wen.”
Toe die beeldskone spaterapeut en aantreklike wildbewaarder mekaar in 2008 ontmoet, het hulle dadelik gekliek. Aanvanklik net as vriende. “Ons was vier jaar lank net goeie vriende . . . altyd ’n goeie basis vir ’n verhouding.”
Sy liefde vir diere het die plaasmeisie week gemaak. “Op ’n plaas is daar mos baie diere: katte, honde, hoenders. Ek het op skool selfs ’n troetelvark, Katryn, gehad.”
Boonop het hy gewoeker as fotograaf en safarigids. “Sy ambisie het my dadelik aangetrek.”
Een ding het tot die volgende gelei en in 2014 is hulle in haar geliefde wynlande op De Doorns getroud.
“Die wittebrood was ’n sprokie. Ons is ’n week lank na die Maasai Mara-natuurreservaat in Kenia.” Sy vertel van die Masai, “die lang, dun manne met hul rooi klede”, die natuurskoon, mooi sonsondergange, die ongelooflike wild.
Een van Marlon se beste eienskappe, sê sy, is dat hy ’n betrokke pa is. “Hoewel hy baie reis, gee hy al sy aandag aan die kinders wanneer hy tuis is. Hy neem ons op uitstappies na wildplase, ons braai en hy speel met hulle.”
Die alleenheid pla haar nie meer nie. “Jy raak gewoond daaraan. Ek het mos geweet ek trou met ’n ou wat baie reis. Dit was moeilik toe die kinders klein was, veral omdat my ouers ver woon. Maar mettertyd raak jy gewoond aan jou roetine.”
Lourette, wat ’n driejaardiplomakursus in somatologie aan die Isa Carstens Akademie op Stellenbosch gevolg het, het boonop ’n passie vir haar werk. “Ek hou van die mediese sy daarvan. Dit is wonderlik watter verskil dit aan mense se lewe kan maak: enigiets van ’n swak selfbeeld weens geboortevlekke, letsels tot velprobleme soos aknee . . .”
Marlon is my rots. Hy glo in my en motiveer my
Lourette
Als wat kán verkeerd loop, gebeur wanneer Marlon op die vliegtuig klim, gee sy laggend toe. Van die garagedeur wat breek, tot ’n kat wat ’n rot in die huis bring . . . En toe loop hy boonop Jack se geboorte mis. “Hy was in Brasilië vir werk. Toe is daar komplikasies en ek moes ’n noodkeisersnee kry. Jack was tien dae in ’n broeikas . . .”
Hulle is daardeur. “Marlon is my rots. Hy glo in my en motiveer my.”
En sy glo hul gedeelde visie – om te woeker en altyd hul beste te gee, om elke geleentheid aan te gryp – is deel van hul wenresep.
“Die vuur is altyd daar. Ek is eenvoudig versot op hom.”